Awie & Marian Nuusbrief – Aug 2017

Sondag 27 Augustus 2017

Hallo julle almal.

Uiteindelik het ek by my nuusbrief uitgekom. Ek was vir twee weke weg van die huis af. Dit was ‘n baie rowwe tyd gewees, maar geestelik baie geseënd. Ek was eers Namibië toe vir my uitreik, maar voordat ek Nam toe is, het ek ‘n uitnodiging van my ousus se dogter uit Carletonville gekry om die 70ste verjaarsdaggeleentheid van haar ma by te woon. Aanvanklik het ek nie kans gesien nie, want dis ver en te duur vir my om met die voertuig daarheen te ry. Gelukkig kon ek toe ‘n geleentheid saam met ‘n vriend terug kry. Daarom het ek maar besluit om met die Interkaap op te ry. Wie weet of ons mekaar weer sal sien? Ons ken mos almal die spreekwoord wat sê; “Gee liewer blomme solank iemand nog lewe!”

My uitreik was weereens wonderlik en baie geseënd! In Namibie het ek een namiddag op ‘n plaas gekuier by ‘n vrou wie se man so ‘n paar maande gelede oorlede is. Terwyl ek daar gekuier het, net voordat ek wou ry, het haar skoonseun wat op die buurplaas boer, daar aangekom. Ons het mekaar vir die eerste keer ontmoet en hy het my spontaan uitgenooi om ook eendag by hulle op die plaas te kom kuier. Soos altyd laat ek nie gras onder my voete groei nie en sonder ‘n afspraak na hulle toe gery. Dis een van die verste plaasopstalle van die grootpad af. Iets soos sestien kilometer se tweespoorpadjie tot by hulle huis. Ek het later gewonder of ek nie vedwaal het nie, maar toe ek daar by die huis stop, het hy, sy vrou en alwee hul seuntjies, uit die huis gekom om te kyk wie kom daar aan, want hulle kry bitter min vreemde besoekers, omdat hulle so ver van die pad af bly en omdat daar geen naamborde is wat die pad aanwys nie. Aanvanklik het hy my glad nie herken nie, maar toe ek my voorstel, het hy onthou wie ek was. Ek het vir hulle agterna gesê, as ek vir my vriende moet vertel hoe hartlik en gasvry die Namibiërs is, sal min van hulle my regtig glo! Dit was reeds laat namiddag toe ek daar gestop het en hierdie vroutjie het dadelik vir my gesê om my tasse af te laai en in te kom, “want..”, het sy gesê, “ek het ‘n baie groot stryd en wroeging in my siel, daarom weet ek die Here het oom vandag hierheen gestuur. Oom slaap vanaand net hier by ons, in die huis!” Gewoonlik sê ek vir nuwe mense wat my nie ken nie dat ek sommer in my bakkie se kap slaap, maar hierdie jongmense wou dit glad nie aanvaar nie. Hulle het dadelik vleis uit die vrieskas gehaal en daardie aand het ons heerlik, eers om die braaivleis vuur en later om die kombuistafel, tot eenuur die volgende oggend gekuier en diep geestelike dinge gepraat. Hulle het hul harte teenoor my oopgemaak en was baie ontvanklik vir alles wat ek met hulle uit die Woord gedeel het, maar ek sal nog weer by hulle moet uitkom vir ‘n goeie opvolgbesoek of twee. Gelukkig het hulle my baie hartlik uitgenooi om weer by hulle te kom kuier.

Hierdie besoek het my só laat dink aan die woorde van Heb 13:2 “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.”   

Ek het ongeveer 700km afgelê, elke nag op verskillende plase oorgeslaap en elke dag al die plase op my roete besoek. Dit was ‘n baie koue week gewees, daarom was ek regtig baie gelukkig om die meeste boere by hul huise te kon kry. Ek het onder andere weer by die twee gesinne waarvan ek in my laaste twee nuusbriewe geskryf het, besoek afgelê; onder andere die vrou wat ek in Juniemaand besoek het, wat alleen op die plaas was, omdat haar man haar ouers Windhoek toe gevat het vir mediese toetse. As julle nog kan onthou, het ek die evangelie met haar gedeel en vir haar die vraag gevra of sy sekerheid van saligheid het, voordat ek gery het. Ek het haar net so gelos en drie dae later het ek op pad terug weer daar aangery en toe het sy vir my vertel hoe sy nie snags kon slaap nie, omdat sy bang was om dood te gaan, maar dat sy toe ware vrede by die Here gekry het.

Die tweede keer was haar man en ouers ook by die huis en het ek die evangelie baie reguit en op die man af met haar man en ouers gedeel, terwyl sy ook bygesit het. Dit het veral die oom en sy skoonseun se harte diep geraak, maar ek het niemand tot ‘n oorgawe gedwing nie, omdat ek nie gelei gevoel het om hulle in mekaar se teenwoordigheid so persoonlik te konfronteer nie. Nou het ek weer ‘n besoek daar afgelê, maar die oom en tannie was in die veld en haar man was saam met ‘n klomp ander boere op ‘n jakkals-jag ekspidisie! Bid saam met my dat ek spoedig ‘n geleentheid sal kry om hierdie twee gesinne afsonderlik te kan besoek, sodat ek die yster kan smee terwyl hy nog warm is!

Ek was baie gelukkig om vooraf drie oorslaap geleenthede te kon reël, aangesien ek besef het dat dit baie koue nagte sou wees en ek nie so gemaklik in my bakkie se kap sou kon slaap nie. Natuurlik wou ek baie graag by die gesin gaan oorslaap het waar die man met my vorige besoek ‘n persoonlike erkenning teenoor my gemaak het dat hy ‘n baie groot probleem het en hulp dringend nodig het. Ek kommunikeer met meeste van die mense (man, of vrou, of beide) by wie ek al besoeke afgelê het, deur middel van whatsapp. Hierdie vrou het vir my laat weet dat haar man reguit nee sê dat ek die aand daar kon kom oorslaap.  Ek was nogal baie platgeslaan daaroor, want ek wou só graag daar uitkom, omdat ek hom bitter graag met sy probleem wil help, maar hy wil my duidelik nie daar hê nie. Gelukkig werk God mos op maniere ver bo ons gedagte en planne.

Die Heilige Gees gee my toe die idee om hierdie mense se seun, wat ek met my vorige besoek net vinnig ontmoet het, te vra of ek nie by hom en sy gesinnetjie ‘n besoek kon aflê nie.  Hulle nooi my toe hartlik uit om daarheen te kom en wat ‘n ongelooflike geseënde geleentheid was dít toe nie gewees nie! Ek besef toe net agterna: dit was ‘n afspraak deur die Here gemaak.  Ek het geweet dat hierdie jongman vir sy pa se buurman boer en nie vir sy pa of vir homself nie, maar ek het nie geweet dat hulle in ‘n plaashuis op een van sy pa se plase bly nie. Hoor nou net hoe werk die Here: toe ek so amper ‘n kilometer voor die plaashuis by ‘n plaashek stop, was dit met ‘n nommer slot gesluit, want ek het deur ‘n klomp plase gery en nie grootpad langs soos hulle gedink het nie. Dit kos my toe oor die hek spring en na die plaashuis toe stap. Toe ek daar aangestap kom, sien sy pa my aangestap kom. Die het juis toe net by sy plaasslaghuis uitgekom. Dit was al sterk skemer en hy kon my nie herken nie en ek kon hom ook nie herken nie. Hy het nie geweet ek kom slaap die aand by sy kinders oor nie en nie een van ons het mekaar daar verwag nie. Toe hy my sien, het hy baie skuldig gevoel en dadelik verskoning gemaak waarom hy nie wou hê dat ek na hulle toe moes kom nie. Glo omdat hy altyd so laat saans in die week werk, maar toe kry ek my hou in en sê vir hom reguit, “Julle behoort nie eers aan ‘n kerk nie en gaan al vir jare na geen kerk toe nie, terwyl julle getuig dat julle kinders van die Here is, maar jy het nie een aand tyd as ek met julle geestelik wil kuier nie!” Só gee die Vader toe vir my die geleentheid om met hierdie man ‘n goeie kuier in te kry, terwyl sy seun en skoondogter nog op die buurplaas was. Sy was besig om lone uit te betaal en hy was saam met haar. Ons het naby aan ‘n uur kans gekry om stoksielalleen te staan en gesels. Die volgende oggend was hy weer vroeg daar op die plaas en bring toe vir my ‘n stukkie biltong en lemoene van sy plaas af saam. Gelukkig kon ek toe ‘n baie lekker geestelike kuiertjie inkry voordat ons uitmekaar is. 

Maar, toe hierdie jongman en sy vrou daardie aand daar by die huis aankom het ons so lekker om die kombuistafel gesit en kuier… tot vieruur daardie oggend! Ons het die Bybel voor ons op die tafel oopgehad en net Woord gepraat. Sy nefie wat uit Swakopmund by hom gekuier het, het later gaan slaap, maar hierdie jongman en sy vrou was honger vir die Woord. Hy getuig teenoor my dat hy al ‘n ontmoeting met Jesus gehad het, maar sy vrou was stil en skaam, alhoewel sy later baie meer oopgemaak het. Ek het natuurlik soos altyd eers die evanglie mooi vir hulle verduidelik en toe het hulle baie vrae gehad. Ek het hulle so jammer gekry, want hulle het so laat by die huis gekom en moes weer die volgende oggend sewe-uur inval, maar hy of sy wou eenvoudig nie gaan slaap nie! Hulle het aanmekaar gesê, “Oom, jy verduidelik alles só mooi, ons vertaan alles. Die Woord gaan regtig vir ons oop!” So het ek ook daardie nag net drie ure slaap ingekry, terwyl ek al die ander nag van die uitreik eers eenuur die oggend gaan slaap het. Marian sê altyd, as ek by die huis kom na só uitreik is ek soos ‘n wandelende lyk en ‘n stormram. Niemand weet regtig hoe uitputtend is só ‘n uitreik nie, want elke aand kry ek nuwe vars bene en in die dag ry ek ook nog van plaas tot plaas. Dis geweldig sielsbevredigend om met al die verskillende gesinne op die plase geestelik te kuier, maar dis geweldig hard op my wat elke aand by ‘n ander gesin oorslaap en altyd skerp moet wees!

Ek het regtig baie gesinne besoek, en met almal het ek die evangelie gedeel. By geleentheid het mense my probeer oorhaal om die nag daar by hulle oor te slaap, maar ek kon nie, want ek het afsprake gehad wat ek moes nakom en boonop het die meeste mense waar ek die keer gekuier het, geen wifi ontvangs gehad nie. Ek het byvoorbeeld Dinsdagoggend, voordat ek weg is op die plaas, met Marian kontak gehad en toe eers weer Donderdagaand. Gelukkig kan ek regtig ervaar hoe die Here my op elke pad bewaar, dat ek elke keer op ‘n uitreik gaan sonder om teenspoed te ervaar. Die paaie van Namibië was seker die slegste wat ek dit nog ooit gesien het, want die Namibiese regering het nie geld om die padkontrakteurs te betaal nie. Die gruispaaie waarlangs ek gery het, is vier maande laas geskraap. Plek-plek het my bakkie se onderstel op die middelmannetjie gesleep en het die gruisklippe só hoog lê dat, ek bevrees was dit sou my bakkie ernstig beskadig. Ongelukkig kan mens dit nie op ‘n foto vaslê nie en dan is die Namibiese regering nie eers skaam om van elke RSA voertuigeienaar R277 padfooi te eis nie! Na bewering moet die padfooie bydra om die staatsamptenare se salarisse te help betaal en daar het reeds ‘n klomp staatskole gesluit, omdat die onderwysers nie meer salarisse kry nie. Dit gaan eintlik baie slegter in Namibië as wat meeste van ons ooit verwag het, maar dit voel eerlik vir my asof die geestelike nood ook al groter word soos die koms van die Here Jesus al nader kom.

Twee van die gesinne by wie ek oorgeslaap het, het mý gebel en gevra dat ek asseblief weer ‘n slag by hulle sal kom kuier en sommer oorslaap, want hulle verlang na al die geestelike gesprekke wanneer ek by hulle kuier. Dit was regtig vir my baie bemoedigend om te hoor mense by wie ek lanklaas was, mis die geestelike kuiers, want streng gesproke is ek die enigste geestelike leraar wat in die suide van Namibië van plaas tot plaas ry en mense met die Woord bedien en tog is daar nog baie dele in die suide waar ek nog nie was nie en nie weet of ek ooit daar sal uitkom nie.  Die area is geweldig wyd en sommige plase is vir my met my tweewiel-aangedrewe bakkie onbereikbaar. Ek het onder andere ‘n plaas besoek waar ek ook nog nooit voorheen was nie. Toe ek aan die einde van die besoek vir die man en vrou vra waarvoor wil hulle hê moet ek vir hulle bid, het hierdie vrou my gevra om asseblief vir haar te salf en hande op te lê en te bid omdat sy ‘n krankheid in haar liggaam het. Die meeste van die gesinne wat ek die keer op my uitreik besoek het, behoort eintlik aan geen kerk nie. Mense, julle mag dalk my nuusbrief gereeld lees, maar niemand weet regtig hoe groot is die oesland in Namibië nie! Daar is talle boere met ‘n drankprobleem en niemand wat hulle kan help nie. Dit herinner my aan Matt 9: 35 – 38 “En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en hulle in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig en elke siekte en elke kwaal onder die volk genees. En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie. Toe sê Hy vir sy dissipels: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes sal uitstuur.” 

Baie dankie vir elkeen wat al vir my Bybels geskenk het. Ek deel op elke uitreik Bybels uit aan almal, swart, bruin en wit. Met hierdie laaste uitreik het ek ongelukkig meer Afrikaanse as Engelse Bybels uitgedeel en toe soek iemand op ‘n plaas ‘n Ou Vertaling Bybel by my en daar het ek nie meer een by my nie! Ek kon regtig die teleurstelling op sy gesig sien. Daardie Bybels kry regtig honger lesers. Ek het by geleentheid vir ‘n swart Polisiebeampte aan die RSA kant ‘n Engelse Bybel gegee. Hy bedank my elke keer as hy my sien. Vir hom was dit ‘n geweldige kosbare geskenk wat ek vir hom gegee het. Ek plaas ook gereeld traktaatjies en Johannes evangelies by beide grensposte. As ek weer daar kom, is dit weg. Die doeanebeamptes sê elke keer vir my mense van alle kleure vat dit saam. 

Bid assblief vir my werk in Namibië en vir elke siele met wie ek die evangelie van Hoop in Jesus deel, dat die Heilige Gees self die oortuigingswerk sal doen en siele uit genade sal red. Bid ook asseblief vir my dat die Here so sal voorsien dat ek volgende jaar my werk steeds in Namibië sal kan voortsit, aangesien my borg van vyf jaar die einde van hierdie jaar verval.

Dankie vir elkeen wat steeds getrou vir ons bid en ons ondersteun het in die amper vyf jaar wat soos oogknip verby gevlieg het.

Groete in Jesus

Awie en Marian van Wyk

 KALAHARI BEDIENING

Ds Awie en Marian van Wyk

Epos: awievanwykkalahari@gmail.com

Selno: 0788435317

Absa spaar: Kalahari bediening

Rek no: 9157947613

Posadres: Posbus 56

ASKHAM

8814

Posted in sending.