Wie is ons?
Gemeente EG Kerk Tygerberg
Ons predikante en hul gesinne
Ds. Ian en Mev. Danelle Coetzee en hul kinders

Ds. Gerhard en Mev. Christine Kruger en hul kinders

Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika
Die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (EG Kerk SA) is 'n lewenskragtige evangeliese kerk wat op 'n Gereformeerde grondslag berus. Die Kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare en foutlose Woord van God.
Christus en die kruis is die middelpunt van die boodskap wat deur die Kerk uitgedra word. Tereg kan saam met die apostel Paulus gesê word: “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as gekruisigde” - 1 Kor. 2:2.
EG Kerk SA: Missie & Visie
Die Kerk stel hom die volgende ten doel:
- Om die Drie-Enige God te verheerlik en sy Koninkryk uit te brei.
- Om die suiwere vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in krag van die Heilige Gees te verkondig. Ons doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, nl. om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hul verhouding met God reg te stel. 'n Veranderde hart en nuwe lewe lei dan noodwendig tot 'n horisontale versoening en 'n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
- Om voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap, om daardeur te waak teen verval in dooie formalisme. Leersuiwerheid moet gepaard gaan met egte lewensvroomheid.
- Om hom te beywer vir die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur die kinders van die Here op te roep tot ware Bybelse Heiligmaking en Vervulling met die Heilige Gees en so to te rus vir hulle dienswerk.
- Om as Kerk dinamies te wees vir tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
- Om 'n ware tuiste te wees vir evangeliesgesinde gelowiges wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in 'n Evangelise-Gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
- Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy/haar besondere gawes te werk vir uitbreiding van die Koninkryk van God in die wêreld, d.w.s. 'n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
- Om die gemeente in die algemeen en in elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling en toegespitste ampsbediening van Leraar en Kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
- Om die getroue toepassing van die norme van die Woord van God te handhaaf.
Wat verkondig ons?
Opsommende leerstellings van die Kerk
- Die Bybel is die onfeilbare en ewige Woord van God en is woordeliks geïnspireer
- God is enig in Wese en tog onderskeie in drie Persone, nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
- Jesus is die ewige en enige Seun van God, wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
- Die mens is van nature in ‘n gevalle en verlore toestand. Sy totale verdorwenheid en onvermoë tot geestelike deugde maak wedergeboorte noodsaaklik om die koninkryk van God te kan beërwe.
- Die verlore sondaar kan redding uit sy/haar verlore toestand alleen deur genade bekom, deur geloof in die plaasvervangende dood en die vergote bloed van Jesus Christus, ons opgestane Heer, Heiland en Verlosser.
- ‘n Persoon moet deur belydenis en bekering van sonde Jesus Christus bewustelik aanneem as sy/haar persoonlike Saligmaker en Verlosser, waar God die werk van wedergeboorte in die hart van die mens doen, sodat so ‘n persoon hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is dus ‘n daad wat God doen op grond van die versoeningsbloed van Christus, wat die mens bewustelik in hierdie lewe ondervind en waardeur hy/sysekerheid van saligheid ontvang.
- Die vervulling met die Heilige Gees vir die kind van God is noodsaaklik. Dit stel hom/haar in staat om heilig en oorwinnend te lewe asook om vir God te getuig en siele vir Christus te wen – d.i. die ampsbediening van die gelowige.
- Die ware Kerk, die liggaam van Christus, bestaan uit almal wat weergebore is oor die ganse wêreld, van watter taal, land of nasie hulle ook mag wees. Daarom mag alleen hulle wat lede van hierdie Kerk is, as lidmate van die gemeente en so van die Kerkgenootskap toegelaat word.
- Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir Sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
- Christus se groot sendingopdrag aan Sy kerk: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom”, moet gehoorsaam word deur plaaslike en wêreldwye evangelisasie.
- Die persoonlike wederkoms van Jesus Christus voor die duisendjarige vrederyk word bely. (Die wederkoms van Christus geskied in twee fases. By die eerste fase, wat net tot in die lug sal wees, kom Jesus sy kinders wegneem. By die tweede fase kom Hy tot op die aarde om hier saam met sy heiliges te regeer.) Hierdie beskouing van die wederkoms staan bekend as Chiliasme.
- Die Kerk bely die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en vreugde in die hemel en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf – die poel van vuur.
Vir meer inligting omtrent die kerk se grondslag, boodskap en leerstelling besoek gerus die EG Kerk se webtuiste by www.egkerk.co.za.
