2017-05-22
Hallo liewe vriende.
Ek is só opgewonde om die nuus van my laaste uitreik met u te deel, want dit was sekerlik een van my geseëndste uitreike ooit! Soos altyd, was ek vooraf maar baie op my naarheid en gespanne oor my uitreik, al bid ek baie voor die tyd dat die Here my paaie sal gelykmaak, maar dit was werklik ‘n geseënde tyd gewees. Ek het laas Saterdagoggend vertrek van my huis af, want ek het vooraf ‘n huisbyeenkoms vir Sondagoggend gereël op ‘n plaas waar ek al verskeie male in die verlede ‘n huisbyeenkoms gehad het. Op pad daarheen, so 350 km van Askham af, het ek ‘n paar plase in Namibië besoek en die Saterdagaand so dertig kilometer voor die plaas waar ons Sondagoggend die byeenkoms gehad het, oorgeslaap. In die verlede was ons soms meer as tien mense by so ‘n byeenkoms, maar gewoonlik is ons minder. In die begin het ons baie mense uitgenooi na ons byeenkoms, maar hulle het of baie verskonings gehad, of gesê hulle sal probeer om te kom en dan daag daar selde iemand op. Hierdie keer het ek besluit dat ek Maandagoggend die pad wil vat en van plaas tot plaas wil ry, van net voor Twee Riviere in Namibië, af met die Auab rivier, tot by Mata Mata se hek in die Namibiese kant, omdat ek nog nooit voorheen daardie roete gedoen het nie en omdat die plaas waar ons die byeengekoms gehou het, min of meer in die helfte lê, tussen Twee Riviere en Mata Mata.
Die Heilige Gees het my baie duidelik gelei dat dit die regte tyd is om daardie boeregemeenskap beter te leer ken. Ek het agterna maar net weer besef daar is niks só doeltreffend soos ‘n persoonlike besoek, waar ek mense by hulle huis met die evangelie kan bedien nie! Daar waar mense die gemaklikste is en maklik hul harte kan oopmaak as daar iets is wat hulle pla!
Sondagmiddag het ek al my eerste nuwe gesin besoek, nie ver van die plaas waar ons die oggend ons huisbyeenkoms gehad het nie. Na die diens het iemand telefonies vir my ‘n afspraak gemaak, want hulle is goed bevriend met die gesin waar ek ‘n besoek wou aflê. Ongelukkig kon ek nie lank kuier nie, want hulle was besig om alles reg te kry om Maandagoggend baie vroeg Windhoek toe te ry, maar dit was sonder enige twyfel ‘n afspraak van die Here. Ons het mekaar glad nie geken nie, maar hulle het my goed ontvang, alhoewel hulle baie skepties teenoor my was. Anders as met die meeste van my besoeke, het ons gesprekke feitlik dadelik ‘n geestelike wending ingeneem. Hulle het my uitgevra oor my geloofsoortuigings en verskille met die NG kerk. Omdat dit nooit die motief van my besoeke is om oor Kerkverskille te praat nie, het ek my getuienis van bekering en wedergeboorte met hulle gedeel, soos die Here my gelei het, maar ek was geskok en ontnugter toe ek agterkom hoe min kennis mense van God se Woord het. Natuurlik het hulle van my verskil oor bekering en wedergeboorte omdat hulle anders geleer word. Hulle glo dat bekering nie nodig is nie, omdat hulle uitverkies is om hemel toe te gaan en daarom is die kinderdoop volgens hulle deel van iemand se redding omdat dit die verbond is wat ouers met God sluit wanneer hulle hul kind ten doop bring. Die doop het dus die besnydenis vervang en daarom word ‘n baba deur die doop by God se ewige verbond en saligheidsplan ingesluit. Hulle het dit pertinent beklemtoon dat niemand van ons enige iets van ons kant af kan doen om saligheid te ontvang nie, maar dat God jou gekies het om eendag hemel toe te gaan, sonder dat jy ‘n keuse het. Wedergeboorte kon hulle eintlik glad nie vir my verduidelik nie, want hulle verstaan dit ook nie. Die man het net vir my gesê dat wedergeboorte iets is wat daagliks in mens se lewe plaasvind, maar hy kon ook nie sê hoe dit gebeur nie. Ek het toe net kortliks met hulle die doel van Jesus se offer aan die kruis vir hulle verduidelik,nl: Waarom JESUS DIE OFFERLAM VAN GOD MOES WEES!
- Omdat daar deur die sondeval verwydering / vyandskap tussen God en mens gekom het. (Gen 3)
- Omdat almal (alle mense) na die sondeval in sonde gebore is. (Ps 51:7 en Rom 3:23 ens)
- Omdat net die Here Jesus die volmaakte Offerlam vir ons sondes kon wees. ( Hy, die sondelose, is vir ons sonde gemaak. In 2 Kor 5:21 / Matt 26:39 en 42 lees ons hoedat Jesus die sondebeker met al die wêreld se sondes daar ingeskink, moes drink. Lees ook Jes 53:5 en 6.
- Omdat die Here Jesus ons enigste WEG / MIDDELAAR tussen ons en God die Vader is. (Joh 14:6 / Joh 10:9 / 1 Tim 2:5 / 1Joh 2:1
- Omdat slegs Jesus ons weer met God die Vader kan versoen, deur die KRUIS. (As ons na Jesus toe kom, dan vat Hy ons hand en die hand van ons Hemelse Vader en Hý versoen ons met mekaar!) (Rom 5:10 / 2 Kor 5,18 en 19 / Kol 1:21)
Daarom moet ons Jesus bewustelik aanneem as ons Saligmaker en Verlosser, deur ons van ons sonde te bekeer tot God deur Jesus. (Joh 1:12 / Luk 19:10 / Luk 15:10 / Hand 3:18 en 19) Bekering is ‘n bewustelike daad en elke mens se eie keuse.
Daarna vind wedergeboorte in ons siele plaas deur die werking van die Heilige Gees, deur wie ons geestelik nuutgebore word. (Joh 3:5 tot 8 / Tit 3:5) Wedergeboorte vind plaas na ‘n ware God-gewerkte bekering. Die Here Jesus het self vir Nikodémus in Joh 3:3 en 5 gesê sonder wedergeboorte sal niemand die Koninkryk van God , die Hemel, kan sien of daar kan ingaan nie. Die doop kan niemand red nie, net Jesus as ons enigste Saligmaker en Verlosser.
Die hartseerste van alles was dat hierdie vroutjie vir my oor en oor gesê het, “Ek glo alles onvoorwaardelik wat my dominee verkondig en sal noooit oooit my Kerk los nie!” Ek het vir haar ook ‘n paar maal gesê, dat ek net gekom het om JESUS aan haar te verkondig en nie ‘n kerk nie. Paulus sê so mooi in 1 Kor 2:2 “want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.” Die Nuwe vertaling sê: “Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.”
Hulle het my darem vriendelik uitgenooi om weer te kom kuier en ek sal vir seker van daardie uitnodiging gebruik maak.
Aanvanklik het ek gedink almal in daardie omgewing behoort maar aan die NG kerk, omdat dit ‘n wyk van Gochas gemeente is, want ek weet daar is elke einde van die maand ‘n diens op Twee Riviere in die Boereverenigingsaaltjie, maar groot was my verbasing toe ek soos ek besoeke afgelê het, agtergekom het dat baie van daardie boere nie meer aan die NG kerk behoort nie. Hulle behoort nou aan verskillende kerke. Meeste behoort aan Pinksterkerke, maar kom baie min, of feitlik nooit, in ‘n Kerk nie, omdat die naaste gemeentes in Keetmanshoop of Aranos is. Beide die dorpe is min of meer so 300 kilometer van daar af. Ek het ook op ‘n paar plase aangekom waar die mense weg was. Twee gesinne het onder andere die Nampo skou buite Bothaville gaan bywoon en ‘n ander gesin was op pad Keetmanshoop toe, maar ons kon darem ‘n bietjie gesels voordat hulle gery het, daarom sal ek maar by ‘n volgende geleentheid hierdie boere probeer besoek.
My ander besoeke was net so geseënd. Om die waarheid te sê, dit was uiters geseënd! Op die een wildsplaas het ek die mense besoek wat die Lodge bestuur, só drie kilometer van Mata Mata se hek af. (Kgalagadi Oorgrenspark se mees Noordelike hek teen Namibië) Ek en die man het seker amper vir drie ure lank gesels, waartydens hy teenoor my getuig het dat hy ‘n paar jaar gelede sy hart vir die Here gegee het en hoe die Here sy vrou van kanker genees het. Toe hy my aan sy vrou gaan voorstel het, het sy my só staan en kyk en gevra of ek nie haar broer, Jannie van der Merwe van Gobabis, ken nie? Jy kon my met ‘n veer omtik, want ek en Jannie was baie groot skoolmaats en saam in Pretoria in die Polisie kollege. Ons het baie kattekwaad saam aangevang gedurende ons skooldae. Die aand het ek daar oorgeslaap en ons het lekker geestelik gesels. Hulle was meer as twee jaar laas in hul kerk, wat eintlik in Windhoek is, omdat hulle elke naweek werk. Gelukkig kon ek hulle bedien met ‘n paar boodskappe op CD en DVD. Hopenlik sal hulle dit kyk en daarna luister.
Ek het nie ver van hulle af nie ook by ‘n man en vrou op ‘n plaas gekuier. Toe ek daar stop het die man en sy vrou agter my gestop met hul Landcruiser bakkie. Ek het net op die regte tyd daar gestop, want hulle was altwee in die veld en het net gou huis toe gekom om iets te kom haal en weer te ry. Wat ‘n aangename en geseënde besoek was dit nie ook gewees nie! Die man het my só gekyk en toe gesê, “Kom sit, die Here het jou vanmôre hierheen gstuur.” Wonderlike kinders van die Here! Ons het omtrent geestelik gekuier. Later het ek en Dirk na ‘n boorgat toe gery waar die boorgereedskap in die gat vasgesit het. Die eienaar van die boor was nie daar nie, net die boormanne en toe het ek eers die evangelie daar met die boormanne gedeel. Daarna het ons saam gebid en die Here vir ‘n wonderwerk gevra dat die boorgereedskap, wat al sewe dae in gat vasgesit het, sal loskom, maar na die tyd het hy my ‘n paar dinge meegedeel wat daar gebeur het en dinge wat gesê is deur die booreienaar. Toe kon ek verstaan waarom die gereedskap steeds in die boorgat vasgesit het. Soms moet God eers sy doel in mense se lewens bereik voordat hy hul gebede verhoor. Agterna het hulle my laat weet dat die boorgereedskap van meer as R100 000 op die ou end in die boorgat afgebreek het. Ons is toe huis toe en het eers saam gelees en gebid voordat ek verder gery het. Hierdie mense kom baie min in hulle kerk, want die naaste gemeente is op Aranos en hulle het my toe gevra om hulle asseblief in die toekoms te laat weet as ek weer daar ‘n huisbyeenkoms hou, want hulle sal dit baie graag wil bywoon. Inteendeel, het hulle voorgestel dat ons selfs by hulle op die plaas ‘n volgende byeenkoms kan hou. Dan sal hulle al hul geestelike vriende in die omgewing daarheen uitnooi, ook die eienaars van die Lodge, en die lodge bestuurder en sy vrou.
En toe beland ek met my laaste besoek nog by ‘n paartjie wat my besoek net so ongelooflik geniet het. Hulle was vreeslik uitgehonger vir geestelike geselskap. Ek kom die namiddag drie-uur daar aan en ry eers die volgende oggend tienuur daar weg, sonder dat ek enigsins van plan was om daar oor te slaap. Ek wou aanvanklik by my broer en skoonsuster op die plaas gaan oorslaap het, maar toe kuier ons só dat ek nie daar wegkom nie. Toe ek half nege die aand vir hulle sê ek moet nou ry, het hulle my gevra om daar te eet en oor te slaap. Ek maak nêrens by iemand ‘n afspraak as ek só van plaas tot plaas ry nie, selfs nie by my broer-hulle as ek in hulle omgewing is nie. Gelukkig kan ek net by hulle inval, want daar is ek altyd en enige tyd welkom, maar eintlik kom ek min daar, want ek kom gewoonlik donker daar aan en ry weer vroegoggend. Daardie aand het ons só lekker gekuier dat hierdie man my verskeie kere uitgenooi het om weer by hulle te kom kuier en enige tyd in die toekoms weer daar oor te slaap. Sy vrou is ‘n wonderlike kind van die Here en regtig iemand wat haar Christenskap prakties uitleef. Sy was vir my ‘n inspirasie. Carien het ‘n baie groot passie vir barmhartigheid, want sy het al drie of vier Namakinders grootgemaak as hul ouers drankprobleme het of die kinders verwaarloos en sy getuig teenoor my hoe sy al daardie kinders op die plaas oor die jare die evangelie geleer en sommige van hulle al na die Here toe gelei het. Sy het nou weer ‘n tweejarige Namaseuntjie wat sy grootmaak. Hy is baie erg oor haar en noem haar Oumie. Haar man sê hy het vrede gemaak met sy vrou wat haar altyd oor almal ontferm en gedurig moederhen speel, want hy weet die Here het haar só gemaak en dis haar bediening, want hy kan sien hoe die Here haar seën. Op die ou end het hulle ook hul huis tot my beskikking gestel vir ‘n volgende byeenkoms. Hy het net die hele tyd gesê die Here gaan my nog gebruik om groot dinge vir Hom daar in hulle gemeenskap te doen, want daar is baie ongelukkige mense wat nie meer kerk toe gaan nie en ander wat ver moet ry om by ‘n geestelike byeenkoms uit te kom. Hy self is iemand wat nêrens inskakel nie, maar tog ‘n groot behoefte daarna het. Sy vrou ry alleen van tyd tot tyd Keetmanshoop toe om dienste daar by te woon. Altwee van hulle glo dat daar baie mense in hulle omgewing is wat op die ou end die plaasbyeenkomste sal bywoon as ek net eers almal besoek het en hulle mekaar ook uitnooi en aanmoedig om daarheen te gaan. Mag dit waar wees, dat die Here self daardie boeregemeenskap, wat baie verdeeld is oor al die kerkpolitiek, op so manier weer bymekaar kan uitbring.
Bid asseblief saam met my dat die Here se wil sal geskied en nie ‘n mens s’n nie. Ons sal in elk geval nie meer as een maal in ‘n kwartaal bymekaarkom as dit wel realiseer nie, want dis baie ver heen en weer en elke keer betaal ek R277 padfooi as ek deur die Namibiese grens gaan. Nie dat ek regtig kan sien hoe hulle hierdie fonds aanwend om die paaie in Namibië in stand te hou nie, want dit voel regtig vir my asof hulle paaie elke maand al slegter raak. Die paaie was nog nooit in die verlede so swak soos die afgelope jaar nie. Baie slaggate en skuis walle op duine en hoogtes. Soms vrees ek dat ek my bakkie sal omgooi as ek deur ‘n los poeiergat of oor los gruisklippe en diep slote in die pad ry. My bakkie wys al meer tekens dat die paaie vinnig besig is om sy tol te eis. Ek het reeds nou weer meer as 800 kilometer afgelê daarheen en terug. Ek dink daaraan om ‘n eerste byeenkoms in die Julievakansie te reël as dit almal sal pas. Sal maar die Here vertrou daarvoor.
Ek het geleentheid gekry om saam met ‘n paar boere veld toe te ry. Op een plaas het ons die stukwerkers / draadkampers geskuif van een plaas na ‘n ander. Dit was ‘n groot ervaring. Op een van die foto’s sal u sien hoe hulle die draad van die een duin na die ander styf trek en dan in die laagte tussen die duine aftrek om dit weer aan die pale tussen die duine vas te maak. Dis nogal ‘n kuns om die draad oor die duine en in die strate tussen die duine te span, sodat daar nêrens diere kan deurkruip nie.
Soos gewoonlik het ek weer heelwat Bybels uitgedeel. Ek het nou weer op pad terug huis toe ‘n Grenspos Polisiebeampte gekry wat my gesmeek het vir ‘n Engelse Bybel. Ongelukkig het ek toe klaar al my Engelse Bybels op die pad uitgedeel. Ek het weer ‘n klomp Johannes Evangelies in Engels en traktaatjies by die grensposte geplaas. Dit verdwyn, só iemand vat dit en hopenlik lees hulle dit ook.
Moet asseblief nie ophou om vir my en Marian se werk te bid nie en moet ook nie van ons vergeet nie, asseblief. Ek ervaar tog hoe langer ons uit ons almal se oë is, hoe meer verdwyn ons ook uit baie se harte! Hoop maar ek maak ‘n fout. Baie dankie vir elkeen se ondersteuning aan ons bediening. Al weet ek nie altyd wie my ondersteun nie, glo my, ons waardeer dit baie en bid u een en elk die Here se ryke seëninge toe.
Groete in Jesus tot ‘n volgende keer.
Awie en Marian