Kalahari bediening: Awie en Marian (Jun 2015)

26 Junie 2015

Vriende.

Na my vorige uitreik het dit vir my behoorlik gevoel asof ek na twee en ‘n half jaar se bediening onder die Namibiërs, voor ‘n doodloopstraat in my bediening te staan gekom het. Natuurlik het dit my en Marian gedwing om weer opnuut by die Here te gaan seker maak of ons steeds binne Sý wil vir ons bediening is, alhoewel ons altwee, sonder enige twyfel, weet dat ons hiér moet wees. Dit het selfondersoek en baie bid en baie dink en baie Bybel lees en baie redeneer oor die saak, gekos. Ons het albei die Here se aangesig ernstig gesoek, want dit het vir my gevoel asof ek nie regtig bereik wat ek graag wil bereik nie, veral omdat ek so baie toe deure en vyandigheid ervaar.

Miskien was dit omdat ek nie regtig verwag het dat die werk van die Here daar, na tien jaar wat ek weer teruggekom het, nou skielik soveel struikelblokke sou inhou nie. Dalk was my verwagting dat dit baie makliker sou wees, juis omdat ek reeds voorheen daar gewerk het en baie mense my ken. Dit was nogal ‘n groot ontnugtering toe ek net die teenoorgestelde ervaar. Ten spyte van dit alles kan ek u die versekering gee, dat ek én Marian nog steeds vir geen oomblik twyfel dat ons op die regte plek is nie, maar eintlik wou ons by die Here hoor wat doen ons dan verkeerd en hoe moet ek hierdie roepingsopdrag vorentoe vat.

Na my vorige nuusbrief het baie van ons geestelike vriende en broers en susters seker in die gees ervaar dat ons redelik moedeloos was en daarom wil ek vandag vir elkeen bedank wat ons deur ‘n e-pos, sms of oproep bemoedig en ondersteun en selfs raad probeer gee het. Glo my, dit was kosbaar en ons het dit geweldig waardeer. Gelukkig gaan dit nou sommer baie beter en ek is weer vol vuur en vlam vir my bediening vorentoe. My laaste uitreik van ‘n paar dae gelede was wonderlik. Ek wil u graag vertel wat gebeur het.

Nadat ons die Here se leiding en wil gesoek het, het ek en Marian altwee onder oortuiging van die Heilige Gees gekom dat ek die amptelike dienste op Aroab in die hotel moet staak en dat ek in die vervolg eerder ‘n huisbyeenkoms vir die betrokke Sondag moet reël in die omgewing waar ek dan sou beweeg. Ons het albei opnuut besef dat dit oorspronklik my oortuiging en gedagte was met my werk daar in Namibië. Die dienste op Aroab in die hotel het nie gewerk soos ons gehoop het nie, omdat die meeste mense wat die dienste bygewoon het, enige iets van 130 tot 500km heen en weer op ‘n Sondag moes ry om die diens by te woon. Ons getalle het dus baie wipplank gery, veral as daar een of ander funksie of ‘n gemeenskapsbyeenkoms in die week of oor die betrokke naweek aan was. Die boere ry nie maklik twee keer, kort na mekaar, Aroab toe nie. Ek het toe ‘n brief aan almal met wie ek kontak het uitgestuur en hulle van my nuwe besluit in kennis gestel. Almal wat daarop gereageer het, het saamgestem dat dit ‘n wyse besluit was, veral diegene wat ver bly. Dit was maar net ‘n bevestiging dat ons reg gehoor het by die Here.

Met my laaste uitreik het ek regtig die Here se seën en teenwoordigheid op my uitreik ervaar. Alhoewel ek net twee nagte se oorslaap vooraf gereël kon kry, het ek met geloof die pad aangepak en ek het elke aand ‘n warm bed gehad om in te slaap en ‘n heerlike bord kos om te geniet. Dit het my só baie laat dink aan wat ek so tyd terug in Mark 6:7-9 gelees het toe Jesus Sy dissipels twee-twee uitgestuur het met die evangelie boodskap en Hy vir hulle in vers 8,9 “beveel het om niks vir die pad saam te neem nie as net ‘n stok alleen- geen reissak, geen brood, geen geld in die beurs nie, maar skoene aan die voete, ens” Ek het so op my eie lag gekry toe ek Vrydag op die pad so gekuier het, dat ek besef het ek gaan presies eenuur die middag by ‘n vrou wat stoksiel alleen op die plaas boer, aankom. Toe maak ek so bietjie tyd langs die pad op om nie oor middagete daar aan te kom nie. Ek het o.a by ‘n baie goeie vriend en sy seun langs die pad gestop wat besig was om aan ‘n windpomp te werk. Hulle was eintlik besig om die geweldige groot windpomp af te breek vir ‘n boer. Daarvandaan het ek sommer onder ‘n boom gestop en eers iets geëet wat Marian vir my ingepak het in my koelhouer en toe só gery dat ek darem na half twee daar aangekom het. Sy het my wel verwag, maar ek het geen tyd aan my besoek gekoppel nie, en met my stop daar, het sy my sommer dadelik ingenooi kombuis toe en vir my ‘n heerlike bord boerekos ingskep. Toe moes ek maar weer eet! So sorg die Here vir sy kinders.

Omdat ons toe lekker aan die kuier geraak het en die wintersonnetjie gouer ondergegaan het as wat ek verwag het, moes ek maar net daar oorslaapplek reël, want ek het in elk geval nie ander slaapplek gehad nie. Sy het ook later, net voordat dit té laat geraak het, sommer oor hul plaasradio vir my ‘n besoek by haar naaste bure, so 15km daarvandaan, gereël vir die aand. Toe ek wou ry, het sy gevra of ek sal omgee as sy sommer saam ry en wat ‘n wonderlike en geseënde aand was dit nie gewees nie. Ek het al haar buurvrou met vorige geleenthede besoek, maar nog nooit haar man ontmoet nie. Hierdie aand het ons ontmoet en heerlik saam gekuier. Dis o.a. ‘n man wat die een of ander probleem met die kerk ontwikkel het en letterlik al vir jare weier om sy voet in ‘n kerk te sit. Daardie aand het ek kort-kort die gesprek in ‘n geestelike rigting gestuur en die man was baie oop en ontvanklik. Hy het my selfs later genooi om in die donker en koue saam met hom na sy stoor toe te loop, waar hy my graag iets wou gaan wys, en dit was vir my baie positief.

Natuurlik het ek ons besoek afgesluit met ‘n gebed. Sy vrou het my toe ons op pad was om te ry, eenkant, waar haar man nie kon hoor nie, bedank vir my besoek en gevra om vir hulle geestelike boodskappe op DVD saam te bring wanneer ek weer in hul rigting sou kom.

Die volgende dag, Saterdag, het ek bietjie ‘n lang tog afgelê, maar dit was weereens baie geseënd. Ek het by vyf plase aangery en by die sesde een gaan oorslaap. Ek het weer Saterdag net voor een by ‘n gesin aangekom wat ek seker amper twee jaar laas besoek het. Dis ook mense wat al vir baie jare glad nie kerk toe gaan nie en openlik erken dat hulle darem so nou en dan ‘n Sondagoggend na ‘n preek op TV luister, as hulle tyd het, bygesê. Daar het ek ‘n bietjie langer gekuier as wat ek wou, want ek was skaars daar, toe nooi hy my om saam met hom Koës toe te ry, want hy moes gou stukwerkers of draadwerkers invat dorp toe. Dit was weereens God se afspraak vir ons twee. Ek het meer as twee ure die geleentheid gekry om met hierdie man alleen in die bakkie te wees en natuurlik het ek my kans gebruik om hom te konfronteer met die evangelie. Dit was wonderlik!!

Op pad van hulle af het ek nog ‘n man en vrou besoek wat nuut daar op ‘n plaas is. Hulle is die ouers van ‘n jongman wat ‘n lidmaat in Wonderboom gemeente was in my tyd. Hulle bly nou nie meer in Pretoria nie. Toe hy my per e-pos gevra het of ek dalk in die rigting werk waar sy ouers nou bly, was dit so wonderlik, want dit was juis die rigting waarin ek wou uitreik. Ek het die Sondagoggend net so 13km verder op ‘n plaas ons byeenkoms gehad. Hulle kon ongelukkig nie daar wees nie, want hulle het mense verwag.

Sondagoggend het ons by die gesin waar ek oorgeslaap het ‘n huisbyeenkoms gehad. Ons het ‘n klomp mense daarheen uitgenooi en glad nie geweet wie om te verwag nie, want baie het reeds vooraf verskoning gemaak. Meeste het jagters gehad, of verwag. Die oggend toe ons gereed maak vir die diens, was almal negatief dat daar dalk niemand sal opdaag nie. Hoe meer ek gesê het, dan hou net ons ‘n diens, hoe meer kon ek agterkom dis nie wat hulle wou hoor nie. Dis toe wat ek sê, die Here gaan ons verras vanoggend. Sowaar, toe ons weer hoor, stop daar voertuie en op die ou end was ons ‘n lekker groep bymekaar. Ek kan regtig net die Here loof en prys vir ‘n ongelooflike geseënde byeenkoms. Die Here was in ons midde en Hý het ons geseën uit Sy Woord. Daar was oë vol trane en vreugde na die tyd oor die boodskap. Die Here kry al die eer. Daar was daar en dan besluit dat ons van nou af op ‘n gereelde basis daar huisbyeenkomste gaan hou en almal is oortuig ons groepie gaan sommer groot groei. Al die lof en eer aan die Here alleen.

Oor hierdie vyf dae het ek ‘n afstand van 760km afgelê en ongeveer met 30 mense persoonlike kontak gehad. Ek wou graag nog ‘n dag of twee langer bly, maar dinge het net nie reg uitgewerk nie. Dit klink nou miskien asof my uitreik net voorspoedig en sonder aanslae was, maar glo my, die eerste dag het baie negatief met groot vyandigheid afgeskop toe ek op Aroab gearriveer het. Ek was die aand baie moedeloos en moes aanmekaar die aand alleen daar in my kamer geestelike oorlogvoering toepas. Aanvanklik het ek vir die Donderdagaand ook ‘n huisbyeenkoms op Aroab probeer reël, maar ons was op die ou end net 3 bymekaar gewees. Gelukkig was daar nog drie mense wat daar sou wees, maar nie daar kon wees nie, weens omstandighede. Die Vrydagoggend het die Here my wonderlik kom bemoedig uit 2 Tim 4:1-5 waar Paulus vir Timótheüs aanmoedig om die Here se werk te doen, al is dit moeilik. Ek haal vir u gedeeltes aan van vers 2 tot 5. “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar… (let veral op hierdie woorde) Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening.” Ek het maar net gesê, “WOW Here, U is ongelooflik wonderlik!!” En ek het geweet die res van my uitreik sál geseënd wees en dit wás!

Marian is by die huis vir die Julie-vakansie, maar gaan volgende week Upington toe vir ‘n kursus gedurende haar vakansie.

Bid asb baie vir my volgende uitreik wat eers in die week na die skole heropen het, sal plaasvind. Almal kry nou jagters en kuiermense en die kinders is ook by die huis. Dit sal nie werk om in die vaknsie daarheen uit te reik nie.

Dankie vir elkeen se getroue voorbidding en ondersteuning.

Ja. Soos julle hoor, het ek ‘n ‘werksvakansie’. Yuk! Ek sit nou hier deur Awie se brief en lees. Die sonnetjie skyn lekker deur die venster. Op die plaat staan ‘n lekker potjie afval…net die aartappeltjies kort nog. Ons het besluit om nou eers die bakkie te vat en op een van die grondpaaie uit te ry en sommer net in die natuur te gaan sit; koeldrank, koekies en al. Vader is goed vir ons. Ons eer Hom vir al Sy genade. Die kwartaal is verby en die kinders het 99.9% gedruip in die gr.7 – 9 groep, maar ons kyk op, want in ons eie swakheid word die Heer se krag volbring!

Groete en liefde.

Awie en Marian

Posted in sending.