24 Januarie 2016
Hallo vriende.
Ek groet jul uit ‘n dankbare-nat-Kalahari. Ons het 68mm reën oor die afgelope week op Askham gehad en die veld is klaar besig om ‘n pragtige groen skynsel te gee. Die suide-boere van Namibië was nog baie meer gelukkig. Meeste boere het 200mm plus gehad. Die wonderlikste van dit alles is die feit dat dit feitlik elke nag ‘n sagte en deurdringende reëntjie was. Ek kan amper nie wag om hierdie Kalahari oor twee weke van nou af te sien nie. Die Namibiërs het my omtrent gebel om die goeie nuus met my te deel en groot mans is kinderlik opgewonde en bitter dankbaar teenoor die Here. Van hulle was behoorlik uit hul vel van opgewondenheid. Vir almal kon ek sê, nóú moet ons weer dankdienste hou, want die Vader het ons gebede verhoor. Al sou ek ook nou al in Namibië wou wees vir my eerste uitreik in hierdie nuwe jaar, sou ek nie kon gaan nie, want almal het my gewaarsku dat die paaie onrybaar is. Dit staan vol waterpoele en orals het paaie en brûe verspoel. Op een plaas het die boer met ‘n landcruiser bakkie in ‘n tweespoor plaaspaadjie vasgeval en toe sy vrou met ‘n ander landcruiser bakkie ry om hom te gaan uittrek, het sy ook vasgeval. Niemand kla daaroor nie; alles is nou skielik ‘n avontuur! Die reën het soveel verligting en dankbaarheid in almal se harte gebring, want die droogte is gebreek. Die beste van dit alles is dat die ouer boere altyd sê; Januariemaand is die moeilikste maand vir reën, Februarie maand is eintlik die begin van ons reënseisoen in die Kalahari. Meeste ouer boere sê hulle kan glad nie onthou of dit al ooit vir een week elke dag bewolk was en elke dag/nag gereën het nie. God is groot en God is goed! Ek het groen gekies vir my brief, want dis beslis ‘n kleur wat lewe simboliseer!
Die naweek van 19 tot 20 Desember het ek en Marian 1000km Gochas toe en terug afgelê om ‘n jong paartjie se troue te gaan waarneem. Dit was een van daardie onuithoubaar warm naweke. Die Saterdag met die troue het die sweet ons almal afgeloop. Ek reken dit was niks onder 46grade gewees nie. Gelukkig was dit darem koeler in die Kerk, maar die aand by die onthaal het die jongmense mekaar met hul klere en al in die swembad gegooi om net ‘n verskoning te kry vir swem. Sondag het ons baie vroeg vertrek, en op pad terug huis toe het ek en Marian kuier-kuier gery en net betyds die grens oopgevang om die aand terug te wees by die huis. Daar by die troue het ons mense ontmoet wat boer in die Auob distrik waarheen ek gereeld uitreik. Hulle het my baie vriendelik genooi om vir hulle te kom kuier en baie mense het my agterna persoonlik kom bedank vir die boodskap wat ek gebring het. Ek en Marian het maar net weereens besef dat die Here elke geleentheid gebruik om vir my nuwe deure oop te maak.
Ons was vir so 13dae, van net voor Kersfees tot vroeg in Januarie, ‘n bietjie Kaap toe om vir ons kinders en ‘n paar ander vriende te gaan kuier. Twee dae voordat ons teruggekom het, het my buurman, wat ons tuin natgemaak het, my gebel en gesê dat ons maar liewer moet terugkom as ons nie ons tuin heel vrek wil kom kry nie, aangesien die temperatuur in daardie tyd so hoog was dat hy nie tussen sy tuin en ons tuin kon byhou om alles genoeg water te gee nie. Omdat ons redelik gras en baie bome geplant het vir die groen en vir die skaduwee, verg dit baie tyd om alles te versorg. Die dag toe ons hier stop by die huis, sewe uur die aand, het die kwik op 47grade gestaan, en so was dit skynbaar feitlik elke dag wat ons weg was en het dit aangehou totdat ons reën gekry het. Dit was onuithoubaar warm en die reën het eintlik ons tuin kom red. Hierdie laaste week was die lekkerste dae en nagte sedert begin Oktober. Ons het ‘n verskriklike warm somer gehad so ver. Ons kan maar net bid en vertrou dat die Here nog vir ons baie reën sal stuur, sodat hierdie wêreld kan afkoel en ons die res van die somer sal oorleef.
Ek bou steeds volstoom aan my bakkie se kappie en hoop om volgende week daarmee klaar te maak, sodat ek eerskomende naweek op uitreik kan vertrek. Ek is baie opgewonde, want dit beteken dat ek voortaan in my bakkie kan slaap as ek nie oorslaapplek sou kry nie. Gelukkig is daar baie boere wat kampplek vir jagters het met oornag geriewe en dan kan ek sommer op sulke plekke gaan oorslaap. Ek sal dus hopenlik vir langer tye op uitreik kan gaan vir solank as my proviand hou. Ek is ongelukkig nog nie ingerig vir koelgeriewe nie, maar dit sal hopenlik ook nog binnekort in plek val. Ek wil ook met hierdie uitreik sommer alles gaan uitvind rondom die erwe in Koës. Hopenlik sal ek ook binnekort kan oornag op my eie plekkie in Koës. Dit sal alles vir my nog net soveel makliker maak. Bid maar saam met my daarvoor en vir my uitreik asseblief. U gebede dra my elke dag.
Baie baie dankie vir elkeen se gebede en ondersteuning in hierdie nuwe jaar. Ek waardeer dit ontsaglik baie. Ek besef dis ‘n moeilike jaar wat vir ons almal voorlê met die ekonomiese onstabiliteit van ons land, maar met die Here aan ons sy kan ons die lewe in die oë kyk en net aanhou en volhou. Die Here het onlangs vir my in my stiltetyd in Luk 10:2 gesê: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur.” Ek is een van daardie arbeiders, want die oesland in Namibië is groot! In die suide van Namibie, van Aroab tot in Gochas is daar slegs twee predikante en dis onmoontlik om almal te kan bereik op die geestelike gebied, want die afstande is enorm. Koës se aflos-leraar is die land uit, omdat die Namibiese regering nie sy werkspermit wou hernu nie. Daarom besef ek elke dag, dis waarom die Vader my teruggestuur het na my geboorteland en sy mense. Ek gaan probeer reël vir dankdienste na die wonderlike reëns wat die Namibiërs ontvang het. Bid asseblief baie saam met my dat dit sal realiseer.
Gelukkig is Marian by die huis om alles te versorg, want ek weet glad nie wanneer ek terug sal wees by die huis nie. Sy moet maar wag totdat sy my sien. Gelukkig is sy baie veilig op Askham.
Ja, en toe is dit skielik 2016. Al my druipelinge sit in die volgende graad en glo hulle is opgewasse vir die nuwe jaar se werk, want die regering het hulle bekwaam verklaar. Atletiek is op ons. Jy dink nog jy het niks daarvoor lus om elke dag kinders af te rig nie en dan strompel jy klaar in die sand rond kwart voor sewe in die oggend. Hier doen ons alles ekstra vroeg, wanneer al die omliggende gehuggies se kinders met die skoolbusse aangery is, anders jippo driekwart van die kinders uit. Dis omtrent soos die duinadder wat ons verlede week hier voor op die gras kom verras het. Ons sit graag saans voor die huis op die stukkie ‘veilige’ grasperk wat toegespan en omhein is. Ons was skaars in die huis…ek wou gaan lees…toe Awie vir slang op die gras verras. Ek het natuurlik my as afgeskrik. Weereens het ons besef: die Kalahari het sy eie manier om jou op jou tone te hou. Hierdie jaar het die Vader my laat besef dat ek Sy seën moet afbid op die mense van Askham…bruin, swart en wit, want ons beleef alreeds weer baie nuwe aanslae op ons hier-wees en werk alhier. Dus wil ek afsluit om ook elkeen wat hierdie briefie lees te seën in die Naam van Jesus Christus in hierdie onbekende 2016.
Groete en liefde in Christus.
Awie en Marian