2017-06-22
Hallo my dierbare vriende
Ek was al laasweek in Namibië vir my uitreik, want ek en Marian beplan om as dit die Here se wil is, weer in die Julievakansie saam op uitreik Namibië toe te gaan. Ek hoop om die eerste byeenkoms gereël te kry in die Aoub distrik waarvan ek in my vorige nuusbrief geskryf het, as dit almal sal pas. En dan wil ons sommer nog ‘n paar ander besoeke ook aflê. Ek het reeds ‘n whatsapp boodskap aan almal gestuur met twee voorgestelde datums en klaar positiewe reaksie daarop ontvang. Bid asseblief saam met my en Marian dat hierdie byeenkoms sal realiseer, want dit voel net vir my dis absoluut binne die Here se wil om hierdie groep mense, wat geestelike versorging baie nodig het, te bedien.
Met my vorige uitreik in Meimaand het ek gesê dat dit vir my een van die mees geseënde uitreike ooit was, maar oor my laaste uitreik voel ek weer so. Die Here seën my uitreike deesdae geweldig en ek kan regtig nie sê waar die ommeswaai gekom het nie. Ek bid altyd baie oor my uitreike en is positief, opgewonde, en in diepe afhanklikheid van die Here oor elke uitreik, maar met hierdie jaar se uitreike ervaar ek regtig vrug.
Ek het nou met Juniemaand se uitreik soveel seën ervaar dat ek nie daaroor uitgepraat kan raak nie. Voel vir my elke besoek was vrugbaar. Ek wil ‘n paar wondelike ervarings met julle deel, sodat julle sal verstaan waarom ek so sê. My eerste aand het ek by ‘n boer op die plaas gaan slaap waar daar ‘n klomp jagters was. Hulle het so ‘n paar uur voor my daar op die plaas aangekom en toe het die boer en een van die jagters Keetmanshoop toe gery om die jagpermtte te gaan uitneem. Ek het net voor donker daar op die plaas opgedaag en gou my bakkie se kap opgeslaan en die krag aangelê vir die nag wat voorlê. Ek het nog nooit op die spesifieke plaas oornag nie, maar was al eenmaal voorheen daar. Intussen het ek gehoor hoe die jagters by die jagkamp, ‘n entjie van die plaashuis af, besig was om hul gewere in te skiet.
Omtrent agtuur die aand het die boer en die een jagter by die huis aangekom. Ek is toe saam met hulle na die jagkamp toe om saam met hulle te gaan braai. Dit was nogals ‘n vreemde ervaring om skielik tussen ‘n klomp manne te kuier wat alreeds die hele middag op hul eie gekuier het en lankal nie meer nugter was nie. Ek het net besef dat ek geen keuse gehad het om saam te gaan nie, want hierdie boer het vir my reguit gesê dat hy nog glad nie die dag geëet het nie en graag die manne wou leer ken, want hulle was nog nooit voorheen by hom op sy plaas nie. Aanvanklik wou almal vir my ‘n drankie skink, want hulle het nie dadelik geweet wie ek was nie, maar omdat ek alles van die hand gewys het, het die manne klaar snuf in die neus gekry. Nogtans was die slimpraatjies en kru taal baie erg, maar ek het net vir myself gesê nou is dit die tyd om net die sout van die aarde te wees en net my lig te laat skyn tussen hierdie manne! Só ‘n tydjie later het hierdie boer almal se aandag gevra en vir hulle gesê, “Manne, ek wil darem net vir julle sê, daai man is ‘n dominee!” Dis nodeloos om te sê dat ek hulle hele ‘party gespoil’ het, maar daar was tog twee ouens wat later spesiaal met my kom sit en gesels het en toe kon ek darem my getuienis met hulle deel en vir hulle vertel hoe ek ‘n kind van die Here geword het en hoe die Heilige Gees my lewe verander het. Die volgende oggend het ek en die boer van baie vroeg, lank voor sonop, om die kombuistafel gekuier en die dinge van die vorige aand bespreek, want hy sê toe dat hy aanvanklik nie wou sê wie ek is nie, maar toe dit darem te rof raak het hy gevoel om hulle net ‘n bietjie tot verhaal te roep. Dit moes so uitwerk, anders sou ek ook nie ‘n geleentheid gekry het om te getuig nie. Die volgende oggend was hulle maar bietjie kop in die grond toe ek hulle gegroet het voordat ek gery het, maar ek dink altyd aan daai Skrif in Pred 11:6 “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie…” Net so moet ons by elke geleentheid die saad van die evangelie saai, want ons weet nooit wanneer sal daardie saad op vrugbare grond val, ontkiem en vrug dra nie! Net so ook: 2 Tim 4:2 wat sê: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig;…”
Die volgende dag het ek gery van plaas tot plaas, soos die Here my gelei het. Ek ry net na die middag verby ‘n plaas op die grootpad, waar ek al baie in die verlede verbygery het. Dit lyk altyd so stil, asof daar niemand bly nie en ek het al verkeie keer navrae gedoen oor die mense wat daar bly, maar kon nie regtig uitvind wie die mense is nie.
Toe ek so verby ry, hoor ek baie duidelik die stem van die Heilige Gees wat vir my vra, “Nou waarom ry jy altyd by hierdie plaas verby en gaan kyk nie wie daar bly nie?” Ek draai net daar en dan om en ry daar by die plaashuis aan. Dis toe twee plaashuise naby aan mekaar, wat al die tyd net agter al die groot bome verberg was. Na ‘n tydjie kom daar ‘n vrou by die een huis uit. Ek klim toe af, gaan stel myself voor en begin met haar gesels. Sy en haar man boer vir haar ouers, van amper tagtig, op die plaas en die twee gesinne woon in aparte huise, maar op daardie stadium was haar man en ouers in Windhoek en hulle sou eers die einde van die week terug wees op die plaas. Ek gebruik toe die geleentheid om hierdie vrou uit te vra oor haar geestelike lewe, waarna ons geprek op die punt uitgeloop het waar ek besef het dat sy geen sekerheid van saligheid het nie, maar ek kon ook agterkom dat sy baie versigtig was vir my, omdat sy my glad nie ken nie en omdat ek nie ‘n predikant van haar kerk is nie, alhoewel sy openlik erken dat hulle bitter min in die kerk kom. Na ‘n uur en ‘n half se gesprek, vra ek haar toe die vraag of sy weet waar sy eendag die ewigheid gaan deurbring as die Here haar lewensdraad sou knip en ek brei bietjie uit wat ek daarmee bedoel. Ek sê toe vir haar, as ek weer met die pad langs terugkom, dan sal ek by haar stop om te hoor wat haar antwoord is. Sy moes eers mooi nadink oor wat ek vir haar gevra het. Ek groet haar toe en ry verder.
Só ry ek toe baie ver na ‘n ander plaas op die slegte tweespoorpaadjie om mense te gaan besoek wat ‘n paar maande gelede die plaas gekoop en uit die RSA daar gaan woon het. Na seker amper ‘n uur se ry daarheen, kom ek voor dooiemansdeur. Die mense was in Upington en die werksmense was glad nie seker wanneer hulle sou terugkom nie. Só moet ek weer al die pad op hierdie verskriklike slegte tweespoorpad terug ry. Gelukkig het ek darem vooraf slaapplek vir daardie aand gereël.
Op pad na my bestemming vir daardie aand, ry ek weer by ‘n plaas verby wat ‘n end van die pad af sit en waar ek ook nog nooit aangery het nie. Weereens hoor ek die stem van die Here vir my sê, “En waarom ry jy by hierdie plaas verby?” Weereens draai ek in my spore om en ry daar in. Toe ek voor die pragtige plaashuis stop, sien ek die deure staan oop en daar kom ‘n redelik bejaarde vrou uit. Ek klim toe uit en stel myself voor aan haar, waarna sy sê, “Ja Ds. Awie, ek ken vir jou, ek het jou al hoor preek!” Toe sê sy vir my waar en wanneer dit was en nooi my toe baie vriendelik in. Haar man is ‘n paar maande gelede oorlede en toe het ek die wonderlike aansluitingspunt om met haar oor die dood en sekerheid van saligheid te praat. Sy was baie ontvanklik, maar ongelukkig baie vas aan haar kerk en tradisies! Nogtans kon ek met haar oor die werklikheid van hemel en hel praat terwyl sy mooi geluister het. Net voordat ek verder gery het, het haar skoonseun van die buurplaas daar opgedaag en nadat ons twee ook lekker met mekaar gesels het, het hy my genooi om ook eendag vir hulle te kom kuier. Só maak die Here vir my nuwe deure oop en verbreed Hy self my arbeidsveld.
Die volgende oggend het ek weer vroeg die pad verder aangepak, die Kalahari in, sonder om te weet wat om te verwag. Ek het wel geweet waarheen, want die Here het my hierin ook duidelik vooraf gelei om twee jong boere en hul gesinne, wat nie ver van mekaar af boer nie, te gaan besoek. Ek het hulle nog nooit voorheen gesien of ontmoet nie, net van hulle geweet! Dit was waarlik net die Gees van die Here wat my so gelei het. By die eerste gesin het ek nie baie lank gekuier nie, want hulle was besig om alles reg te kry vir die volgende dag wat hulle van plan was om Keetmanshoop toe te ry. Maar dit was ‘n baie wonderlike geleentheid! Dit klink aan die vroutjie se praat asof sy regtig die Here dien, Best Fake ID,maar nie haar man nie. Hy het ‘n baie sagte en ontvanklike gees en was baie oop vir die geestelike gesprekke wat ons met mekaar gevoer het. Toe ek ry, het hulle my uitgenooi om weer by hulle te kom kuier. Hulle het openlik gesê dat hulle my besoek baie waardeer het en dit het ook so gelyk. By hulle was dit eintlik eers vertrouensbande wat ek moes bou vir ‘n volgende besoek.
By die ander gesin het die Here eenvoudig van die begin af alles wonderlik laat uitwerk, soos ek altyd getuig van Spr 3:6wat sê:”Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Hierdie belofte het die Vader al male sonder tal letterlik in my lewe waar gemaak! Gewoonlik bid ek voordat ek by ‘n plaas aanry en dan herinner ek die Here aan hierdie belofte van Spr 3:6! Só ook toe ek vir Wickus en Mariska op hul plaas, ver, oor ‘n moeilike sandduin of twee gaan besoek het, waar hulle op die rand van ‘n pragtige soutpan woon. Hulle het my van die begin af met geweldige gasvryheid ontvang. Later het ek en Wickus bietjie ‘n paar draaie in die veld gaan ry met sy kragtige 4lt Landcruiser bakkie wat met ‘n paar ekstras en ‘n paar veranderingtjies ‘n allemintige 200kw uitstoot! Hier het ek en hy mekaar sommer goed leer ken en toe ons net voor skemer huis toe ry, wou hy by my weet, “Waar slaap oom vanaand?” My plan was maar om so vyftig kilometer verder te ry en by ouerige mense, wat ek goed ken, te gaan oorslaap, maar Wickus wou niks weet nie. “Neee, oom slaap net hier by ons vanaand!” Dít was God se plan dat ek daar moes oorslaap, want daardie aand gebeur daar ‘n wondelike ding. Ons het om die binnebraai gesit en kuier en ek het maar soos altyd my kans gebruik om oor die evangelie te praat en toe ons aan die tafel sit en net begin eet het, Scannable Fake ID,vra Mariska vir my, “Oom, waarom sukkel ek so geweldig met geloofsekerheid? Ek worstel al vir die afgelope paar weke daarmee.” En daar bars sy uit in trane! Daardie aand gee sy en Wickus altwee hulle harte vir die Here en dit was só ‘n wonderlike gebeurtenis dat sy later nie kon ophou huil van vreugde nie. Ons kon nie daardie aand gaan slaap nie, die vreugdevure het net eenvoudig te hoog gebrand! Ons drie kommunikeer nou elke dag en die goed wat hulle sê is oor en oor vir my ‘n bevestiging dat hulle nou werklik sekerheid van saligheid het, want hulle harte en lewens behoort aan Jesus! Op Mariska se whatsapp profile staan hierdie woorde: Jesus ek het U lief met my hele hart en verstand het ek U lief! (met ‘n rooi hartjie) Bid asseblief vir hulle dat hulle geestelik staande sal bly en sal groei in die geloof!
Oppad terug huis toe het ek weer by die vrou langs die pad aangery en daar wag sy vir my om vir my te vertel dat daardie vraag wat ek vir haar gevra het voordat ek daar weggery het, haar so gepla het dat sy nie die nagte kon slaap nie en die oggend wat ek daar aangekom het het die lig vir haar deurgebreek, sodat sy by God ware vrede en vreugde gekry het. Natuurlik was alles wat ek op my uitreik ervaar het vir my soos ‘n adrenalien inspuiting, daarom het ek met die hele familie, oom en tannie, die dogter en skoonseun en die tannie se bediende die hele evangelie gedeel.Fake ID, Die oom het baie gehuil. Ek het ook vir hulle almal ‘n sondaars gebed gebid, maar sal hulle met ‘n volgende uitreik spesiaal weer gaan besoek! Ek kommunikeer ook met hierdie vrou per whatsapp en vertrou regtig dat die hele gesin waarlik vrede met God en ware geloofsekerheid sal hê as ek hulle weer besoek. Ons het agterna so lekker gelag, want toe vertel sy hoe sy ‘n tannie in die distrik gebel het om uit te vind of ek nie ‘n snaakse prediker is vir wie sy versigtig moet wees nie, maar die tannie ken my toe gelukkig en het haar gerusgestel en gesê sy kan my regtig maar vertrou! Loof die Here ook daarvoor! Dis mos Hy wat my paaie gelykmaak!
Fluit, fluit, my storie is uit, maar julle sal almal met my saamstem dat dit ‘n baie mooi storie is en alle lof en eer aan die Here alleen. Ek sê vir Marian ek kan nie sien hoe ek ooit hierdie werk in Namibië kan staak nie, want daar is ‘n groot arbeidsveld waar baie predikante wat die geleentheid gehad het, net mense aan die kerk vasgemaak het en nie aan Jesus as hul enigste Verlosser en Saligmaker nie. Lees asseblief bietjie wat in Eseg 3:18 en Eseg 33:8 staan. Ek haal die laaste vers aan: ”As Ek aan die goddelose sê: (goddelose beteken, sonder God) o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe, maar sy bloed sal ek van jou hand eis.” Vergelyk ook in die NT, Jak 5:20.
Nogmaals baie, baie dankie vir elkeen se gebede en getroue ondersteuning. Glo my, ek waardeer dit baie en bid elke dag die Here se seën oor elkeen van U! Mag u dit ook elke dag in u lewe ervaar!
Groete in Christus.
Awie en Marain