Kalahari bediening nuusbrief – Mei 2016

Hallo vriende.

Na ‘n week se uitreik van die vorige naweek tot laas Donderdagaand, met 900km agter die rug, was ek flou gery en moeg gekuier. Ek kon net nie so ver kom om vroeër met my nuusbrief te begin nie. Ek het vanaand (Sondagaand) omtrent baie tyd spandeer om eers tussen al die foto’s wat ek tydens die uitreik geneem het, die bestes uit te soek en dit in die regte formaat te stoor op my rekenaar.

Ek sit en dink so by myself, daar is eintlik so baie om te vertel, maar waar begin ‘n mens en wat vertel ek en wat los ek? Dit was bedieningsgewys regtig ‘n baie wonderlike maand. Die naweek voor my uitreik het ek die Sondagoggend en -aand op Upington in ons ou gemeente gepreek. Dit was vir my baie lekker om weer die Woord te kon bedien, want dis my passie, en ek en Marian het dit omtrent geniet om die naweek weer so tussen al die bekendes te kon wees. Sy is sommer ingespan om die Sondagaand saam met die voorsanggroep te sing en na die tyd het ons so lekker saam met ‘n klomp ou bekendes gekuier dat ons die Sondagaand nog eers in Upington moes oorslaap omdat dit te laat geraak het om nog terug te ry huis toe. Maandagoggend vyfuur het ons teruggery Askham toe, sodat sy net betyds vir skool kon wees. Ons het skielik vir die eerste maal baie terug verlang na die gemeentelike bediening, maar ons het mekaar op die pad terug baie ernstig aangemoedig om weer opnuut op ons roeping Kalahari toe te fokus en te vergeet van wat verby is en waarvandaan ons gekom het. Die Here het ons daar uitgehaal en ons moet volhard met die roeping waarmee die Here ons hierheen geroep het. Dis heeltemal anders as gemeentelike bediening, want dis ‘n eensame pad, waar ek net fokus op ‘n een-tot-een bediening en waar ek mense in hulle eensaamheid op plase besoek, ‘n vriendskapsband bou en hulle bedien met die Woord van God. Hierdie bediening is baie moeiliker as gemeentelike bediening en iemand wat nie werklik daarvoor geroep is nie, sal nooit daarby inpas en daarmee kan volhard nie. Ek raak ook moedeloos, veral omdat ek nie altyd vrug op my arbeid sien nie, maar elke keer ervaar ek hoe die Here my presies na die regte mense op hulle plase toe stuur.

Ek het met hierdie uitreik onder andere by twee weduwees besoek afgelê, waar die een ‘n jaar en ander een tien maande, alleen op die plase onder geweldige moelike en eensame omstandighede bly. Dit was die belangrikste besoeke van my hele uitreik gewees.  Sondagoggend het ons ‘n huisbyeenkoms op ‘n plaas in die Auabrivier gehad, so 370km van my huis af. Dit was net ek en die gesin op wie se plaas ons byeengekom het, want almal wat ons uitgenooi het, het verkonings gehad. Nogtans was dit baie geseënd en die Here was werklik in ons midde. 

Maandagoggend vroeg het ek toe die Kalahari tweespoorpad aangepak na ‘n vrou waar ek darem ‘n afspraak kon kry, omdat dit die kortse pad was en daar ook ‘n paar ander plase is waar ek sommer sonder afsprake wou aanry en kuier as ek iemand sou tuiskry. Ek het al uitgevind dit werk die beste, want as ek vooraf afsprake maak, dan maak mense enige verskoning om my net daar weg te hou, want ai, ons eie mense ontvang iemand wat ‘n geestelike besoek wil kom aflê die moeilikste, veral as dit nog iemand van ‘n vreemde kerk ook is, alhoewel ek nooit Kerk praat nie. Tog wil hulle gewoonlik dadelik weet van watter kerk of denominasie ek is. Die hartseerste van alles is dat dit gewoonlik mense is wat selde of nooit in ‘n kerk kom nie! Natuurlik het ek tot my groot spyt die tweespoor duinepad gekies, terwyl ek dit nog nooit voorheen gery het nie. Die pad was so geskop en die sand was só los en swaar om te ry, dat ek myself voorgeneem het ek ry dit nooit weer nie. Almal ry die pad met 4×4 voertuie en ek weet nou waarom, want orals waar ek wou uitdraai om by ‘n plaashuis langs die pad aan te ry, kon ek net eenvoudig nie uit die spoor kom nie, want die spoor was te diep uitgery en die sand te los. Dit was omtrent ‘n nagmerrie. Ek het op die ou end sommer in die spoor gestop en na die plaashuise toe gestrompel deur die dik sand.

By die eerste plaas het ek voor geslote hekke omgedraai en by die tweede plaas was die boer in die veld, besig om diere bymekaar te maak wat slagpale toe gelaai moes word. Ek wou eintlik baie graag by hierdie boer uitkom, want hy was baie onlangs in ‘n onderonsie met ‘n swart vrou wat sy nuwe bakkie ‘n duik in gestamp het toe sy haar voertuig se deur oopgemaak het. Haar man het later op die toneel opgedaag en die boer se arm met ‘n piksteel afgeslaan, sodat hy inderhaas Windhoek toe geneem moes word vir ‘n noodoperasie. Ek sou baie graag met hom ‘n geestelike gesprek wou voer omdat ek regtig dink dat so ‘n persoon eintlik geestelike ondersteuning en leiding nodig het.

By die volgende plaas het ek ‘n jong boer gekry wat besig was om sy plaasbakkie te herstel. Ons het sommer dadelik aanklank bymekaar gevind en eintlik baie lekker gesels. Net uit die bietjie se gesels het ek dadelik in die gees opgetel dat daar probleme tussen hom en sy vrou is. Ongelukkig kon hy nie sy werk aan die voertuig staak nie, want hy moes dit so gou moontlik in ‘n lopende toestand kry sodat hy met sy plaaswerk kon begin. Sy vrou was saam met haar pa veld toe, maar hy het my uitgenooi om hulle asseblief weer te kom besoek as ek dalk in die omgewing is. Later het ek by iemand anders verneem dat my vermoede reg was en dat hulle eintlik baie groot huweliksprobleme het, omdat hy vir sy skoonpa boer en deur hom en sy eie vrou gedurig gevloek en beledig word. Die skoonpa dreig hom skynbaar ook gereeld dat hy hom sal wegjaag van die plaas af en dat hy nooit weer sy drie kinders sal sien nie. Ek was agterna vreeslik spyt dat die tyd nie reg was om met hom en sy vrou alleen ‘n afspraak te kon maak nie. Bid asseblief saam met my dat ek eendag, op die Here se tyd, by hulle twee sal uitkom. Ek besef baie goed hulle het die Here in hulle lewe en huwelik nodig, want dis hoekom dit so sleg gaan.

Later die oggend het ek ‘n besoek by ‘n weduwee afgelê wat baie ver in die Kalahari, anderkant Twee Riviere, op die Aranos pad boer, waar iemand vir my die afspraak gemaak het. Ek het seker minstens vyf ure by haar en haar dogter, wat alleen die boerdery van drie plase onder geweldige moeilike omstandighede hanteer, gekuier.  Hierdie vrou het my besoek verskriklik waardeer, want sy en haar man het al amper dertig jaar gelede uit die NG Kerk bedank omdat daar baie dinge was wat hulle gedwing het om die besluit te neem. Omdat daar geen ander geestelike heenkome vir hulle was nie, het hulle nooit in al die jare iewers ingeskakel om geestelike versorging te ontvang nie. Die tragiese gevolg daarvan is dat sy en haar man geen geestelike leiding ontvang het nie en dat hulle baie, baie ver van die Here af gelewe het en dat haar man in daardie toestand gesterf het. Met sy dood was dit die eerste keer in byna dertig jaar dat sy ‘n besoek van ‘n dominee aan huis ontvang het. Dis nou tien maande na sy dood en ek is die tweede dominee wat haar in amper dertig jaar op die plaas besoek. Hierdie vrou het haar hart teenoor my oopgemaak en baie dinge met my gedeel. Sy was baie emosioneel, maar verskriklik dankbaar vir my besoek, want sy is baie eensaam, al bly haar jongste dogter nou by haar op die plaas. Ek het haar baie bemoedig uit die Woord, maar ook met haar reguit gepraat oor haar siel. Dit het my geskok om te sien hoe min kennis sy van die Bybel en hoe swak begrip sy van God het. Ek kon haar nie tot ‘n geestelike oorgawe dwing nie, want sy was glad nie gereed daarvoor nie. Ek lei maar af dat sy nie eers Bybel lees nie. Die tyd was te min om haar alles te verduidelik sodat sy dit kan verstaan. Die gevolg is dat ek haar nog ‘n paar keer sal moet gaan besoek as die Here wil. Sy het my genooi om asseblief weer vir haar te kom kuier en self belowe dat sy vir my en Marian op Askham sal kom kuier as sy eendag weer Upington toe sou ry. Ek het vir haar ‘n klomp preke op DVD gegee en hoop en bid dat sy dit sal luister. Bid asseblief vir die redding van hierdie vrou se siel.

Ek het nog by baie ander mense besoeke afgelê. Ek het onder andere ‘n man besoek wat ek al baie jare ken, maar nog nooit by hulle op die plaas gekuier nie. Sy vrou is waarlik gered. Ek het eintlik gehoop dat ek haar by die huis sal kry, sodat ons bietjie saam geestelik kon kuier, maar toe is sy op Keetmanshoop en daar kry ek net die man by die huis. Die Here is darem getrou. God maak toe vir my ‘n afspraak met die man. Hy was baie vriendelik en het my ingenooi om by hom te kuier. Toe ons begin gesels, het ons omtrent net met mekaar geestelik gekuier en oor baie dinge gegesels. Ek het dadelik besef dat sy vrou hom al alles van die geestelike dinge geleer het, maar dat hy nog nooit ‘n hartservaring met God gehad het nie. Hulle bly op die pad wat ek gereeld ry as ek in die Auab by mense gaan kuier. Hy sê toe vir my toe ons mekaar groet, dat iemand hom al na die dienste op die plaas uitgenooi het, maar dat hy nie daardie spesifieke Sondag op sy plaas was nie, maar as ons hom weer nooi sal hy regtig probeer om te kom. Dis nog ‘n man wat alles het wat ‘n man se hart kan begeer: plase, diere, mooi en baie duur voertuie, maar geen verhouding met die Here nie; net kennis. Ek het ook vir hom ‘n paar preke op DVD gegee. Ongelukkig het ek geen CD’s gehad nie en dis wat hy eintlik gesoek het. Bid asseblief ook vir hierdie man se redding.

Ek het ook by ‘n oom en tannie van diep i.d sewentig gekuier wat die bestuurders van ‘n wildsplaas is. Hulle behoort ook aan geen kerk nie en erken openlik dat ek die enigste predikant is wat hulle in die afgelope ses of sewe jaar besoek het. Dit was die tweede maal wat ek by hulle op die plaas was. Ons het die aand en die oggend saam Bybel gelees en gebid. Die aand het ek in my bakkie geslaap, maar nogal geweet dat dit kan koud raak i.d Kalahari. Daardie nag was dit 3 grade buite. My vere duvet was bietjie min, ek moes i.d middle v.d nag ‘n T-hemp en langbroek aantrek om gemaklik verder te kon slaap.

Die ander weduwee wat ek besoek het, het my besoek netso baie waardeer. Sy is die afgelope twee maande deur ‘n geweldige krisis en het my per whatsapp gevra om haar asseblief te kom besoek. Die aand wat ek daar was het ek, sy en haar oudste seun wat nou vir haar kom boer het, ure lank om die Woord gekuier. Hy getuig dat hy ‘n paar jaar gelede vir drie jaar lank evangelisasie werk gedoen het, maar sy lewe is só deurmekaar dat ek twyfel of hy ooit regtig self ‘n verhouding met die Here het. Hy is nog nie eers geskei van sy vrou nie en hy is klaar weer in ‘n baie ernstige verhouding met ‘n ander vrou. Ek het met hom lang en ernstige gesprekke gevoer oor sy verhouding met die Here en sy kinders, nadat hy my vertel het hoe sy arme kinders sielkundige probleme het omdat hy en sy vrou al vir baie jare huweliksprobleme het. En nou het hy hulle net so gelos en plaas toe getrek om vir sy ma te gaan boer. As ek sulke dinge hoor, dan besef ek maar net hoe stukkend die wêreld is en dat dit net Jesus is wat mense kan heel.

Vriende, ek besef al meer en meer dat die Here my met ‘n baie groter doel Namibië toe gestuur het as wat ek ooit kon besef. Ek sit en vertel nou net vir Marian wat ek alles op hierdie laaste uitreik gehoor en beleef het. Baie dinge wat ek nie in my nuusbriewe kan skryf nie, maar wat net vir my stom slaan dat volwasse mense, wat hulleself graag Christene noem, só kan lewe. Mense wat jou in die oë kyk en só mooi praat dat jy dink dis die wonderlikste mense op aarde, totdat jy moet ontdek, daardie engeltjie is toe al die tyd ‘n duiweltjie! Dit laat dink my só aan die Here se opdrag in 2 Tim 4:2 waar Hy sê: “verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering…”

‘n Ander ding wat vir my baie verblydend is, is die nuwe bande wat daar besig is om tussen my en my broer wat 17jaar ouer as ek is, gesmee te word. Ons het nog nooit ‘n verhouding met mekaar gehad soos die afgelope jaar of jaar-en-‘n-half nie. Ek kom nou redelik gereeld by hulle as ek in die Auab distrik gaan werk. Soms slaap ek ‘n nag by hulle oor, soms ry ek net aan en kuier so bietjie, voordat ek verder ry, maar wat my nou die dag  baie bemoedig het, is die feit dat my broer erken dat my geestelike invloed hulle harte diep raak. Ek kom dit ook agter aan hulle hele manier van optrede teenoor my. Hy het my Maart met my verjaarsdag gebel en toe hy my gelukgewens het, openlik vir my gesê, “Onthou ek is lief vir jou.”, iets wat hy nog nooit vir my gesê het nie.

O ja, as u onthou van oom Corrie by wie ek laas gekuier het, wat die gangrene gehad het: sy been is toe bo sy knie afgesit. Dit gaan goed met hom onder omstandighede, maar bid asseblief baie vir sy herstel en vir homself ook, asseblief. Meer as dit kan ek ongelukkig nie sê nie.

Ek het hierdie keer met my uitreik gesorg dat ek genoeg Bybeltjies en traktaatjies en ander geestelike leesstof saamgevat het en dit uitgedeel by die grensposte aan die RSA en Namibiese kant. Ai, die ontvanklikheid van daardie mense het sommer ‘n traan in my oog laat opskiet, want dis die teenoorgestelde as wat ek van my eie mense kry.

Ek doen dit nie bloot uit gewoonte nie, maar uit opregtheid. Ek wil weereens vir elkeen van u uit my hart bedank wat my ondersteun in hierdie bediening waarmee ek besig is. Sonder u ondersteuning sou dit nie vir my moontlik gewees het nie, en u kan dit beskou as ’n belegging in die Koninkryk van God. Ek saai op elke uitreik die Saad van die Evangelie en net die ewigheid sal eendag kan getuig van die resultate op my arbeid. Dit is en bly maar altyd ‘n ondankbare werk. Maar dit moet ook só wees, want die eer kom die Here alleen toe en nie vir ons nie. Ek wil ook dankie sê vir elkeen wat getrou vir ons bid in die werk wat ons doen. Moet tog asseblief nie ophou om vir ons te bid nie.

Self wil ek darem net ‘n ietsie praat oor die skool. Nou een dag, met die uitkom van die skool, sit ons in die personeelkamer en wag vir ‘n vergadering om te begin. Buite die venster loop die streep kinders bus toe. Skielik bars ‘n geveg uit tussen twee van die ouer seuns. By nadere ondersoek, kom ons toe agter dat die een die ander se tekkies aan het. Die een wie se tekkies dit eintlik is, kon nie verstaan wat die ander daarmee doen en hoe hy daaraan kom nie! Toe die tragiese: sy pa het drankgeld nodig gehad en sonder sy wete sy tekkies aan die tweede seun se pa verkoop! Albei seuns sit elke weeksdag in my klas. As ek hulle sien, huil ek binne-in my. Hoe hard is hulle lewe nie!  Dinsdag het ‘n elfjarige seun aan my beken dat hy Maandag nie kon skool toe kom nie, want hy was te babbelaas. Elf jaar oud! My hart breek vir hierdie hoop-lose kinders en gemeenskap.Bid asseblief saam met my vir hulle.  Net Jesus kan vir hulle ‘n hoopvolle toekoms gee 

Groete in Christus tot ‘n volgende keer.

Awie en Marian

 

Posted in sending.