Charl & Annetjie Cilliers – Uitreik Naburi

Liewe vriende,

Ons het dit goed gedink om meer in “detail” terugvoering te gee van die uitreik onlangs na Naburi en hoe die Here vooruit getrek het.  Aangeheg is n paar fotos. Die Here is die Hoorder van gebed….. julle gebede vir ons en Sy werk hier in Mosambiek is verhoor,  daarvan kan ons getuig.

Na die jaarlikse Julie konferensie van die Igreja Evangelica de Cristo kerk met wie ons saamwerk is besluit dat ons n uitreik sal doen na Pebane vanaf die 24ste tot die 30ste Augustus. Ons het weke voor die tyd begin voorberei en gebid en n nuusbrief uitgestuur vir voorbidding vir die siele wat meestal moslems is.Ons het n dag voor die tyd gepak, tente om in te slaap, materiaal vir die lesse en vir die kinders, sak meel, boontjies, suiker ens.   vir die village na waar ons gaan,  n 20liter skoon drinkwater, die Jesus film toerusting en so meer…Sien die foto hierby aangeheg. Meeste van die goed op die dak vasgemaak en reg vir hierdie uitreik ontvang ons 10 uur die aand voor ons die volgende oggend 9uur sou vertrek n boodskap van die Pastor op Mocuba dat die uitreik gekanselleer is, omrede reelings wat nie gefinaliseer kon word nie. Dit was letterlik soos n emmer koue water wat oor ons uitgegooi word. Ons het nie eers gebid oor hierdie saak nie, ons het geweet dat ons weet ons moet gaan om verskeie redes. Die volgende boodskap wat Charl toe stuur was  dat ons weier om te aanvaar dat dit gekanselleer is, ons gaan steeds al sou ons dan alleen moet gaan. Die volgende oggend vroeg  in ons stiltetyd sê die Here…1 Kor 15:58..dus my geliefde broeders en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd en ook die vers in Spreuke 21:1 wat bevestig dat God in beheer van die koning se hart is en Hy lei dit soos waterstrome waar Hy wil !  Prys die Here, Hy is getrou. Ons was gemotiveerd. Skaars n uur was ons op die pad bel die Pastor   (die Koning…Spreuke 21:1….) uit Mocuba. Alles is gereel en die mense is reg vir die uitreik!   Vriende is God nie onbeskryflik groot nie !! Op ons vraag waar die plek in Pebane is hoor ons toe dis nog ongeveer 120 km verby Pebane by Naburi,  baie slegte pad, miskien so 3ure se ry…dit was toe nog 5 ure se ry.  Ons het gesien die vyand wou ons stop maar God het n deur oopgemaak wat niemand kon sluit nie. Eer aan Hom.

Ons moes op Pebane oorslaap na 5 ure se ry aan 250km en het toe die volgende oggend gery tot op Naburi. Daar het ons vir João, met wie gereel is vir ons koms, langs die pad opgelaai. Hy was so opgewonde!! Nou moes ons eers gaan toestemming kry by die chief, daar gekom is stoele uitgesit onder die boom en ons is baie formeel verwelkom soos dit die manier in Afrika is.  Ons moes wag vir  die kommandant, die Frelimo verteenwoordiger, die skoolhoof en die hoof van die hospitaal. Hulle moes almal toestemming gee dat ons die Evangelie kan verkondig.Ons paspoorte en dokumente is gevra en nagegaan.Dit was n goeie uur,  maar toestemming is  gegee en dit het uitgeloop op goeie geestelike gesprekke, ook n Goddelike afspraak gewees elkeen het n Bybel en traktaatjie ontvang alhoewel hul katolieke en moslems is en ons is baie vriendelik, amptelik uitgenooi om weer na Naburi te kom.Ons bid nou dat God Homself aan hul sal openbaar as die enigste God wat Sy Seun Jesus as Redder na die wereld gestuur het, dat daar geen ander Naam is waardeur ons gered kan word nie.

Klaar hiermee hoor ons by João die village is nog 20 km die bosse in,  fietspad ! …maar wat God hier vir ons voorberei het, het nie eers in ons gedagtes opgekom nie. Ons het gevra v n koelteboom…maar toe is daar n laning van die grootste cashew bome waaronder mens amper nie eers die tent kon sien toe dit opgeslaan is  nie ! Koelte…Genade,  dankie Vader dit is baie warm hier. Skaars het ons die tent opgeslaan toe hoor ons n hoender skree om hulp… 2 ure later eet ons  hoender, nsima en rys. Ons wys die Jesus film met n baie opgewonde groepie mense(sien foto) en slaap in n koel tent.

Moenie dink om later as 5uur te slaap nie, die ouens wat al saam met ons op uitreik was sal weet. 5uur het die Mosambiekers al lankal begin vee al om jou tent en 6 uur word n emmer warm voor jou tent neer gesit want nou moet jy bad! Elke dag was net te kort vir alles wat ons wou deel met die mense en dan moes ons n program met die kinders ook inpas. Ons het n paar botteltjies salwe en medisyne saam geneem van die projek Anamed waar ons natuurlike medisyne uit plante en bome maak soos bv. onder vele meer die blare en sade van die Moringa boom wat ryk is in vitamine en protein en minerale. Die moslems het kom medisyne haal.  Mammas het hul siek babas gebring en dit was n uitstekende aanknopingspunt om die Groot Geneesheer bekend te stel aan hulle en ook te bid vir elkeen van watter geloof ookal.

**Bid asb. vir almal wat medisyne kom haal het en ons gebede vir hulle, dat God Homself aan hulle sal openbaar en hulle genees na liggaam, siel en gees. Sou iets dan vir die Here te wonderbaar wees ?

Daar was n mamma met n baba wat 7 maande oud is maar totaal ondervoed en die mondjie en tongetjie spierwit vol sere…dit ontstel n mens baie om dit te sien. Die baba het toutjies om die armpies en beentjies gehad en die mamma het erken sy was by die toordokter. Die volgende dag toe sy terugkom was die toutjies af.

** Bid asb saam vir hierdie baba en mamma. Dit is maar een van die baie gevalle. 

Ons het gedokter en ge “preach en teach” en gehelp en gegee en gebid en moeg geword en weer moed geskep ook. Na 3 dae moes ons oppak en na n ander village gaan vir die ander 4 dae. n bospaadjie van 15 km n uur lank gery. Al biddende oor die bruggies wat lyk of dit enige oomblik kan mee gee. Ook n lekker plekkie onder n groot mangoboom vir die tent. Die volgende dag was daar n hele paar mense van die vorige village weer daar om te kom luister. Altesaam seker ongeveer 40 km wat hul moes loop om daar te kom. Hulle het geluister terwyl Charl met die skeppingsverhaal begin het,  en van die mens wat in sonde verval het en God se manier van werk en Sy plan om n Redder te stuur vir die mense regdeur die ou testament tot by Jesus Christus, God se seun wat Hy gestuur het om in die mens se plek te sterf sodat die mens wat in Hom glo versoen kan word met God die Vader, vergifnis kry en die Ewige lewe kan hê…God ons Vader se ewige Liefde vir ons as mens.  Hulle het die Jesus film elke aand gekyk in hulle eie taal, weereens die Evangelie oor en oor gehoor. Wat meer kan mens doen in net n paar dae tot jou beskikking. Ons kan plant en ons bid dat ander sal gaan natmaak maar dis God wat  laat groei en daarvoor is ons vertroue op Hom alleen.

Die terugtog is n lang storie, 10 ure gery aan 350km, slegte grondpaaie,  omgedraai by weg gespoelde brue met die vloed van Januarie hierdie jaar, kortpad deur die bos en villages,  maar by dit alles het ons traktaatjies en boekies uitgedeel langs al hierdie paaie.

Op een van die fotos aangeheg was n man so bly toe Charl vir hom n Bybel gee dat hy opgespring het en vir Charl omhels het van blydskap.

Ons dank die Here wat ons in die villages en langs al hierdie paaie en brue veilig bewaar het . Ons is baie bly om terug te wees by ons huis op Ile en ons is weer dankbaar vir n kraan wat ons kan oopdraai en daar kom water uit en al die voorregte wat ons so as vanselfsprekend aanvaar.

Ons neem God op Sy Woord in Jesaja 55:11 wat sê …so sal My Woord wees wat uit My mond uitgaan:  dit sal nie leeg na My terugkeer nie,  maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

Bid ook asb dat ons gesond sal bly. Daar was baie muskiete.

Baie dankie vir al die gebede en ondersteuning. Ons bid die seen van die Here vir  julle.

Aan God die eer

Groete

Charl en Annetjie

Sel Mosambiek 258 8715 22959

20150826_085734 20150822_16235820150830_092356_120150830_09080720150828_172433_1 (2)20150829_164019_1 (2)20150828_08432120150828_08400120150827_13182420150827_123638_120150826_114154_1 (2)20150826_090109

Posted in sending.