18 April 2016
Hallo my vriende.
Die tyd stap darem vinnig aan. Nou die dag nog het die son al sesuur die oggend sommer klaar warm geskyn, nou steek hy net voor sewe sy kop uit, maar dis maar flouerig. Die winter is oppad en ons het nog skaars noemenswaardige reen gehad hier op Askham. By ons lyk die veldjie regtig die skraalste van die hele Kalahari waar ek tydens my uitreike beweeg. My grootste wens is seker dat ons nog so ‘n lekker laatreëntjie sal kry voordat die winter aanbreek. (Ons het lekker reën gekry voordat ek nog my nuusbrief kon wegstuur, 20mm. Dankie Here!) Ek is regtig só bly vir elke boer wie se veld baie mooi is, want ai, dit moet darem maar moeilik wees om positief te bly as daar nie weiding vir jou diere is nie. Die Here was baie goed vir die meeste Kalahari-boere.
Julle sal sien dat ek nou met my laaste uitreik, verlede week, heelwat foto’s geneem het waar daar sommer nog panne vol water staan en sommige plaaspaaie steeds gesluit is sedert die derde week in Januarie. Die Kalahari bly darem maar ‘n dankbare wêreld, want hy is met min tevrede. Ek het amper met my bakkie ‘n verspring rekord opgestel toe ek deur ‘n geweldige diep spoelsloot in ‘n tweespoorpaadjie gery het en dit glad nie raakgesien het nie, omdat die gras so ruig was. Gelukkig het niks gebreek nie, want ek het genadiglik nie vinnig gery nie, anders was dit ‘n groot gemors.
Voordat ek vertel van my wonderlike uitreik wat ek nou in April gehad het, wil ek darem net eers so bietjie praat oor wat alles tussen die twee laaste uitreike gebeur het, want daar het so baie gebeur wat ek graag in kort met julle wil deel. Ons was toe by die Paaskonferensie in die Kaap, naby Stellenbosch, en dit was regtig baie geseënd. Die boodskappe was puik en die atmosfeer was wonderlik, want dit bly darem ‘n fees om so saam met ander kinders van die Here by ‘n Paaskonferensie te kan kuier. Natuurlik was ek en Marian ná die konferensie moeër as toe ons daar gekom het, langpad of te not. Ons het elke kans benut om te kuier en dan was die program ook nog lekker vol, so die rus was baie min. Ongelukkig het die skelms baie van ons vrede kom steel met al die inbrake in die voertuie en die kampwa wat hulle oopgesny het terwyl die mense binne-in die wa gelê en slaap het. Nogtans was dit die moeite werd om so ver te ry vir ‘n wonderlike Paasnaweek. Vir ‘n ware Christen is Paasnaweek se herrinneringe seker die kosbaarste om te vier, want Jesus het die duurste prys betaal vir elkeen van ons se sondes.
Gelukkig het die Paasnaweek hierdie jaar in die April vakansie geval en kon ons nog so paar dae langer in die Kaap kuier en belangrike sake afhandel. Ek en Marian gaan DV eerskomende Julie-vakansie vir ons oudste seun in London, wat al sy negende jaar daar bly, kuier en dan vlieg ons van hom af na Marian se jongste broer toe wat al vir meer as vyftien jaar in Duitsland bly. Ons seun help ons gelukkig met die kaartjies, maar die grootste kopseer is die visums, want ons het eintlik geen idee voor die tyd gehad hoe dit werk en wat dit kos nie. Tot ons skok het ons uitgevind dat ons afsonderlik vir die UK visums en die Duitse visums Kaap toe moet ry, daarom kon ons sommer solank die week na die konferensie gaan aansoek doen vir ons Engelse visums. Toe kry ek nog ‘n skok, want toe hoor ek dat hulle met elke visum aansoek ons paspoorte tussen tien en veertien dae inneem en dan kan hulle dit vir ons koerier na ons woonadres toe. Intussen moet ek op my uitreike gaan! Natuurlik het ek dadelik in Upington by Binnelandse Sake gaan navrae doen en darem ‘n nood reisdokument gekry, wat ongelukkig aan die RSA kant ingeneem is toe ek laas naweek teruggekom het deur die grenspos, maar ek kon darem op my uitreik gaan. Nou moet ons weer einde van April spesiaal Kaap toe ry vir die Duitse visums. Al klink dit na ‘n groot voorreg om Europa vir die eerste keer in my lewe te besoek, het ek en Marian al verskeie kere vir mekaar gesê, dis darem goed ons het nie al hierdie dinge voor die tyd geweet nie, want dan het ons sekerlik gebly en wie weet of ons ooit weer die voorreg sal kry? Die Here laat werk soms dinge op die wonderlikste maniere uit.
Terwyl ek in Namibië op uitreik was, laat weet Marian my dat haar broer in Duitsland se vrou met agressiewe breinkanker gediagnoseer is en toé besef ons dat die Here ons daarheen stuur met ‘n doel, want nie een van hulle dien die Here nie. Bid asseblief saam met ons dat die Here vir ons oop deure sal gee om met hulle altwee oor hulle siele te kan praat. Sy is Duits, maar verstaan gelukkig Engels goed.
Amper het ek my Aprilmaand se uitreik gemis en dan sou ek darem nie gelukkig gevoel het nie, maar die Here het weereens my pad gelykgemaak. Ek hou altyd baie styf vas aan die belofte in Spr 3:6 “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ongelukkig kan ek nie ‘n tweede nood reisdokument kry nie, maar ek vertrou dat my paspoort betyds sal wees vir ‘n volgende uitreik.
Ek sê vir Marian hierdie uitreik van my was vir my een van die mees bemoedigende uitreike ooit. Ek kan regtig sê die Here het my gestuur na almal wat geestelike ondersteuning en baie gebed nodig gehad het. Ek het meer krankes en moedeloses besoek as ooit te vore. Ek was by ‘n ou vriend wat sy been baie onlangs verloor het na jare se las, wat aanvanklik met ‘n skietongeluk begin het. Hulle was baie moedeloos, want die operasiewond wou nie genees nie. Daar kon ek maar net bemoedig en ondersteun.
Ek was ook by ‘n oom wat weens swak bloedsomloop gangreen in sy een been gekry het en die ander been is ook nie gesond nie. Die oom boer sy lewe lank en is al diep in sy tagtig, maar hierdie siekte het hom platgeslaan. Natuurlik kon ek hom baie openlik en reguit konfronteer oor sy siel. Ek het een aand daar oorgelaap en ons het diep geestelike gesprekke gehad tot laat die aand. Die oom wou nie hê ek moes gaan slaap nie. Ek het hom so bitter jammer gekry, want hy kan nie meer lê en slaap nie; hy sit en slaap in ‘n gemakstoel, anders pyn sy been te veel.
Hy en die tannie was baie emosioneel toe ek groet om te ry, want toe ek gaan groet, het die oom vir my gevra of ek hom sal begrawe. Ons ken mekaar baie jare en ek ken van hulle kinders ook. Ek dink hy besef dat die tyd dalk kort is, want hy sal nie enige groot operasie aan sy been oorleef nie. ‘n Familielid uit Pretoria het spesiaal plaas toe gekom om die oom en die tannie te versorg, omdat daar niemand anders is om hulle te versorg nie. Die tannie se gesondheid is self besig om ernstig te verswak. Die oom sê hy is gereed om te sterf, maar ek is glad nie seker oor hom of die tannie nie. Bid asseblief vir hulle altwee.
By ‘n ander gesin het ek vir meer as ‘n dag gekuier, omdat die vrou my spesiaal gevra het om haar seun wat in matriek is, te help met ‘n taak wat handel oor ‘n baie kontroversiële geestelike onderwerp. Dit is een van die moeilikste paaie om op hul plaas uit te kom; 14 km duinepad, waar mens eintlik net met ‘n 4×4 voertuig moet ry, maar die Here het my deurgedra. Dit was regtig ‘n baie wonderlike geleentheid, want ek het die wonderlikste geleentheid gekry om die evangelie die hele tyd met hulle te deel. Daar was soveel kans om geestelik te praat, want dis waarvoor hulle my daarheen genooi het. Dis nog ‘n gesin wat ek baie jare ken, maar wat baie staatmaak op ‘n goeie godsdienstige lewe. Dit ontstel my vreeslik as ek sien hoeveel mense verstaan die evangelie van Jesus glad nie. Hulle is blind en doof vir die evangelie(2 Kor 4:3 en 4) en almal se pad loop deur die kerk hemel toe in plaas van deur Jesus (Joh 14:6 waar Jesus sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.”) Predikante gaan eendag met baie bloed aan hulle hande voor die Here staan, omdat hulle die leuen i.p.v. die waarheid aan mense verkondig het. ( lees bietjieEseg 3:16 en 17) Ek weet ek het hierdie mense die waarheid geleer in die tyd wat ek daar was en hulle het geluister. Ek bid net dat die Heilige Gees die na-prediker sal wees.
By ander mense het ek aangery sonder ‘n afspraak. Ek was amper twee jaar laas by hulle. Gelukkig was hulle daar, anders het ek ‘n vyftig kilometer draai gery. Toe ek daar stop, het ek net geweet dat die Here my vandag na hierdie twee mense toe gestuur het. Hulle was baie depressief en geestelik plat. Dit het eintlik baie sleg met hulle gegaan. Twee ware wedergebore Christene van in hul sestigs, wat baie verwerping en vyandskap van hulle gemeenskap ervaar. Hy vertel my ‘n insident waar ‘n jongman, eintlik ‘n jong seun, hom na ‘n boerevereniging vergadering gevloek en beledig het en met die vinger op die bors geslaan het, ten aanskoue van ander, omdat hy plaaswerkers meer betaal as die Namibiese tarief van ‘n skamele R40 ‘n dag. Hulle het geen vriende nie, want hulle getuig openlik van Jesus en probeer sosiale kuiers vermy waar alkohol gebruik word. Hulle sukkel ook baie met arbeid en om die boerdery alleen te behartig. Hulle kan nêrens heen weggaan nie, want as daar ‘n waterkrisis opduik, staan hulle diere sonder water. Hulle evaar baie diefstalle van vee as hulle die slag weggaan en dit voel vir hulle asof die ou duiwel hulle geteiken het en probeer vernietig. Die dag net voordat ek daar opgedaag het, het die vrou heeldag in die sitkamer op die mat gelê en die dag omgehuil. Hulle erken dat hulle opgehou het om Bybel te lees, want hulle is op ‘n geestelike laagtepunt. Ek het die aand daar oorgeslaap en eers die volgende dag na middagete verder gery, want ek kon mos sien wat my besoek vir hierdie gesin beteken het. Ons het saam Bybel gelees en gepraat en gepraat en gebid. Toe ek ry was hulle spyt dat ek moes ry. Dis hoe die Here werk. Hy weet waar die nood en behoefte is en Hy stuur my daarheen. Nou hou ons kontak deur middel van whatsapp, want meeste Namibiërs het Wi-fi fasiliteite deur middel van die skottel.
Ek het nog ‘n hele paar ander besoeke ook afgelê en nuwe mense leer ken, maar ook plase besoek waar daar niemand tuis was nie. Op die grenspos kon ek met ‘n paar persone die evangelie deel en iemand het my gevra om vir hom met my volgende besoek asseblief ‘n Engelse Bybel saam te bring. Oor die algemeen gesien was dit ‘n baie, baie vrugbare uitreik en ek eer die Here daarvoor.
Ja, en terwyl die man so vrugbaar uitreik, drink ek kalmeerpille om deur elke dag te kom in die dierbare ou skooltjie waar Vader my geplaas het. Dit bly maar ‘n saak van tande kners en vasbyt. Ek kom net vanoggend in my skoolmandjie weer op ‘n briefie af wat ek verlede kwartaal se einde van ‘n graad 5 seuntjie afgeneem het tydens klastyd: “Jou Ding gaan bloed Mev.C.M. van Wyk. Van Chal” Aanvanklik was ek vreeslik verontwaardig oor die kind se ongeskiktheid. Watse Ding van my gaan bloei? En dan skryf die man ewe sy naam daar by! Toe sou ek by navraag by die ander onderwysers hoor dat dit ‘n dreigement is om my met ‘n mes te steek. Sien, Chal (wat tans nie meer skoolgaan nie) en ek het baie gebots oor dissipline. Chal behoort aan die plaaslike jeugbende en probeer op enige moontlike manier wys hy bang niemand nie. Intussen het nog ‘n mede-bendelid, jong Lorchestin, en ek ‘n skietstilstand verklaar. Ek probeer die seun aanmoedig en hy bank nie meer al my klasse nie. Dankie tog, want die bankery was onder my neus, voor my klaskamer se oop deur. Roep jy hom, hol hy weg. Ignoreer jy hom, skree hy opmerkings deur die deur en oop vensters. Soms kom hy selfs met ‘n kort guerilla-aanval in die klas in om net gou iemand daar ‘n oorveeg of stamp te gee! Maar soos ek sê: die kalmeerpilletjies help baie!
Ek luister gisteraand nuus en hoor dat leerders op die platteland se punte al hoe meer verswak. Nou weet ek waarom: die regering se hele onderwys sisteem is korrup en werk prestasie teen. Waarom werk as jy in elk geval deurgesit gaan word? In gr. 8 het ou Blue’s gister vir die eerste maal hierdie kwartaal skool toe gekom. In die klas het hy op sy arms neergeval en bly lê soos ‘n ding wat met weerlig geslaan is. Toe ek by geleentheid vra wat die gedagte agter die slapery is, antwoord hy dat hy geen idee het waar sy boeke is nie, so hy kan niks doen nie. Genadiglik (?) is ou Blue’s vandag toe weer afwesig. If you worry, you die. If you don’t worry, you also die. So why worry? So my raat aan almal is: Bid en hou op worry! Al sien ons nie altyd nou die hand van die Vader in alles nie, weet net dat Hy steeds daar is en oor jou waghou…ook op Askham!
Dankie dat u nog my nuusbrief lees en baie, baie dankie vir elkeen wat gereeld vir ons bid en darem nog aan ons dink. As u nog nooit in die Kalahari was nie, kom kuier gerus eendag vir ons. Reël sommer ‘n besoek aan die Kgalagadi oorgrenspark; dis net sewentig kilometer van ons af. Nogmaals dankie vir elkeen se ondersteuning, ons waardeer dit opreg.
Groete in Christus.
Awie en Marian









