(Ai julle, my hart is baie seer, want ek het die mooiste foto’s van hierdie uitreik verloor. Ek het dit per ongeluk afgevee op my foon en ek was gister in Upington by ‘n rekenaar besigheid. Hulle kon dit nêrens opspoor nie, so ek stuur maar net dit wat gelukkig nog behoue gebly het. My nuusbrief was lankal klaar, maar ek het heeltyd gehoop dat ek die foto’s nog iewers kan vind.
20 Februarie 2016
Hallo vriende.
Ek het laasnag baie sleg geslaap. Net na 3uur vanoggend wakker geskrik en gesukkel om weer aan die slaap te raak. Toe ek besef die slaap het van my gewyk, het ek buite op die gras gaan sit en só ‘n wonderlike tyd saam met die Here gehad. Eintlik is dit die kosbaarste tyd v.d dag, om te sien hoe die son treetjie-vir-treetjie nader sluip voordat hy uiteindelik sy kop by die horison uitsteek, en om te sien hoe die natuur ontwaak. Sesuur het die voëltjies en die duiwe al in hulle hordes neergesak voor die huis, op soek na kos, omdat hulle gewoond is dat ons elke oggend vir hulle saadjies uitgooi om te vreet. En toe kom herrinner die Vader my aanMatt 6:26 en 27 “Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lente voeg.” Ja, en dan kwel ons ons só maklik oor die tydelike dinge, in plaas daarvan dat ons dit eerder alles aan ons Hemelse Vader afgee en Hom vertrou vir alles! Hy sê dan uitdruklik ons is vir Hom baie meer werd as die voëls van die hemel, vir wie Hy elke dag sorg uit Sy natuur. Só kon ek dan hierdie Sondag met ‘n ongelooflike stuk vrede in my siel tegemoet gaan en wat ‘n wonderlike dag was dit nie!
Ek was op die ou end net vir ‘n week, vroeg in Februarie, op uitreik in Namibië omdat my bakkie se kappie nog nie so klaar was dat ek in hom kon slaap nie. Ek het my byna self oordraad gedraai om net die dekselse kappie betyds klaar te kry, maar toe die tyd my vang, moes ek maar ry en eers vergeet van die kappie. Tog het alles baie goed en baie geseënd uitgewerk. Sondagaand die 7de het ons ‘n wonderlike byeenkoms op ‘n plaas tussen Aroab en Koës gehad. Dit was eintlik ‘n dankdiens vir die goeie reëns wat die Here vir ons gegee het. Ek sê ons, want ek voel myself absoluut deel van daardie boeregemeenskap, omdat ek ‘n passie vir die boere in die suide van Namibië het en daarom met hart en siel onder hulle arbei. Ek kan my werklik assosieer met hul lief en leed, omdat dit is waar die Here my heen gestuur het en waar my hart is. Min mense verstaan regtig my bediening, maar ek kom agter die Namibiërs begin verstaan noú my roeping daarheen, na drie jaar. Dit het regtig tyd gevat voordat hulle dit begin verstaan het, want so baie van die stoere en tradisionele kerkgangers het my wantrou en gedink ek is eintlik daar om ‘n EG Kerk of gemeente te kom stig, maar dit was nie die roeping en opdrag wat ek van die Here ontvang het nie. Vandag besef ek dit sou ‘n groot fout gewees het, want dan sou soveel deure en harte vir my gesluit gewees het. Met hierdie dankdiens het ek maar net weereens besef dat mense se harte al meer en meer oop is vir my bediening, en ek dank die Here baie daarvoor. Ons was weereens amper 30 volwassenes, nadat seker vier of vyf gesinne verskoning gemaak het dat hulle nie daar kon wees nie. By hierdie klein byeenkomsie was daar mense van minstens vyf verskillende Kerkdenominasies verteenwoordig. Klink amper ondenkbaar, maar dis regtig so. Ek het byna self nie besef dat die boere aan soveel verskillende Kerke behoort nie. Dit was vir my ‘n absolute bewys dat God my onder almal wil gebruik, want kerkgrense beperk God se werk. Meeste van hierdie mense kom nooit onder een dak saam vir ‘n geestelike byeenkoms nie en na die tyd het almal heerlik saam gekuier sonder enige probleem. Ons het voor die tyd heerlik saam gesing, want ons het ‘n uithaler orrelis gehad wat ons daar op die oop-grasperkteater begelei het.
Die tafels het soos altyd gekreun onder die kos, en almal het heerlik gekuier met mekaar, terwyl ek eers agterna uitgevind het dat daar mense was wat eintlik glad nie om een vuur saam sit nie, maar die Here werk op die wonderlikste manier denkbaar. Hulle sou mos nie daar gewees het as hulle nie ‘n behoefte gehad het nie. Ek het net so lekker met al die mense gekuier wat ek eintlik baie swak geken het en talle van die boere en hul vrouens het my uitgenooi vir ‘n besoek. Dis toe net hier waar ek besluit om die yster te smee terwyl hy warm is. Een vrou het by my kom staan en my uitgevra oor bekering en geloofsekerheid. Ek het dadelik ‘n afspraak met haar gemaak en die volgende oggend vroeg was ek op die plaas. Na ‘n lang gesprek was sy onder diepe sonde oortuiging en het haar hart vir die Here gegee. Een van die dinge wat haar geweldig gepla het, was haar en haar man se onverskillige taalgebruik. Sy het dadelik na haar oorgawe die begeerte uitgespreek om totaal van krui- en lastertaal verlos te word. Dit was vir my só bemoedigend om haar opregte oorgawe te sien. Ongelukkig was haar man nie Maandag by die huis nie, maar hulle het altwee dienste, November se biddag vir reën en nou se dankdiens, bygewoon en volgens haar is haar man nog meer bewus van sy verkeerde lewe as sy en baie bewus van die Here se bemoeienis met hom. Bid asseblief vir hierdie man en vrou, want ek wil met my volgende uitreik weer daar ‘n besoek gaan aflê.
Ek het heelwat besoeke afgelê, o.a by mense waar die man my so ver moontlik probeer vermy, maar ek het hom bietjie verras, want hulle staak hul werk tussen twaalf en vier uur. Toe vang ek hom by die huis, waar ek meestal net sy vrou alleen by die huis kry. Ons het wonderlik gekuier, soveel so dat hy my gevra het om hom vorentoe vir ‘n paar weke met iets op die plaas te kom help. Sal maar sien of dit gaan realiseer, maar hy het my baie vriendelik genooi om eendag by hulle te kom oorslaap tydens my uitreik. Dis net die Here wat mense se harte so oop en ontvanklik maak en dís o.a. mense wat aan geen kerk behoort nie en nooit in ‘n kerk kom nie. Ek nooi hulle elke keer uit, maar sy vrou sê vir my hy weier volstrek om enige geestelike byeenkoms by te woon. Ek glo sy hart sal ook nog verander; daarvoor hou ek die Here baie styf vas.
Een aand het ek by mense op die plaas aangekom waar die man ‘n plaasbestuurder is op drie groot plase wat aanmekaar grens. Hy werk hom oor ‘n mik en word steeds deur die eienaars soos ‘n slaaf behandel. Dit was so goed dat ek daar by hulle kon oornag, want hulle het hul harte teenoor my oopgemaak en só baie dinge met my gedeel wat hulle met niemand anders kan deel nie, want hulle leef in geweldige afsondering en in ‘n een-slaapkamer huisie waar hulle niemand kan ontvang nie. Ek het daardie nag agter op my bakkie onder die sterre hemel geslaap en drie uur daardie oggend het my tande geklap van die koue, want my kombersie was te dun en min vir daardie Kalahari koue. Dis mos die ding van die Kalahari, in die dag brand die son jou halfpad dood en in die nag kry jy koud. Gelukkig was daar darem warmer klere om aan te trek en kon ek toe verder slaap. Ons het baie oor die Here gesels en ek is oortuig dat hierdie man ‘n lewende verhouding met die Here het. Ek is net nie heeltemal seker oor sy vrou nie, maar ek het die weg tot saligheid met haar gedeel en sy het net aandagtig geluister en nie veel gesê nie.
By hierdie man en vrou het ek gesien hoeveel die meeste van ons het om die Here elke dag onophoudelik voor te dank. Hulle het nie eers drinkbare water in hulle huisie nie. Die boorgat by die huis se water het só ‘n hoë gehalte loog(sout en minerale) dat die diere dit nie eers wil drink nie en daar is ook nie reënwater tenks nie. Hulle filter elke dag hulle drinkwater en dan lyk daai afsaksel soos dit wat mens soms sien in ‘n klein babatjie se doek. Ek het hulle só uit my hart jammer gekry. Die aand was die kos op die tafel ook maar skraps, maar die gasvryheid en liefde was oorvloedig. Dis mense wat nooit ‘n dominee sien nie, want hulle behoort ook aan ‘n ander kerk, waarvan die leraars soms uit die RSA kom om hulle te bedien. Ek weet hulle het my besoek geweldig geniet en waardeer.
Op ‘n ander plaas het ek net voor middagete aangekom. Die oom en sy kleinseun was nog in die veld. Die oom is diep in die tagtig en hy boer nog steeds. Die gasvryheid is só wonderlik, ek het skaars gesit toe sê die tannie vir my ek moet sommer die middag saam met hulle eet. Wat ‘n lekker bord boerekos was dit nie gewees nie! Rys, VLEIS, vleis en aartappels! Ai, en waardeer hierdie oumensies nou my besoek, want hulle sien so min ‘n dominee en selfs ander mense.
Op ‘n ander plaas kry ek die boer elke keer voor die televisie en hy weet baie meer van aandele en die wêreld ekonomie as van boerdery. Tog sê hy boerdery is nog steeds lonend, al reën dit só min. Om ‘n gesprek met hom te voer is maar moeilik, want die televisie interesseer hom baie meer as my geselskap, want hy bly lê sommer op die bank, reg voor die TV en verwissel die kanale sonder ophou. Nooi ek hom uit na ‘n geestelike byeenkoms, dan sê hy net dankie. Hy sê darem dankie! Sjoe, dis soms baie, baie moeilik om met ons eie mense oor die Here te praat, want baie van hulle stel nie regtig belang nie. My taak is seker moeiliker as wat enige een van u besef, om te ry van plaas tot plaas en soveel verskillende mense en verskillende reaksies te kry, maar steeds bly dit vir my ‘n baie groot voorreg om vir die Here te werk.
Woensdagaand het ons ‘n fantastiese huisbyeenkoms op ‘n ander plaas gehad, waar ons so lekker saam gekuier het rondom die Woord tot baie laat.
Op ‘n ander plaas het ek weer saam met die boer skape bymekaar gemaak en later maar besluit om saam met die plaaswerkers die skaap ín die bloedige son aan te jag, duin op en duin af, eerder as om in daai plaas jeep te ry wat alles in my losgeskud het. Tog was dit ook lekker en ‘n groot ervaring. Ken julle ‘n dorper skaap? Hy wil altyd in ‘n ander koers hardloop as wat jy wil hê hy moet hardloop. Hulle maak nes ons mense! En as daai dorpers só hul eie koers kies, dan skreeu daai boer uit sy bakkie, “Keeeer daaaai skaaaap!!!” Sjoe, maar was ek dors en honger na daai sessie! Die son het my só laat sweet dat ek skoon gedehidreer was na die tyd.
Op Koës het ek toe gaan kyk na al die nuwe erwe wat daar uitgesit is en toe maar aansoek gedoen om ‘n erfie te koop, maar niemand weet wanneer daar dienste op die nuwe erwe sal wees of wat die erfbelasting sal wees nie. Om die waarheid te sê, ek het gewonder of die klomp personeel daar by Koës se dorpsraad enige iets weet, want hulle kon my net sê wat die erf sal kos. Verder kon hulle hulle geen vraag beantwoord nie. Nou hoop en bid ek maar net dat ek voor my sterfdag die erf op my naam sal hê en dienste daarmee saam.
Op pad na my laaste plaas toe, waar ek ‘n afspraak gehad het, het my moed my begewe om die plaaspad deur die pan, wat soos ‘n see gelyk het, aan te pak. Ek het toe maar eerder verder gery en nog bietjie op Aroab gaan kuier en toe huis toe gekom. Ek was verslae oor die damme water wat ek langs die pad gekry het en die paaie wat byna onrybaar was soos dit verspoel het. Ek het net besef as ek vroeër Namibië toe gegaan het, sou ek dalk self vasgeval het in al die water en modder.(al hierdie kosbare foto’s is verlore.)
Terug by die huis het ons ook lekker gekuier saam met vriende uit Mosambiek. Dit was ‘n baie geseënde tyd.
Ons is maar almal bietjie benoud, want sedert die groot reëns, meer as ‘n maand gelede, bly die opvolg-reën weg en alles is besig om vrek te brand in hierdie warm son. Bid asseblief saam met ons dat die Here spoedig weer vir ons reën sal stuur.
Ek werk weer non-stop aan die kappie om dit nou klaar te maak vir my volgende uitreik, vroeg in Maart. Soos u seker kan aflei, was my uitreik baie geseënd en sien ek reeds uit na my volgende uitreik.
Baie dankie vir elkeen van u wat steeds belangstel in ons bediening, nog ons nuusbriewe lees en gereeld vir ons bid en ondersteun. Ons waardeer julle almal regtig baie.
Tot volgende keer.
Groete in Christus.
Awie en Marian














