Awie & Marian – Nuusbrief Sept 2016

2016

Hallo liewe vriende. 

Ek het eintlik eers laat in die maand op uitreik gegaan, want daar het kort-kort iets voorgeval sodat ek nie vroeër kon vertrek nie. Soms beplan mens mos jou dinge, maar dit werk nie altyd so uit soos jy dit beplan het nie, maar dan besef jy agterna God se hand was daarin. Laat my só baie dink aan die bekende gesegde wat sê; “Die mens wik, maar God beskik.” 

Ek het die eerste naweek in September die wonderlike geleentheid gekry om ‘n begrafnisdiens i.d Kgalagadi-oorgrenspark, so 70km van Askham af, waar te neem. Een van die blanke veldwagters het selfmoord gepleeg en toe vra die parkbestuurder my om die diens waar te neem, vanweë my vriendskap met van die personeel wat daar woon. Ongelukkig het ek nie die jongman geken wat selfmoord gepleeg het nie, maar ‘n begrafnisgeleentheid is die beste tyd om met die mense wat daar is oor hulle siele te praat en ek het die geleentheid met altwee hande aangegryp. Die oorledene was ‘n baie gewilde persoon onder almal van die park en selfs die bruin gemeenskap buite die park. Daar was seker niks onder honderd mense die aand by die diens nie, waarvan ongeveer dertig blankes. Ek het ‘n sterk evangelie boodskap gebring en agterna geweldige positiewe reaksie gekry. Verskeie mense wat in die park woon het my reguit gevra of ek vir hulle dienste op Sondae sal kom hou as hulle my uitnooi. Natuurlik sal ek dit doen. Bid saam met my dat die Here vir my daar deure sal oopmaak.

Die tweede naweek in September was ek en Marian die Sondagoggend by die Polisiestasie op Witdraai en daar het ons baie lekker geestelik gekuier met die vier lede van die SAPD wat aan diens was. Die een konstabel wat aan diens was het my uitgenooi om ‘n afspraak te maak met die Kaptein wat die bevelvoerder van Witdraai Polisiestasie is en hom te vra of ek nie by geleentheid vir hulle ‘n geestelike boodskap kan bring nie. Voel regtig vir my en Marian asof die Here op plekke en maniere vir my nuwe deure oopmaak waaraan ek nooit eens gedink het nie.

Die week wat verby is was ek op uitreik in Namibië. Soos gewoonlik het ek eers met almal by beide grensposte, aan die RSA en Namibië se kant, gekuier en met almal oor hul verhouding met Jesus gepraat. Ek het altyd paar Sakbybeltjies en baie traktaatjies, asook ‘n klomp preke op DVD by my in die bakkie. Ek het nou my laaste Afrikaanse Sakbybeltjies uitgedeel, maar gewoonlik soek meeste van hulle Engelse Bybes, wat ek ongelukkig nie het nie. Die Polisie aan die RSA kant kom gewoonlik uit die stede en die aan die Namibiese kant is Engelssprekende Ovambo’s uit die Noorde van Namibië. Vriende, ek wil regtig vir u sê, dat hierdie mense geweldig ontvanklik is vir die Evangelie van Jesus. Ek deel gewoonlik die evangelie  met hulle en dan vra ek hulle reguit of hulle hul al bekeer het van hul sondige lewe tot die Here Jesus, waarop hulle gewoonlik almal openlik en eerlik, maar tog skaam ook, teenoor my erken dat hulle nog nie bekeerde Christene is nie. Ons blanke mense sal hulle bloedig vir my vererg as ek hulle só reguit sou konfronteer. Dit ontstel my elke keer as ek besef hoe hard ons eie mense se harte vir die evangelie is en hoe hulle trots en tradisie tussen hulle en hul saligheid staan. Let bietjie op 1 Joh 5:12 wat sê:”Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”  In Ef 2:12 sê Paulus uitdruklik, “as julle sonder Christus is,…is julle sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld.” Die ding wat my seker die meeste hiervan ontstel is dat die meeste mense dit nie begryp nie! Ek het juis op my uitreik met baie mense Joh 5 vanaf vers 16gedeel, waar Jesus met die wettiese Jode praat oor hulle geestelike blindheid en waar Hy vir hulle invers 39 en 40 sê: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle méen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” Dis juis hierdie boodskap wat my dryf om met mense oor Jesus te praat, want baie weet van Hom, maar bitter min ken Hom persoonlik as hul Saligmaker.

Op Aroab het ek verneem die dominee van die dorp gaan einde November op vervroegde pensioen omdat die gemeente hom nie meer finansieël kan bekostig nie, en terwyl ek onder die boere van die Koës distrik beweeg het, was daar Dinsdagaand en Woensdagaand i.d twee verskillende wyke v.d Kalahari wyksbyeenkomste waar daar hoofsaaklik oor die finansieële krisis van die gemeente gepraat was. Die Kerk in die algemeen bevind hom na my mening seker in een v.d moeilikste tye ooit in SA en Europa, en tog is dit ook een v.d profetiese voorspellings wat die eindtye, net voor Jesus se wederkoms, vir ons aandui. ( lees gerus 1 Tim 4:1 en 2 Tim 3:1-7 )

Ek het verskeie plase besoek en wonderlike tye ervaar saam met almal waar ek gekuier het. Ons het lekker saam gelag, soms saam trane afgevee, saam die Woord van God ondersoek en lang ure rondom die Woord spandeer, saam gebid en ook lekker saam om die vuur gekuier. Ek het onder andere weer by oom Corrie op die plaas gekuier nadat hy sy been in Aprilmaand verloor het. Dit was eintlik ‘n baie emosionele ervaring om saam met oom Corrie veld toe te ry in sy Land Cruiser bakkie, terwyl hy op 86jarige ouderdom self sy bakkie met een been bestuur het en dit het gelyk soos ‘n ou ervare bestuurder. Ons het eers almal saam boeke gevat in die sitkamer voordat ek verder gery het: ek, oom Corrie, tannie Anita, hul huisverpleegster en hul jarelange huishulp en kok, Miekie, wat self al 78jaar oud is en krom soos ‘n riet loop v.d artritis. Sy werk al 40 jaar by hulle, maar praat nou sterk van aftree en wat gaan dan van die oom en tannie word, want tannie Anita kan niks meer self doen nie.

Ek het op verskeie plase aangekom waar die mense my soos ‘n verlore seun ontvang het en soms vir my vies was dat ek verder wou ry. Ek het ook ‘n paar ander mense ontmoet op my pad wat ek nie geken het nie en wat my hartlik uitgenooi het om vorentoe eendag vir hulle te kom kuier. Dit was regtig ‘n aangename uitreik met lang stories om oor te vertel. Ongelukkig kon ek nie die Kalahari tweespoorpaaie andurf nie, want my bakkie se skokbrekers is gedaan en ek kon ‘n maand gelede toe ons in Upington was nie nuwe skobrekers op die dorp kry nie; dit moet eers bestel word. Met die eerste geleentheid wat ek nou weer Upington toe ry, sal ek die skokbrekers moét vervang.

Dit bly vir my seker een v.d wonderlikste dinge om te kan ervaar hoe die Here my op paaie lei en my elke keer na die regte mense toe stuur, waar mense bemoediging of ernstige gebed nodig het. Donderdagoggend het ek gery met die gedagte om ‘n spesifieke koers in te slaan en toe ek so ‘n kilometer in die rigting op die grootpad gery het, hoor ek duidelik hoe die stem van die Heilige Gees vir my sê, “Draai om en ry in die teenoorgestelde rigting”. Ek weet agterna dat dit presies die regte ding was wat ek gedoen het. Soos altyd het ek weer voor ‘n paar plaashuise gestop waar die boer en sy vrou nie tuis was nie, maar dan aanvaar ek dit was ook met ‘n rede. 

Op een plaas het ek die aand agtuur gestop en net gevra of ek daar in my bakkie mag oornag. Ek soek net krag en ‘n stort. Ek is baie vriendelik en gasvry onvang en later die aand het ek ook nog ‘n heerlike bord boerekos saam met hulle geniet. Dit was my eerste ete vir die dag. Só sorg die Here altyd vir my. 

Nou vra ek maar net weereens dat julle asseblief saam met my sal bid dat die Here die na-prediker van Sy Woord sal wees en Hom saam met my sal vertou vir al meer en meer oop deure en oop harte. Ek sien die honger en behoefte by baie van die mense wat ek besoek na geestelike leiding en geestelike besoeke.

As iemand dalk ‘n kontak het waar ek ‘n paar Engelse Sakbybeltjies goedkoop in die hande kan kry, laat my weet asseblief. Ek sal dit geweldig baie waardeer.

Kyk, vandag lyk die Kalahari soos jy hom nie wil sien nie.  Die wind waai al die hele dag.  Die lug is vaal van die stof.  Jou sinusse verstop heel, maar ai, dan land jy vanoggend (soos ek) by die skool…en die kinders het besluit hulle vakansie begin ‘n week te vroeg.  En toe het ek ‘n salige werksdag! Nie ‘n mens naby die klas nie!  My skoolhoof se seun was voorverlede naweek saam met ‘n groep jongmanne in ‘n lelike motorbotsing met ‘n jagbakkie van een van die plase net buite die dorp.  Drie van die seuns is dood en twee, waaronder Mnr Manyora se seun, Elton, het in die hospitaal beland.  Hy het die naweek saam met sy  ouers van Kimberley hospitaal af huis toe gekom.  Ek ken albei hierdie jongmense wat die ongeluk oorleef het.  Vir een van hulle het ek skoolgehou.  Nou wonder ek of iemand in hierdie tyd al met hulle gepraat het oor hulle kosbare siele.  Bid asseblief saam met my vir ‘n geleentheid om met hulle albei te praat, asook vir voorbereide harte.  Eer ook die Here saam met my, want Mnr Manyora-hulle het ‘n paar jaar gelede hulle jonger seun aan die dood afgestaan – ook in ‘n motorongeluk!  Ons bid ernstig vir reën.  Die sandspoor waarin ek elke dag met my ou Sparkie moet ry, is los en dan trap die perde hom nog sinkspoor ook.  Soms ry ek gly-gly in die sand en bid kliphard dat ek deur die papkolle sal kom.  En tog, na amper drie jaar hier, is ek dolgelukkig om saans net maanlig en sterretjies in plaas van stadsliggies te sien!

Nogmaals dankie vir elkeen se ondersteuning, gebed en omgee vir my en Marian hier i.d Kalahari. Soms verlang ons net na ou vriende en wens hulle wil sommer net bietjie vir ons kom kuier sodat ons sommer dae en nagte om kan gesels en lag. Dis maar eensaam hier op Askham. 

Groete in Christus tot ‘n volgende keer.

Awie en Marian

KALAHARI BEDIENING

Ds Awie en Marian van Wyk

Epos: awievanwykkalahari@gmail.com

Selno: 0788435317

Absa spaar: Kalahari bediening

Rek no: 9157947613

Posadres: Posbus 56

ASKHAM

8814

 

Posted in sending.