Awie & Marian Nuusbrief – Julie 2017

2017-07-24

Hallo my vriende.

 Die vakansie is verby en Marian het vanmôre baie teensinnig skool toe gegaan, want ai, die drie wekies se vakansie was darem net te lekker. Ons twee het die middelste week van die vakansie saam op uitreik Namibië toe gegaan en eers laas Sondagnamiddag teruggekom by die huis. Dit was wonderlik om haar saam op uitreik te kon vat, want dis mos baie lekkerder om my vrou by my te hê as om stoksiel salig alleen die ver paaie aan te pak en uiteindelik het sy teenoor my erken dat sý nou self gesien en ervaar het hoe die Here my gebruik onder die Namibiërs. Elke besoek en elke aanslag is anders, want eintlik gaan dit oor die omstandighede en hoe die Heilige Gees my lei. Ek sal netnou so bietjie meer vertel wat presies ek hiermee bedoel. 

Ons het onder andere die jong paartjie besoek wat op my vorige uitreik tot bekering gekom het. Dit was baie noodsaaklik dat ek ‘n opvolgbesoek moes bring, want hulle het baie vrae en soek baie geestelike raad en leiding by my. Dit was so wonderlik om by hulle besoek te kon aflê, want hierdie twee jongmense is regtig aan die brand vir die Here. Dis só lekker om dit te sien en dit bemoedig my ook baie om net vol te hou met die werk wat ek daar doen. Hulle vertel vir ons hoe hulle teenoor al hulle vriende en familie getuig dat hulle tot bekering gekom het en vertel van die vyandskap wat hulle klaar ervaar. Die vroutjie is baie ywerig om geestelik te groei, maar altwee van hulle het ‘n ernstige passie om die Woord van die Here beter te leer ken.

So jaar en ‘n half gelede het ‘n vroutjie ‘n paar plase van hulle af ook tot bekering gekom. Ek het haar weer agterna ‘n paar keer besoek, maar hulle bly ongelukkig op ‘n baie afgesonderde roete en haar man is baie vyandig teenoor die dinge van die Here, daarom maak hy dit vir sy vroutjie baie moeilik om geestelik sterk te staan en op haar eie geestelik te groei. Mariska het nou onderneem om haar te besoek en haar geestelik te ondersteun. Gelukkig ken hulle mekaar redelik goed. Ek is só dankbaar daaroor!  Wys maar net hoe die Here werk. Hierdie vroutjie het al by geleentheid teenoor Mariska getuig van haar bekering, maar op daardie stadium was Mariska nog nie gereed om haar saak met die Here reg te maak nie. Nou kan sy alreeds daardie vrou geestelik bystaan en ondersteun. Dis darem maar ‘n wonderlike God wat ons aanbid; Sý weë is nie ons weë nie! Toe ek my bekommer het oor hierdie eerste vroutjie se geestelike groei, toe red die Here ‘n ander vroutjie naby aan haar sodat hulle mekaar geestelik kan ondersteun en dra.

Ons het die aand daar by hierdie twee jong kinders van die Here oorgeslaap en tot in die vroeë oggendure om die vuur gesit en kuier en geestelik gesels. Marian en Mariska het kans gekry om lekker alleen te kuier en sy het baie vrae gehad. Ek en Marian lag so lekker agterna, want die volgende oggend is ek nog besig in die kamer, toe Mariska daar inkom en vir my sê, “Oom, nou moet ek eers bietjie met jou gesels, want ek het soveel goed wat ek by jou wil weet.” En daar haak ons seker vir ‘n uur vas rondom die Bybel. Dit was een groot fees om die ywer en passie van sulke jong gereddes te kon sien en ervaar!

Op ‘n ander plaas het ons by ‘n ma en haar seun gekuier. Marian en hierdie vrou van vroeg in haar sestigs, is al amper soos boesemvriendinne deur die whatsapps. Dit was die eerste keer wat ons saam daar gaan kuier het, alhoewel sy ons al baie uitgenooi het. Ek moet darem sê, ek het hulle al eenmaal vroeg in die jaar gaan besoek. Dis  baie ver tot op haar plaas. Ons het die dag vreeslik lekker gekuier en die aand voor die TV, rondom bakke vol biltong, droëwors en chillibites, gekuier. Dis mos nou ‘n man se hemel op aarde daai! Daardie aand toe ek en Marian in die kamer is, sê sy vir my, “Weet jy, ek en E… het vandag so lekker daar by die huis gekuier en in die bakkie gesels, maar daar was net nooit die regte geleentheid om met haar geestelik te kon gesels nie.” Die volgende oggend sou ons redelik vroeg weer verder ry, en Marian was bang ons gaan nie die kans kry om met hierdie ma en seun geestelik te praat nie, alhoewel hierdie vrou al die regte geluide maak van iemand wat in ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus staan, wil mens tog seker maak. Ek en haar seun het met my vorige besoek, en nou weer, baie kans gekry om te gesels en eers goeie bande te bou. Die vorige keer was moeilik, want daar was ander kuiermense en die omstandighede was nie reg nie. Ek sê toe niks vir Marian nie, maar intussen weet ek klaar in my hart die Here gaan die volgende oggend vir ons daar om die kombuistafel die geleentheid gee om lekker geestelik te praat, want dis gewoonlik by daardie geleenthede waar ek my skietgoed reg het. Dit was toe ook só! Ons het seker van half agt af die oggend daar om die kombuistafel gekuier en toe doen ek wat ek gewoond is om te doen: ek vra vir hulle of ons maar saam kan stiltetyd hou en daar maak die Here die deur wawyd oop. Wat ‘n geseënde geleentheid was dit nie gewees nie! Ek het hulle baie openlik, maar ook baie respekvol oor hul verhouding met Jesus gekonfronteer. Dit het vinnig laat geword, want die tyd het eenvoudig verby gevlieg en ons het diep dinge gepraat met mekaar. Toe ons die oggend wou ry, het hierdie vrou my en Marian so bedank vir ons besoek en ons geestelike gesprekke van die oggend dat ons behoorlik swaar van mekaar afskeid geneem het, want ons kon hulle waardering regtig aanvoel. Dit was weereens ‘n wonderlike kuiertjie gewees.

Dis mos waarna ek daar aan die begin van my brief verwys het. Die Here maak self die deure oop, maar op Sý tyd en op maniere wat Hy vooraf bepaal het. Dís hoe die God werk!

Dié Julievakansie se naweke is gewoonlik ‘n baie bedrywige tyd in die Kalahari. Die vorige naweek was die gebruiklike Koës Rally daar in die pan net buitekant Koës. Dan word daar resies gejaag in die pan en teen die hoë sandduin aan die kant van die pan. Almal kom toets gewoonlik hul plaasbakkies en selfs hul nuwe bakkies en motorfiete daar teen daardie hoë Kalahari-sandduin. Die aand word daar lekker feesgevier. Ek was nog nooit self daar nie, maar ek het al baie stories oor die Koës Rally gehoor en besef maar net dis nie ‘n plek waar ek wil wees nie. Die betrokke naweek wat ons in Namibië was, het Aroab die Vrydag ‘n groot boeresport byeenkoms gehad, waar daar ook allerhande kompitisies gehou was met perde, motors, motorfietse, sakresies, eierresies ensovoorts, ensovoorts! En Saterdag was daar ook ‘n boeresportdag op Askham. Die Kalahari het omttrent gelewe! Gelukkig het ons alles gemis, maar daar in Koës het ons talle vakansiegangers en jagters uit veral die RSA gesien en almal het die avontuur van Namibië kom geniet. Geen wonder die paaie was so verskriklik uitgetrap en vol losgruis en groot klippe nie. Dit was seker die slegste wat ek daardie paaie nog gesien het.

Saterdag en Sondag het ons by ou bekendes op die plaas gekuier, waar ons altyd nuwe mense leer ken, want dis nou een van daai boere by wie die Ark altyd oop is! Hoe meer siele, hoe meer vreugde en almal is altyd welkom. Dis altyd ‘n baie geseënde kuier daar op daai plaas tussen al die mense. Die Saterdagmiddag het hierdie vriend van my vir my gevra of ek gou saam met hom na ‘n ander boer toe wou ry wat twee vlakvarkies in ‘n hok gevang het en vir hom gegee het om hulle groot te maak. Min het ek besef hoe ver dit is en wat daardie besoek sou inhou!  Ek het eers agterna besef dat ons meer as 120 kilometer heen en weer gery het en dat die Here vooraf vir my ‘n afspraak op daardie plaas gemaak het. 

Ons was seker al ‘n halfuur by hierdie mense wat ek toe vir die eerste keer in my lewe ontmoet het, voordat die Here vir my ‘n wonderlike deur oopmaak. Hierdie man het so gesit en vloek en die Here se Naam gelaster dat ek en my vriend dit later nie langer kon uithou nie. Net toe ek besluit ek gaan nou vir die man iets sê, toe haak hierdie vriend van my af en sê, “Jong, jy praat só en jy besef nie eers dis ‘n predikant wat ek hier met my saamgebring het nie!” Daar maak die Here die deur wawyd oop. Ek bedien daardie mense met die evangelie sonder om doekies om te draai, maar julle sal my nie glo nie, die man was stil en die vrou sê vir my met trane in haar oë, “Die Here het jou vandag na ons toe gestuur.” Hulle het altwee in 1986 tot bekering gekom en vir jare die Here gedien, totdat haar man ‘n drankprobleem onwikkel het en heeltemal afvallig geraak het. Hy het sommer openlik voor ons almal erken dat hy ‘n alkoholis is en dat hy hulp dringend nodig het. Ek het met hulle en hul kinders wat op die buurplaas boer, ‘n afspraak gemaak vir my volgende uitreik in Augustusmaand. Die vrou dien nog die Here, maar een van hul grootste probleme is die feit dat hulle direk na hul bekering uit die NG kerk bedank het en toe nooit ‘n geestelike tuiste gehad het om by in te skakel nie. Hulle het ook nie geestelike vriende nie en dit het my so laat dink aan daardie illustrasie wat ons baie maal gebruik as ons sê ‘n kooltjie kan nie op sy eie brand nie; hy moet tussen die ander kole lê anders gaan hy dood. Net so ook met ons geestelike lewens. Daar is wel mense wat op hul eie geestelik oorleef, maar ons het eintlik almal geestelike vriende en ‘n geestelike ondersteuningsraamwerk in ons lewe nodig. Hulle het my gevra om sommer ‘n byeenkoms op hul plaas vir hulle en hul kinders te kom hou. Ek het ook hul kinders ontmoet voordat ons gery het en ook hulle was baie opgewonde toe hul ma vir hulle vertel wie ek is en wat ek doen. Bid asseblief saam met my dat die Here my sal gebruik om hierdie familie geestelik te kan lei en ook hierdie man te help om van sy probleem verlos te word. 

Ons was net ‘n paar dae by die huis toe hier een aand mense uit Namibië by ons kom oorslaap het. Die oggend nadat ons saam ontbyt het, het ons ook met hulle saam stiltetyd gehou en wat ‘n geseënde tyd was dit nie ook gewees nie! Ek is vreeslik opgewonde en baie dankbaar teenoor my Hemelse Vader vir die wonderlike oop deure en groot geleenthede wat Hy vir my gee om baie mense in Namibië te kan bedien wat in groot afsondering lewe en ‘n groot geestelike nood en honger het. 

Weereens dankie vir u as my geestelike vriende wat gereeld my nuusbrief ontvang, dit lees, vir ons bid en diegene wat ons ook ondersteun! Die Here alleen weet hoe ek elkeen waardeer wat met ons kontak maak en nou en dan net ‘n positiewe e-possie of whatsappie stuur. Mag die Here julle almal ryklik geestelik seën.

Miskien moet ek ook so ‘n ietsie bysit vandag. Ja, die skool het begin en my voete het gesleep!  Maar tot dusver gaan dit goed; verstommend goed!  Soos sommige van julle weet, het ek al by geleentheid gewonder wat my eintlike rol en roeping hier in die Kalahari is, veral as ek myself by die skool verloor met die kinders.  Gelukkig is daardie dae van hulle probeer vang om te moor, nou al verby.  Jesus het my al baie verander in die tyd hier.  Ek voel meer gebalanseerd in my siening en ervaring van en met die kinders.  Met die kollegas kom ek oor die algemeen baie goed oor die weg.  Gedurende die vakansie het Vader duidelik aan my gewys dat ek wel ‘n belangrike doel hier het.  Enersyds is ek Awie se steun en gebedsanker.  My gebede help hom om aan te gaan.  Soms gee die Heer aan my ‘n antwoord wat hom deur ’n donker drif trek.  Andersyds het ek ‘n bediening onder my kollegas.  Derdens het ek ontdek dat ek ‘n langafstand bediening met my selfoon het.  Dit is vir my heerlik om vir ou vriende en kennisse te kan bid wanneer hulle krisisse ervaar. Glo my, my gebedslys is lank.  Soms herinner die Heilige Gees my aan ‘n boodskap wat ek vir iemand moet stuur, en dan hoor ek agterna dit was die regte boodskap op die regte tyd. Ek kan eerlik getuig dat ek geestelik en bedieningsgewys so vervuld voel.  Daarvoor kan ek nooit genoeg dankie sê nie.  Askham is regtig die plek wat die Here vir ons voorberei het toe ons nog geen gedagte daaraan gegee het nie.  Ook van my kant af: mag die Heer jou oorvloedig seën en jou geestelik verryk.  Onthou dat ons vir jou ook bid.  Marian

Groete in Christus tot ‘n volgende keer.

Awie en Marian  

KALAHARI BEDIENING

Ds Awie en Marian van Wyk

Epos: awievanwykkalahari@gmail.com

Sel no: 0788435317

Absa spaar: Kalahari bediening

Rek no: 9157947613

Posadres: Posbus 56

ASKHAM

8814

Posted in sending.