Awie & Marian Nuusbrief – Sept 2017

24 September 2017

Hallo my vriende

 

Sjoe, die wêreld is só verskriklik deurmekaar! Dis die een groot aardbewing na die ander in verskillende dele van die wêreld, tornado’s wat verwoesting saai, oorstromings, dreigende oorloë tussen lande soos Noord-Korea en Amerika, droogtes en hongersnode. (Matt 24:7)  Daar is te veel om op te noem en al meer mense raak bewus van die einde van hierdie wêreld wat nader spoed. Tientalle video clips op whatsapp het die afgelope dae die rondte gedoen waarin die koms van Jesus voorspel of beklemtoon word. Ek het vanmiddag weer een gekry. Die Skrif is verseker aan die muur dat die Here Jesus se koms baie, baie naby is! Ek is al meer bewus van daardie dag wat Jesus sal kom soos ‘n dief in die nag om Sý kinders te kom haal op die wolke. (Matt 24:42-44)  Is jy regtig gereed vir Jesus se koms, my vriend en vriendin wat nou hier lees? Dit voel die laaste tyd selfs vir my dat ek my krag en tyd mors om nog enige aardse projek aan te pak, maar gelukkig is daar ‘n spreekwoord wat sê; “As ons weet Jesus kom môre om ons te kom haal, dan moet ons nog vandag ‘n boompie plant.” Ek ervaar skielik ‘n geestelike honger en groter openheid vir die evangelie van Jesus onder die mense waar ek bedien in Namibië. Hierdie week wat verby is, was ek juis weer daar op my uitreik en wat ‘n geseënde tyd was dit nie gewees nie! Van die begin tot die einde is werklik net een groot getuienis van hoe die Here my pad gelyk gemaak en my geseën het.

 

Aanvanklik was dit my plan en gedagte om weer in die Auob distrik (tussen Koës en Gochas) besoek te gaan aflê en ‘n plaasbyeenkoms vir al die boere daar, van wie ek lank terug vertel het, wat aan soveel verskillende kerke behoort, maar selde of nooit daar uitkom nie, te hou. Toe ek dit probeer reël het,  was daar weer ‘n paar gesinne weg vir die betrokke naweek. Dis toe wat die Here my oortuig om die DR 612 pad te ry, wat deur die Karasberge loop. Dis ‘n roete wat ek nog nooit gery het nie, daarom het ek dit glad nie geken nie. ‘n Vriend het my onlangs gevra of ek al ooit daardie roete gery het en toe my planne nie uitwerk nie, oortuig die Here my in my hart om hierdie nuwe roete aan te pak, en wat ‘n wonderlike uitreik was dit nie gewees nie! Ons ken mos almal die uitdrukking was sê; “Die mens wik, maar God beskik.” Dit is só ‘n waar gesegde; ons het dit almal al menigmale self beleef in ons lewe. Daarom is dit baie belangrik om alles in ons lewe aan die Here oor te gee en die Heilige Gees te vertrou vir Sý leiding.

 

Die Here het my alreeds Maandagoggend toe ek deur Rietfontein se grenspos gery het, op ‘n baie wonderlike manier kom inspireer en bemoedig vir die uitreik wat voorlê. Toe ek net deur die Namibiese doane gery het, het ek gou gestop om vinnig na iets te soek wat ek ingepak het. Ek het uitgeklim en om my bakkie gestap na die passasierskant toe, toe ‘n ander bakkie langs my gestop en die boer om my bakkie gestap het om my spesiaal te kom groet. Ek weet wie hy is, maar ken hom baie swak en het nog nooit by hulle op die plaas gekuier nie. Hy wou eintlik sommer net met my gesels, want hy het gesondheidsprobleme en het gebed en geestelike ondersteuning nodig. Hy weet dat ek in Namibië bedien en het reguit vir my gevra of ek nie dalk in hulle rigting ry nie, want hy sal ‘n besoek waardeer en het my genooi om sommer by hulle oor te slaap as dit my sal pas. Ongelukkig was hulle plaas baie ver van my beplande roete af, maar ek het hom belowe dat ek so spoedig moontlik spesiaal by hulle ‘n besoek sal aflê, as die Here wil. Dit was vir my baie positief dat die mense van Namibië my al uitnooi om by hulle ‘n besoek af te lê. Ek sien twee dinge daarin raak. Eerstens, dat baie mense tog ‘n geestelike nood het en tweedens dat daar positief onder mekaar gepraat word oor my bediening in die suide van Namibië.

 

Ek het geen afsprake vooraf gemaak of enige oorslaap geleentheid gereël nie, en tog het ek in my hart geweet die Here sal self vir my onderneem. Langs die pad het ek orals besoek waar ek kon. Op een plaas het ek die boer skynbaar met ‘n paar minute gemis voordat hy veld toe is. Sy vrou het my in die kombuis agterdeur ontmoet en daar het ons seker vir so ‘n halfuur lank gestaan en gesels voordat ek toe gery het, maar glo my ek het my kans benut om haar uit te vra oor haar verhouding met Jesus en vinnig in ‘n neutedop vir haar die evangelie van Jesus se verlossende genade aangebied. Sy het glad nie daarop gereageer nie, net aandagtig na my geluister. Dis ook mense wat ek nog nooit voorheen besoek het nie. Bid saam met my dat die Here eendag vir my die geleentheid sal gee om hulle altwee by die huis te kry as ek hulle weer sou besoek en dat die Heilige Gees haar intussen sal oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel! As mense nie besef dat hulle verlore sondaars is wat die reddende genade van God nodig het nie, sal hulle nooit hulle lewe aan Jesus oorgee nie!

 

Die eerste dag het ek die namiddag laat, net voor sonsonder, by mense wat ek ken, op die plaas aangekom. My gedagte was om net ‘n paar kilo’s verder by ander mense wat ek baie beter ken, te gaan oorslaap, maar op die ou end het ons so lekker gekuier dat hulle my genooi het om sommer net daar oor te slaap. Ons het tot eenuur die oggend om die kombuistafel gesit en kuier en net oor die Here gesels. Die vrou wandel regtig met Jesus, maar nie haar man nie, alhoewel hy baie voorgee en probeer saampraat. Deur die jare het ek al geleer dat ek net die evangelie boodskap van bekering en wedergeboorte moet bly verkondig. Op ‘n dag sal hy dit verstaan en die lig van Jesus sal in sy hart deurbreek. Hy het gehoor wat ek en sy vrou gesels het. Die volgende oggend het ons alweer baie vroeg verder om die kombuistafel gekuier, saam Bybel gelees en gebid. Daarvandaan het ek gery en by sy broer, wat sy buurman is, gekuier. Hierdie oom het vir my verduidelik wie almal op die DR 612 pad boer waar ek kon gaan besoek aflê. Later die middag het ek by een van daardie boere gekuier, toe hierdie selfde oom my gebel en meegedeel het dat sy broer en skoonsus net nadat ek daar weg is, die nuus ontvang het dat daar by hulle huis naby Rustenburg ingebreek en die huis geroof is. Later kon ek darem met hulle kontak maak per whatsapp en hulle bemoedig. Hulle het dit regtig baie waardeer dat ek daar was vir hulle in hierdie moeilike tyd as ‘n geestelike vriend om hulle te kon ondersteun. Ek besef maar net agterna dat die Here dit so beplan het dat ek juis daardie aand by hulle moes gaan oorslaap het. Die man kommunikeer skielik al meer met my per whatsapp en noem my nou ook sy goeie vriend. Ek loof die Here vir sulke geleenthede om mense se harte te kan wen vir Jesus!

 

Op hierdie pad het ek by mense aan huis gekom waar die man my buite by die bakkie ontmoet het en aanvanklik baie skepties was om my in te nooi. Later het hy my tog darem ingenooi, maar sy vrou het net langsaan in die kombuis gewoel en werskaf, maar nie haar gesig kom wys nie. Sy het later vermoedelik verdwyn kamer toe. Intussen het ek en hierdie man seker al amper twee ure gesit en kuier, toe ek die regte geleentheid gekry het om die evangelie van hoop en verlossing in Jesus Christus met hom te kon deel. Hy het geluister en selfs deelgeneem aan die gesprek, maar nadat ek die evangelie met hom ‘n end ver gedeel het, het sy vrou weer haar opwagting in die kombuis gemaak en die keer breekware hard rongeskuif of ingepak in die kombuiskaste, sodat dit tasbaar ons gesprek beinvloed het. Nogtans het ek my gesprek klaargemaak.  Hierdie man het teenoor my getuig dat hy as ‘n jong seun van standerd nege sy hart vir die Here gegee het, maar intussen heeltemal van die Here af weggedwaal het. Hy spreek toe sy begeerte uit om weer na die Here toe terug te keer en Hom weer opnuut met oorgawe te dien.

 

Net toe storm sy vrou in die sitkamer in en toe haar man my aan haar wil voorstel, val sy my geweldig vyandig aan, deur te sê; “Ek soek nie iemand van ‘n ander kerk hier in my huis nie!  Jy is nie welkom nie! Jy weet hoe ek hieroor voel my man!  Ek is jammer maar ek soek hom nie hier nie!” Natuurlik was haar man verslae en baie verleë en het haar probeer kalmeer, maar sy wou niks hoor nie en het weer uit die sitkamer gestorm. Ek was nogal uit die veld geslaan met hierdie reaksie, want ek het glad nie oor ‘n kerk gepraat nie, net oor Jesus! Ek het wel een ding besef, en dit is dat sy alles moes gestaan en luister het wat ek met haar man gedeel het en onder die invloed van die duiwel so opgetree het. Daarom weet ek dat dit nie ‘n aanval van hierdie vrou was nie, maar van die sielevyand wat nie wil hê dat mense die Here Jesus as hul Verlosser moet leer ken nie. Voordat ek gery het, het hierdie man, wat heelwat jonger as ek is, aanmekaar vir my verskoning gevra vir sy vrou se slegte gedrag en my genooi om asseblief weer by hulle besoek te kom aflê. Ek het daar weggery en regtig baie vir hierdie vroutjie gebid, dat sy sal besef die duiwel hou haar vas en verblind haar geestelik sodat sy nie by Jesus moet uitkom nie, want hy wil haar graag eendag saam met hom hel toe sleep. 2 Kor 4:3 en 4 sê so duidelik: “Maar as ons evangelie nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie.” In vers 5(a) sê Paulus; “Want ons verkondig nie onsself nie, maar Christus Jesus as Here, en onsself as julle diensknegte om Jesus wil.”

 

Daardie namiddag het ek weer net voor sononder by vreemde mense op ‘n plaas aangekom. Hulle het my beide baie vriendelik ontvang en na ‘n tydjie se gesels het ek maar vrymoedigheid geneem om te vra of ek daar langs hul buitegeboue in my bakkie kon oorslaap. Hulle het geen probleem daarmee gehad nie. Ek het die pragtigste badkamergeriewe in die buitegeboue gehad. Die aand het ons net lekker saam gekuier. Die volgende oggend het ons van vroeg af op die stoep saam gekuier. Dit was ook die man se vyftigste verjaarsdag, daarom was dit veral baie spesiaal toe hulle later openlik teenoor my erken dat hulle glad nie sekerheid van saligheid het nie. Hulle het glad nie geweet waar hulle eendag die ewigheid sal deurbring nie. Nadat ek die evangelie met hulle gedeel het, het hulle altwee hulle harte vir Jesus gegee! Loof Hom daarvoor! Die ergste van alles was seker toe hulle vir my sê dat hulle aan geen kerk behoort nie, en nie lank gelede deur iemand na spesiale dienste op Aroab genooi was. Toe hulle na die diens met die prediker gaan praat oor hulle stryd met geloofsekerheid, het hy vir hulle gesê hulle moet net gedoop word dan sal hulle reg wees. En so is hulle toe gedoop en steeds ongered terug huis toe, terwyl hulle eintlik soekend was na Jesus. Daarom sê ek altyd:  niks behalwe Jesus kan iemand red nie; beslis nie ‘n kerk nie, want so baie mense dink hul pad gaan deur die kerk hemel toe, en ook nie die doop nie! Net Jesus kan red! Dis dan wat Jesus self sê in Joh 10:9 “Ek is die deur, as iemand deur my ingaan sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.”

 

So het ek nog ‘n hele paar plase besoek op hierdie pad en later verder gery op die Karasburgpad en nog ‘n paar plase daar ook besoek. Elke aand het ek ‘n slaapplekkie en kos gekry. Só het die Here wonderbaarlik vir my gesorg. Elke besoek het ‘n wonderlike storie van sy eie. By een gesin het ek my getuienis van redding en roeping met die gesin gedeel. Hulle was so geraak deur my getuienis, dat hulle net met alle mag en mening wil hê dat ek in Karasburg in die NG kerk vir hulle moet kom bedien met die Woord, omdat hulle herderloos is. In Namibië is daar sewe gemeentes in die suide en slegs drie leraars! Die arbeidsveld is baie groot en die oeslande is ryp!

 

Een namiddag het ek by ‘n oom en tannie aangekom wat eers op vyf-en-sestigjarige ouderdom uit die RSA getrek en gaan boer het. Die oom is in Namibië gebore. Dit was weer net voor sononder. Die tannie was alleen, want die oom was Karasburg toe vir besigheid. Terwyl ons vir die oom gewag het, want die tannie wou nie hê ek moes ry nie, het ek en die tannie geestelik begin gesels. Dit was die wonderlikste geestlike kuier wat ek nog ooit in Namibië met iemand gehad het. Tannie Bets het baie gou teenoor my getuig dat sy ‘n wedergebore, toegewyde kind van die Here is. Sy getuig hoe haar een seun ‘n baie roekelose lewe gelei het en toe tot bekering gekom het. Hy het die hele familie, die oom en tannie, asook sy ander drie broers en skoonsusters die weg van saligheid mooi geleer en op die manier het die tannie ook tot bekering gekom. Sy is sielsongelukkig in die kerk, want sy sê die waarheid word nie in die tradisionele kerke verkondig nie, maar die Woord word eerder verdraai. Later het die oom daar opgedaag, maar hy het ook net saamgepraat soos die ander boer van wie ek vertel het. Tannie Bets het vir ons die lekkerste boerekos gekook. Ek was so dankbaar, want ek het op daardie stadium nog net eiers en wors geëet orals waar ek gekom het. Ons het tot middernag om die kombuistafel gekuier, want hierdie tannie was uitgehonger vir geestelik gesels. Net na ete wou tannie Bets by my weet of ek ook in die wegraping glo, en toe ek ja sê, gaan haal sy al haar boeke wat sy oor die eindtye bestudeer. Dit was vir my een groot fees om by hierdie twee oumensies te kon kuier. Die oom is ‘n militaris. Hy was ‘n hoë offisier in die weermag, met ‘n versameling van amper honderd gewere en handwapens. Twee hoogs intelligente mense, en baie aangenaam en gasvry.

 

Een gesin by wie ek baie graag wou uitkom, mense wie se dogter en skoonseun onder my bedienig ‘n ware ontmoeting met Jesus gehad het, het ek ongelukkig gemis. Hulle was op pad toe ek na hulle toe wou ry, maar hulle het my hartlik uitgenooi vir ‘n ander keer as ek weer in daardie omgewing beweeg.

 

Die laaste gesin wat ek besoek het, was ‘n ouderling van Karasburg gemeente en sy vrou. Baie gasvry en vriendelik. Dit was nog ‘n afspraak wat van die Here was. Voordat ek daar weg is, het hulle ook baie diep dinge met my gedeel wat hulle pla rondom die kerk en my gevra om asseblief met hulle kontak te hou. Die man is een van twee ouderlinge in die gemeente wat een tot twee maal ‘n maand in Karasburg gemeente moet preek. Hulle woorde aan my was dat my besoek vir hulle baie inspirerend en sielsverkwikkend was. Ek sal regtig graag met hulle kontak wil hou. Dis ‘n baie invloedryke man in daardie gemeenskap en mense wat vir my vorentoe in kontak met ander mense van daardie omgewing kan bring. Só maak die Here vir my al meer nuwe deure oop. Ek bly steeds baie opgewonde oor my bediening in die suide van Namibië, onder hoofsaaklik die boeregemeenskap van Namibië.

 

Alles was lekker en aangenaam, die paaie wat ek gery het was sprokies mooi en pas geskraap, net baie droog, maar die winde het vir twee nagte en twee dae aaneen gewaai. Een van die nagte het ek in my bakkie se kap geslaap, maar die wind het daai bakkie so geruk en pluk dat ek nie daardie nag behoorlik kon slaap nie. Dit was verskriklik en natuurlik was dit stofstorms, so die stof het my amper gek gemaak.

 

Vriende, soos u kan sien, seën die Here regtig my bediening in Namibië, en die Here verbreed elke keer die grense van my arbeidsveld. Ek bereik baie mense en ek bedien almal met die evangelie van Jesus. Natuurlik spaar ek niemand nie. Ek praat baie reguit met mense en my grootste begeerte is dat mense presies sal weet of hulle in die regte verhouding met God die Vader staan of nie, as ek daar wegry!

 

Bid asseblief baie vir my pad vorentoe. Ek wil baie graag met my bediening in Namibië voortgaan as die Here so voorsien dat ek nog volgende jaar genoeg borge en finansiële ondersteuning kry om te kan aangaan. Bid saam met my vir elke siel wat onder my bediening ‘n ware ontmoeting met Jesus gehad het, dat hulle staande sal bly en sal groei in die geloof. Die aanslae is mos maar baie en hulle staan tot ‘n groot mate alleen. Ek kan hulle net deur middel van eposse of whatsapps bedien met raad en Skrifverklarings.

 

Soos gewoonlik deel ek baie Bybels, DVD’s en traktaatjies uit op my uitreike. Ek wil graag vir elkeen bedank wat aan my Bybels verskaf sodat ek dit gratis kan uitdeel. Ek het nou weer aan ‘n hele gesin die Ou Vertaling uitgedeel, omdat hulle dit regtig graag wou hê. Meeste mense het net die Nuwe Vertaling.

 

Ja, verseker wil ek ook ‘n slag van my laat hoor.  Dit is die einde van ons derde kwartaal en dit was weereens ‘n chaotiese paar maande.  My vorige skoolhoof het uit die onderwys bedank.  Niemand weet hoekom nie, want hy is jonger as ek, maar met net ‘n naweek wat gestaan het tussen sy aankondiging en sy laaste dag by die skool, kan u self dink hoe deurmekaar dinge was. Skielik was daar niemand om sy Wiskunde oor te neem nie, die afskeid moes gereël word, en iemand moes in sy plek oorneem!  Onnodig om te sê, hierdie kollegas van my laat hulle nie van stryk bring nie.  Hulle het vir hom binne twee dae ‘n afskeid saam met die skoliere gereël, ons personeel het gaan uiteet naby die Kgaligadi Park…maar die man het steeds nie ‘n afskeidsgeskenk nie. 

 

Asof dit nie genoeg is nie, besluit die waarnemende skoolhoof die skool se geldkas is in die rooi en hy gaan dit in die groen laat loop. Hy plaas druk toe en binne 9 dae (naweek ingesluit), hou ons ‘n volwaardige skoolkonsert. My senuwees was op, maar die ander onnies het met “Jy stres te maklik, Juffrou!”, hul gang gegaan. Die konsert is in die koshuis se eetsaal gehou. Die verhoog was ‘n klomp tafels, waaroor SAP selmatte gegooi is, sodat jy nie tussen die tafels infoeter nie. Die atletiek rostrum was die trappe. As jy te vinnig teen die trappe opwikkel, het jy jou teen die deurkoesyn vasgeloop. Die gordyne was drie verskillende onderwyseresse se kamergordyne wat aan ‘n gespande draad oop en toe gehardloop is deur ‘n span groter dogters. Die klank was ‘n enkele handmikrofoon in die hand van ‘n seremoniemonster wat amper meer as die hele gehoor saam, geraas het. Die kinders het op die vloer voor die verhoog gesit en as die opwinding van die oomblik te groot was, het hulle sommer onder die verhoog ingekruip en tussen die rostrum-trappe uitgepeul en jou gepootjie. Dit was voorwaar ‘n aand van groot opgewondenheid. 

 

Sommige volwasse toeskouers het soms so entoesiasties geword, dat hulle opgespring het met ‘n bokspring en ‘n gebalde vuis en ‘n “Yes!”gil!  Skelm toeskouers het deur al die vensters gehang en kommentaar gelewer. Ek het verskeie drank-asem uitsprake van “Ons is so lief vir Juffrou” deurstaan en aan die einde besef:  Niemand het gedink dit was ‘n floppie konsert nie, al kon hulle nie ‘n enkele woord hoor van wat die kinders gesê of gesing het nie. ‘n Derde van die gehoor moes die hele drie uur lank staan (sommige items het ‘n halfuur geneem om deur ‘n 5-minuut toneeltjie te kom), want die stoele was hopeloos te min. Die verkope was binne ‘n halfuur uitgeput, want die verwagtings was min, maar vir gehoor was dit net trotse ouerskap en ‘n ster van ‘n skool!  Liewe leser:  waardeer wat jy het.  Jou bietjie, is hierdie mense se baie. Dit waarvoor jy jou dikwels skaam, word hier mee gespog. Jou kleinste verwagting, is dikwels hierdie mense se grootste droom wat bewaarheid word.  Ek vertrou dat julle die foto’s van onse konsert sal geniet! Dis heel laaste aangeheg.

 

Ek groet u in Jesus se Naam.

Awie en Marian van Wyk

KALAHARI BEDIENING

Ds Awie en Marian van Wyk

Epos: awievanwykkalahari@gmail.com

Posted in sending.