Liewe vriende,
Ons groet julle uit n lekker warm Mosambiek met n opgewondenheid in ons harte oor waar die Here werk en hoe hy werk !!
Ons vertrek Maandag tot Sondag na n Moslem gebied vir n uitreik saam met die kerk. Dit is 5 ure se ry en grondpad. Die kerk wil graag n gemeente daar begin. Charl is besig om n dissipel op te lei wat daar sal bly en werk.
Vriende, die groot opdrag is op alle Christene van toepassing. Lees asb. Mattheus 9 vers 35 tot 38. Jesus se daar “BID dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur. Almal kan nie gaan nie maar hieruit is dit duidelik dat almal geroep is om te bid. Die oes en die gebed is direk met mekaar verbind in hierdie verse. Die grootste enkele ontbrekende element in die bereiking van die onbereiktes met die Evangelie van Jesus Christus is sonder twyfel n gebrek aan volhardende, passievolle, intensiewe en gefokusde voorbidding wat alleen deur tyd met Jesus te spandeer moontlik is. God het gesag oor die nasies en daarom moet die kinders van die Here tot God roep om hulle redding Jes. 52:10
Bid asb. vir die verbreking van demoniese vestings wat mense in die duisternis hou. Die Seun van God het juis gekom om die werk van die satan te verbreek 1 Joh. 3:8b
Bid vir n openbaring van Jesus Christus as die Seun van God en die Verlosser van die wereld onder die Moslems en onder die nasies. Daar is talle getuienisse wat vertel hoe God homself op bonatuurlike wyse aan veral die Moslems openbaar.
Bid dat ons die Evangelie effektief sal oordra en vir wysheid en insig en vir die salwing van die Heilige Gees om die werk te kan doen en bid ook vir ons beskerming asb.
Bid met lofprysing vir ongereddes en weet dat God mense red en heelmaak.
Bid vir die voorbereiding deur die Heilige Gees vir die harte wat die Evangelie sal verstaan en aanneem.
Ons dank die Here vir getroue gebedsvriende. Ons het vir julle voorbidding gevra in verband met die OM (Operasie Mobilisasie basis) in Mocuba. Ons het positiewe terugvoer van baie van julle ontvang dat ons moet gaan. Ons ervaar dat die Here die paaie vir ons gelyk maak daarnatoe. Dit sal moontlik wees vir ons om een maal elke week terug te kom Ile toe en leiding te gee met die dissipelskap waarmee Charl besig is en ook met ons skooltjie onder die boom en ons mense saam met wie ons gewerk het te kom besoek.
Net n kort getuienis. Ongeveer 3 jaar gelede het hier n man by die huis aangekom en hy wou meer van Jesus weet, sy naam Delcio. Hy het baie swaar geloop. Delcio was n katoliek en n onderwyser hier op Ile maar na n motorfiets ongeluk en drie maande in die hospitaal was hy sonder werk. Charl het hom begin leer wie Jesus is en ons tolk het hom na Jesus gelei. Hy het gegroei in die jare en hy het n groepie van 10 van sy vriende bymekaar gemaak en Charl is besig om hulle te dissipel. Hy is so opgewonde oor Jesus dat dit aansteeklik is. Hy was n paar maal saam met ons na die skooltjie onder die boom en neem spontaan en vol selfvertroue die leiding. Vanmiddag was hy hier, en uit sy eie kom se hy as ons volgende week op die uitreik is, sal hy gaan help by die skooltjie. Onder die 10 dissipels wat Charl oplei, (hulle was Donderdag n hele 12 gewees) is daar twee, Delcio en Nada wat n Jehova Getuie was, wat sterk leiereienskappe het. Hulle is bekwaam om die lesse aan te bied as ons nie hier is nie en ons sien hoedat die Here die mense oprig om aan te gaan met die werk wat hier begin is. Ons het ook met die leier van OM gesels en hy is opgewonde. Ons sal DV eers einde September na Mocuba toe gaan en vra steeds vir julle voorbidding in verband met hierdie saak. Ons lees in Openbaring 3:8 se die Here…Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloen nie. Dit is vir ons baie bemoedigend.
Bid vir ons laat ons die goedheid van die Here ons God sal belewe en dat die werk van ons hande in stand gehou sal word..Psalm 90:17
Bid vir geestelike en blywende vrug op die werk wat reeds gedoen is.
Bid dat die Heilige Gees kragtig sal werk, vir geestelike openbaring, wysheid en insig om te weet wat om te doen en hoe om die werk te doen waarheen Hy ons stuur.
Bid vir nuwe werkers en vrywilligers wat toegerus sal wees en die vaardighede sal he om die werk te kan doen.
Dank die Here, die Bron van ons lewe en inspirasie dat ons gesond is, dat Hy die Algenoegsame God is en die Een is wat voorsien, die God wat wonders doen, die Oorvloedige God, die Ewig teenwoordige Een, die Redder van die wereld, die muur van vuur rondom ons.
Ons bid vir julle dat die Here vir julle sal seen en beskerm en julle gebede verhoor en aan julle vrede gee. Ons dank die Here vir julle elkeen wat deelgenote in Sy Koninkryk is en ons in staat stel om hier te kan wees en te werk.
Al die eer aan God ons Redder
Groete
Charl en Annetjie
Charl sel Mosambiek +258871522959
Whatsapp nr 0822165164