Awie en Marian – Maart 2016 nuusbrief (Kalahari-bediening)

4 Maart 2016

Hallo Derik en Kerkraad van Tygerberg.

Hoop regtig dit gaan goed met julle almal. Met my en Marian gaan dit ook baie goed en ek is baie opgewonde om DV eerskomende Sondag weer te vertrek op my uitreik Namibië toe. Maar hierdie keer sal soveel anders wees as al die vorige kere, want nou is ek gerat om tot ‘n groot mate onafhanklik van mense te wees. My kappie is klaar, daar is nou wel nog baie afrondingswerkies, maar ek kan hom al gebruik vir my uitreike. Ek sal hopenlik darem nou en dan by mense op ‘n plaas kan oorslaap en dan net die battery laai en ander noodsaaklike dinge kan doen, soos ‘n normale bad geniet, ensovoort, ensovoorts. Ek wil net sê, niemand weet hoe ‘n groot en harde werk dit was om hierdie projek sonder enige vorige ervaring en stoksielalleen aan te pak en klaar te maak nie. Aan die einde van die dag is ek net ontsettend dankbaar teenoor die Here dat Hy my met wysheid en krag gevul het. Hierdie kappie se bou was nie met die idee om lekker vakansie daarin te hou nie, maar hoofsaaklik om my te help met my uitreike in elke seisoen en weersomstandighede. Dis iets wat die Here in my wakker gemaak het en ek het die wonderlikste getuienisse van hoe die Here daarvoor voorsien het, my idees en planne gegee het, my met krag en geduld toegerus het en baie ander klein dingetjies net 100% reg laat uitwerk het, wat geen mens self so kon laat gebeur nie. Dit was absoluut wonderlik. Drie maande se harde werk en groot genade van Bo!

Ek weet dat baie mense nie wil hê ‘n mens moet hul bedank as hulle jou finansieël ondersteun vir die werk van die Here nie, maar glo my, dis uit my hart met groot dankbaarheid teenoor die Here wat ek net wil dankie sê dat Hy iemand soos jy en die Kerkraad van Tygerberg gebruik om my te ondersteun vir Sý werk. Dis eintlik die wonderlikste ervaring om die Here te vertrou vir elke behoefte en elke uitgawe, want die Here wek soms mense op met wie ek nie eers kontak het nie of skaars ken. My hart is regtig gevul met dankbaarheid, en ek kan maar net bid dat die Here julle as gemeente in hemelse munt daarvoor sal beloon.

Bid asseblief saam met my vir my volgende uitreik dat die Here kosbare deure en harte vir my sal oopmaak.

Groete in Sý Naam

Liefde en mooi bly

Awie

 

Posted in sending.