Awie & Marian – Kalahari bediening – Nuusbrief Aug 2016

21/08/2016

Hallo vriende.

Dis alweer tyd om my nuusbrief voor te berei en uit te stuur. Ek was ‘n week gelede, van Sondag die 14de Augustus, tot en met die begin van hierdie naweek op uitreik in Namibië. Vir die eerste keer in amper vier jaar kon ek uiteindelik daarin slaag om slegs met een afspraak wat ek vooraf vasgemaak het, te ry en op die Heilige Gees te vertrou om my pad gelyk te maak. Ek weet dit klink miskien vir baie van u eenvoudig, want u sal dalk dink dis mos hoe dit eintlik moet wees, maar in die praktyk is dit nie só eenvoudig nie, want daar is nie altyd ‘n veilige slaapplek langs die pad waar ek met gemak kan aftrek en oornag nie, veral as ek nie die omgewing so goed ken nie en verder móét ek nog aanpassings maak sodat die bakkie se altinator of ‘n sonpaneel gedurig die ekstra battery wat ek vir my yskas en ligte gebruik, kan herlaai. Ongelukkig het ek nog nie by die regte persoon uitgekom om my hiermee te kon help nie. Dis nog iets wat op my prioriteitslys is en waaraan ek nou vinnig aandag sal moet skenk, veral met die somer wat so vinnig aangebreek het. Dit raak nou weer lekker om in die bakkie se kappie te slaap.

Ai, ek het regtig met só ‘n lekker hart vol vreugde en dankbaarheid teenoor die Here teruggekom van my uitreik af. Marian sê altyd sy weet sommer wanneer my uitreik baie geseënd was, as ek met ‘n groot kalmte by die huis aankom.

Ek het die Sondag op Aroab gekuier en sommer daar oorgeslaap. By die gesin waar ek oorgeslaap het, het ons drie van seker agtuur die aand tot eenuur Maandagoggend om die tafel gesit en kuier. Ek het baie lanklaas by hierdie gesin gekuier. Gewoonlik groet ek hulle net as ek op die dorp kom, want hulle het ‘n besigheid op die dorp en dan ry ek verder.  Met my vorige uitreik het die man vir my gevra om weer ‘n slag by hulle te kom kuier, want hy worstel met baie vrae in sy gemoed. Op die ou end het ons die wonderlikste geestelike aand rondom die kombuistafel gehad. Die vroutjie het vir die eerste keer in al die jare teenoor my getuig dat sy as jongmeisie haar hart vir die Here gegee het, maar haar man het nog nie só ‘n getuienis nie. Dit was vir my só wonderlik toe sy openlik voor hom getuig dat die Here vir haar ‘n paar maande gelede gewys het om op te hou om gedurig vir haar man en ander mense met wie sy te doen kry, te wil preek, maar liewer Jesus vir hulle te lewe en hoe baie mense daarna vir haar kom vra het waarom sy so verander het; in ‘n positiewe sin natuurlik. Dit maak dat sy meer geleenthede kry as ooit te vore om teenoor mense van Jesus te getuig. Ek moet erken, ek het ook die laaste tyd opgemerk dat sy Jesus uitstraal sonder dat ek geweet het wat haar verhouding regtig met Jesus was. Nóú weet ek!!

Maandagoggend het ek al net na ses die oggend gereed gestaan om te ry. Ek wou baie graag half sewe ry om die jong boertjie van wie ek in my vorige nuusbrief geskryf het, by sy huis te betrap voordat hy reeds in die veld sou wees, maar toe staan ek voor ‘n geslote hek en die mense van die huis het nog nie te voorskyn gekom nie. Ek het agterna omtrent lekker gelag, omdat ek al van half sewe af met elke sleutel wat ek in daardie huis kon vind, hek toe gestap en elke keer tevergeefs probeer het om dit oop te sluit. Ek het nog nooit in ‘n huis gekuier waar daar soveel sleutels aan die sleutelhouer hang nie, maar nie een van daardie sleutels wou op daai slot werk nie. Twintig oor sewe het die man eers te voorskyn gekom en vinnig die hek gaan oopmaak, want die slot het nie ‘n sleutel nie, maar die geheim was toe al die tyd twee skakels van die ketting wat net bymekaar inhaak. Ai, as ek maar net die ketting mooi bestudeer het was ek lankal weg, want ek het nogals ewe vir hulle ‘n mooi briefie op die kombuistafel gelos.

Gelukkig vang ek toe daardie jongman net toe hy na sy bakkie toe stap om veld toe te ry. Die Here se tydsberekening is altyd perfek. Ek was toe gelukkig nie te laat nie en hy het my sommer ingenooi in die huis en kon ek ook met hom ‘n diep geestelike gesprek voer. Ongelukkig het ek besef dat sy werksmense vir hom staan en wag, daarom kon ek hom ook nie te lank ophou nie. Die Here het wel sy hart voorberei en aan die einde van ons gesprek het ek vir hom gebid en daarna het hy sy dank en waardering uitgespreek dat ek spesiaal so ver gery het om hom te kom besoek.

Natuurlik het ek daarvandaan verder van plaas tot plaas gery en by heelparty gesinne waar ek nog nooit voorheen was nie, besoek afgelê.  By een van die ander plase waar ek aangekom het, was die man ook net oppad om na ‘n ander huurplaas toe te ry en waters te gaan kyk en lek te gooi. Toe hy hoor wie ek is, was hy my aanvanklik geweldig vyandig gesind en het my mooi laat verstaan dat hy nie tyd het om met my te gesels nie, maar toe sy vrou my innooi vir ‘n koppie koffie, het die nuuskierigheid hierdie man gebrand om tog bietjie met my te gesels en my uit te vra oor my bediening. Dis mos hoe die Heilige Gees werk. Ai, ek het maar net weer stom gestaan oor die absolute onkunde van sogenaamde kerkmense! Op ‘n kol het ek verwys na die hemel en hel, toe hierdie man vir my sê, hy glo glad nie aan ‘n hel nie, want ‘n liefdevolle God sal nooit iemand hel toe stuur nie en hy glo ook dat daar ‘n klomp hemele, een vir elke geloof, soos die Hindoes, Buddhiste, Moslems, Christene ens, is. Van bekering en wedergeboorte wou hy ook niks hoor nie en het dit as absurd afgemaak. Natuurlik het hy hom net tot op ‘n stadium slimgehou toe hy agterkom dat ek die Skrif aanhaal en hy nie weet hoe om die Woord van God te weerlê nie. In Luk 24:46 en 47 het Jesus na Sy opstanding met Sy verskyning aan die dissipels gesê: “…So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies,…” Ek kon gelukkig vir hom paar boodskappe op CD gee wat hy self belowe het om in sy plaasbakkie te luister. Bid asseblief vir die redding van hierdie man en vrou se siele, want hulle ken hoegenaamd nie die Here Jesus as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker nie. Sy arme vrou is net so onkundig, maar só getuig hulle dat hulle gereeld kerk toe gaan, terwyl dit vir hulle blykbaar niks oor al die jare beteken het nie. Mens voel om te huil dat mense so min kennis van God en Sy Woord het, maar net tevrede is dat hulle ‘n kerk het! Daarom sê ek dit deesdae baie graag: mense dink hul pad hemel toe loop deur die kerk in plaas van deur Jesus!

By ‘n ander gesin waar ek ook nog nooit voorheen was nie, het ek die namiddag laat op die plaas aangekom en weer die totale teenoorgestelde ervaar, waar hulle my baie gasvry ontvang het, selfs genooi het om die aand by hulle oor te slaap. Dit was ‘n fantastiese kuier gewees. Nog een van daai kuiers om die kombuistafel wat eenvoudig sonder om op tyd ag te slaan, tot in die vroeë oggendure geduur het. Half agt die oggend het ons reeds weer verder om die kombuistafel gekuier en toe afgesluit met ‘n wonderlike stiltetyd saam. Die vrou getuig spontaan dat sy ‘n kind van die Here, is maar die man “duck and dive” al die vrae en moeilike gesprekke rondom die geestelike dinge. Ook vir hulle kon ek ‘n paar boodskappe op DVD agterlaat.

Ek wil net graag vertel hoe anders die verhouding in Namibië tussen die verskillende volke is. Die aand toe ons om die tafel gesit en kuier het, het daar ‘n telefoonoproep gekom vir hulp van ‘n ou kleurlingman wat al die middag 2uur op ‘n plaaspad vasgeval het met sy tweewieltrek bakkie. Ons het gou klaar geëet en toe gery. Oppad daarheen het ons verneem dat hy reeds deur iemand anders uitgetrek is. Skaars terug by die huis, het daar weer ‘n oproep gekom dat daar ‘n fout met die bakkie was en dat dieselfde ou kleurlingman van 87 jaar, gestrand langs die pad staan. Ons het dadelik gery en hom gaan help. Gelukkig was dit nie ‘n baie groot fout nie en kon die ou oom weer die pad dorp toe met groot entoesiasme aandurf. Die ou kleurling oom se dankbaarheid teenoor Hannes was so groot dat ek maar net weereens besef het die verhoudings is so anders as wat ons gewoond is in Suid-Afrika. Hier stop mense nie eers by iemand langs die pad wat teenspoed het nie; daar gaan help hulle mekaar tot in die middel van die nag!

By ‘n ander gesin het ek weer laat die namiddag opgedaag terwyl hulle gesit het met ‘n huis vol kuiermense uit SA. Ek het sommer die nag in my bakkie geslaap, maar soos altyd my geleentheid gebruik om ook met die kuiermense ‘n goeie geestelik gesprek in te kry. Dis baie opvallend hoe mense gou ongemaklik en stil raak as hulle nie in ‘n persoonlike verhouding met Jesus staan nie. Die Here laat mos nie sonder ‘n rede toe dat my pad met sulke mense kruis nie. My gebed bly altyd dat die Heilige Gees self die oortuigingswerk sal doen. Iemand moet mos die saadjie saai, maar God gebruik baie ander om daai saadjie nat te maak, sodat God dit kan laat groei.

Só het ek nog verskeie ander plase besoek.

Op een van die plase het ek aangekom waar die oom van diep in die sewentigs al vir jare alleen op die plaas boer en die tannie op die dorp bly. Met my aankoms het die plaaswerker my by die bakkie ontmoet en gesê dat die oom baie siek in die bed lê. Hy het my tot by die oom in die kamer geneem en daar het ek vir ‘n paar ure met die oom in die kamer gekuier. Elke keer as ek wou ry, het die oom my gevra om asseblief nog ‘n bietjie te sit. Sy eensaamheid was ooglopend baie groot en ek het regtig besef dat hy my besoek verskriklik baie waardeer het.

Een van die moelikste dinge, is om altyd op die gepaste tyd vir die boer, op die plaas aan te kom. In Namibië is ‘n ongeskrewe reël wat jy as besoeker móét respekteer en dis dat jy nie tussen een- en tweeuur op ‘n middag daar aankom nie. Jy sal ‘n baie ongeskikte boer op die plaas raakloop. Ander tye van die dag is die vraag weer of jy die boer by die huis sal kry of nie. Ek was eendag só gelukkig. Toe ek elfuur die oggend by die voordeur instap, toe stap die boer by die agterdeur in. Ek het hom al by verlede jaar se biddag vir reën ontmoet, maar was nog nooit op hulle plaas nie. Soos gewoonlik vra ek maar uit oor hulle kinders en wat hulle doen. Dit was toe die ouers van Gideon Lensing wat vir lank voorry by die Bloubulle gespeel het en nou in Japan klubrugby afrig. Ek het ook nog baie ander mense besoek, maar vertel net hier en daar waar dit interessant was.

Só is die wêreld klein en my uitreike altyd vol nuwe ervaringe. As u my nuusbriefie lees, word asseblief eers net hier saam met my stil voor die Here en bid asseblief net hierdie kort gebed saam met my: “Here, dankie vir elkeen wat tydens hierdie uitreik met die evangelie van Jesus gekonfronteer is. Sal u, o Heilige Gees, asseblief elkeen agtervolg en oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Dankie Vader dat U die hoorder en verhoorder van gebed is. Amen.”

Die maatskaplike werker van Askham het Saterdagaand by ons gekuier en met ‘n voorstel na my toe te kom. Haar gedagte is om ‘n NGO of Nie Regerings Organisasie te stig wat vir my die geleentheid sal skep om op maatskaplike vlak by die plaaslike gemeenskap betrokke te raak. Bid saam met my dat die Here self die regte deure vir my sal oopmaak, asseblief. Ek wil nie vir hulle gaan preek nie, maar vertrou die Here om vir my te wys hoe en waar ek betrokke moet raak.

Mense, ek weet hierdie is ‘n lang brief, maar besef ook dat ek baie lanklaas van myself laat hoor het.  Hierdie stowwerige deel van Suid Afrika keil my behoorlik op met sinus ontsteking, maar buiten vir die toe neus, gaan dit met my wonderlik goed.  Net so ‘n interessantheid:  ‘n Graad 6 seun is vanoggend vanuit my klas deur die skoolhoof ingeroep.  Die man verdwyn gereeld uit die klasse en speel dan op die skoolterrein saam met die ander drosters sokker.  Sommer so reg onder die skoolhoof se neus.  Vanoggend, nadat hy en die hoof hulle privaat gesprek gehad het, kom vra ‘n onderwyseres my of die outjie teruggekom het klas toe.  Ek antwoord negatief, waarop sy opmerk, “O, dan het hy wind geword!” Dit beteken hy het verdwyn.  In my stilte het ek lekker gelag vir die streekstaal. Soos alle onderwysers is ek reeds besig om uit te sien na die einde van September se kort breek. Mag ons wonderlike Heer elkeen wat ons briefie lees, ryklik seën met Sy genade wat so wyd is soos die Kalahari landskap. Marian.

Ek het behoorlik vyfdae geneem om my nuusbrief klaar te tik, elke dag so bietjie, want dis nou nie iets waarmee ek baie bekwaam is nie.

Dankie dat ek weereens my nuus met u kon deel. Dankie vir elkeen wat getrou vir my en Marian bid en op enige manier ondersteun. Ons waardeer julle regtig baie.

Groete in Sy Naam

Awie en Marian

 KALAHARI BEDIENING

Ds Awie en Marian van Wyk

Epos: awievanwykkalahari@gmail.com

Sel no: 0788435317

Absa spaar: Kalahari bediening

Rek no: 9157947613

Posadres: Posbus 56

ASKHAM

8814

 

Posted in sending.