Charl en Annetjie – Nuus (Maart 2016)

Liewe  vriende

Ons besoeke begin einde toe staan. Na baie kilometers hier in SA en baie goeie geseënde tye saam met ou vriende, ondersteuners,  en nuwe kosbare vriendskappe, van die mooie Kaap tot ver in die ou Kalahari het ons gaan draai. Kuiers tot laataande. Vroegoggend wakker word met die voeltjies, tarentale en hadida en duiwe se gekoer en met n koppie boeretroos sit en kyk hoe die son opkom.  n “goeie môre! Het julle lekker geslaap ? “…….Dis lekker in Suid Afrika tussen ons eie mense, ons eie taal, om nie te praat van die lekker skaaptjoppies en bederf goedjies nie…ons gaan dit mis!

Dierbare vriende, hoe sal ons dankie sê vir julle elkeen wat ons soos eie familie in julle huise ontvang en bederf het en vir ons gebid het,  wat n voorreg ! Net die beste vir ons voorgesit het….ons bewaar al hierdie dinge in ons harte…en nogmaals baie baie dankie.Ons bid die Here wat sien (Lagai-Röi) dat Hy sy seën sal uitstort oor jou en jou huis en dat jy die Lewe wat Hy gee in oorvloed sal ervaar.

Nouja, terug in Mosambiek.   Dit gaan nie goed in Mosambiek nie. Daar is weer  gevegte tussen Frelimo en Renamo. Op die oomblik is op die pad wat ons moet ry terug na waar ons bly op Mocuba,   2 konvooie van 100km elk en byna weekliks word daar op die konvooie geskiet.

Bid asb. dat die Here vir ons die pad en tyd sal wys wat ons moet teruggaan en veilig sal wees.

Ons het ook n baie spesiale gebedsversoek hierdie keer en vertrou dat julle saam met ons sal bid. Ons weet watter krag daar in gebed is en daarom neem ons vrymoedigheid om te vra. Ons dogter Lezán moet n opersie ondergaan die 15de Maart en volgens dokters sal daar n 5cm van die dikderm uitgesny moet word. Bid asb. saam met ons dat die Here se bomenslik genesende krag sal intree en dit nie nodig sal wees om te sny aan die dikderm nie. Ons sal by haar bly totdat sy beter is voordat ons teruggaan na Mosambiek.

Bid ook asb. vir ons werk in Mosambiek. Ons is opgewonde oor wat die Here hierdie jaar daar gaan doen. Ons sal later meer spesifieke gebedsversoeke in verband hiermee stuur.

Na alles kan ons getuig tot hiertoe het die Here ons gedra!

Al die eer aan Hom!

Groete en Vrede vir julle

Charl en Annetjie

Posted in sending.