20 Maart 2016
Hallo dierbare vriende.
Ek is al ‘n week terug by die huis na my laaste uitreik, maar daar was nog net nie kans om by my nuusbrief uit te kom nie, want ons het alweer ‘n waterkrisis gehad. Ek het eintlik nou eers besef dat ons waterlyn wat van die boorgat en tenk af driekwart om ons erf loop en die huis sowel as die buitekrane bedien, niks korter as 110m lank is nie. Die lengte van die pyp is niks, maar die diepte en al die aftappe is die eintlike probleem. Ons het die pyp destyds 60mm diep onder die grond begrawe, sodat ons water in die somer koud kan wees. Boonop was daar nog 10 aftappe / krane ook, wat op die hooflyn gekoppel is. As die drukpomp dus ‘n las iewers uitdruk as gevolg van die 4 bar drukking wat dit lewer nie, dan is dit soms ‘n daelange soektog na die lekkasie, want al die aftappe moet dan oopgegrawe word om die lek te kry, as die water nie bo die grond uitborrel nie.
Só was daar al iewers ‘n lek voordat ek op uitreik gegaan het en ek moes maar net hoop en bid dat Marian steeds water in die huis het teen die tyd wat ek sou terugkom by die huis. Sjoe julle, dit was omtrent ‘n operasie. Ek moes op die ou end twee ekstra stopkrane(eerste foto) op die lyn insit om net hierdie afstand van 110m in drie te verdeel, anders moet ek elke keer al die aftappe oopgrawe as daar ‘n lek is. Nou wil ek graag net ‘n kort getuienis gee. Ek en Marian pak niks aan sonder dat ons eers saam daaroor bid en die Here se leiding vra nie. Niks, sê ek vir julle! Ek soek nie eers na ‘n waterlek sonder om die Here se hulp te vra nie. God is mos alwetend en Hý weet mos waar daardie lek is. Só bid ons al voordat ek Namibië toe is dat die Here vir ons sal wys waar om te soek, maar ek is hier weg sonder om die fout te kry. Eintlik ek het ook nie veel tyd vir soek gehad nie. Een nag lê ek wakker en praat met die Here hieroor en die gedagte skiet so by my op om stopkrane op die lyn te sit om my soektog te vergemaklik. Ek kon net een opsit voordat ek toe vertrek. Laas week toe ek terugkom by die huis, het ek die tweede stopkraan opgesit. Toe ek hom toedraai, borrel die water bo die grond langs ‘n kraan uit en daar het ek my fout gekry sonder om een las / kraan oop te grawe. Ons aanbid darem ‘n Groot en Wonderbare God, en Hy lewe, al betwyfel baie mense Sý bestaan! Ek beleef God elke dag as ‘n Lewende en Waaragtige God in my lewe.
Net só het my bakkie ook ‘n lek op sy radiator gehad. Ek en Marian het nog die dag voordat ek op uitreik vertrek het ‘n ernstige spanpoging gehad om te soek vir die fout. Op die ou end het ek net ‘n klampie van een pypie geskuif, omdat dit vir my gelyk het of dit is waar die fout gelê het. Ek was skaars in Namibië toe ek besef iewers lek daar water en die plastiek tenkie bo-op die radiator raak vinnig leeg. Gelukkig stuur die Here my na ‘n baie praktiese boer toe. Ek het net gesit, toe vra ek hom om eers vir my te help soek na die fout van die waterlek. Gelukkig was die drukking in die pype hoog, omdat die enjin nog warm was en daar sien ons ‘n klein gaatjie in die pypie waar die water uitspuit. Ai, dankie tog vir ‘n slim boer, wat altyd ‘n plan kan maak. Dit was regtig tjoef, tjaf en daar is die gaatjie ook toe, sodat ek veilig en gerus verder kon ry.(tweede foto) Dit was weereens die goeie hand van God wat oor my en my voertuig was. Hý weet ek kan nie bekostig om my bakkie sonder water te ry nie, want dis al wat ek het om Sý werk mee te doen. Ek dink ook nie iemand anders sou my só mooi kon help soos hierdie boer nie en daar leer hy my nog iets baie kosbaar, en dis om met ‘n spesifieke draadtang, wat ek jare gelede gekoop het, maar nooit kon gebruik nie, omdat ek nie geweet het hoe om daarmee te werk nie, te gebruik om draad vaster te draai as wat enige gewone draadtang kan droom om dit te doen. Natuurlik het ek dadelik my tang kom uithaal en begin gebruik. Geen las lek meer nadat ek die draad om ‘n pyp met hom vasgetrek het nie. Wow, God is groot!
Oppad na my eerste afspraak, ver anderkant Aroab, op ‘n plaas diep in die Kalahari, ry ek ewe opgewonde en trots vir die eerste keer met die kappie op my bakkie oppad met my uitreik en daar reën dit so dat my kappie lek. Die water loop op ‘n plek in waar ek gewonder het of dit nie daar sou lek nie. Gelukkig ken ek orals vriende en kon ek weer oppad daarheen eers by iemand aanry en aanklop vir hulp. Gelukkig kon ek onder sy afdak intrek, sodat ons die dak kon droogmaak en seël. Weereens die hand v.d Here! Niks sou werk solank die kappie nog nat was nie.
Dit was seker een van my moeilikste ritte ooit in my hele lewe. Meeste van die grondpaaie in die suide van Namibië is gedeeltelik gruis en gedeeltelik klei. Die laaste 30 / 40km was die pad net met klei gebou, omdat daar nie gruis naby genoeg in die omgewing was toe hulle die pad gebou het nie. Plek-plek het my bakkie dwars oor die pad gegly en as ek die stuurwiel te veel gedraai het, het hy weer na die anderkant toe dwars oor die pad gegly. Só 10km voor die plaas waar ek my eerste afspraak gehad het, het ek op ‘n vragmotor afgekom wat op sy as in die klei / modder vasgeval het. Sy wiele was so toegepak van die modder dat mens skaars die buitebande kon sien. Gelukkig het ek so gly-gly gery tot op die plaas. Amper drie ure gery aan 110km. Ek het amper ses ure van die huis af gery tot op daardie plaas, ongeveer 230km ver. Natuurlik het ons die kappie se lek ook nog geseël.(derde en vierde foto)
Nou het ek nog nie veel van die uitreik vertel nie. Dit was weereens ‘n baie geseënde uitreik, al het dit aanvanklik op ‘n baie negatiewe noot begin. Dit leer mens maar net om geestelike oorlogvoering toe te pas en die ou satan wat jou skade wil berokken en jou vrede wil steel in die Naam van die Here Jesus te weerstaan. Dit werk altyd! Hy weet mos ek is oppad om met mense oor hul siele te praat en hy haat dit met ‘n passie! Hoor wat leer Jakobus ons in Jak 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
Natuurlik was my eerste afspraak by die vrou en haar man wat met my vorige uitreik haar hart vir die Here gegee het. Sy het spontaan getuig dat sy seker is oor haar redding, maar ons het ongelukkig nie veel kans gekry om alleen te gesels nie. Aanvanklik het ek al vroeg in die week via selfoon probeer om ‘n huisbyeenkoms die Sondagaand by hulle op die plaas te reël, in die hoop dat hulle hul bure sou uitnooi daarheen, maar ongelukkig sukkel hulle baie met selfoon ontvangs en het eers die boodskap Sondagnamiddag gekry. Seker ook maar goed só, want die reën en modderpaaie het my rit daarheen geweldig vertraag. Die jongmanne wat bees moes laai op die vragmotor wat vasgeval het, het ook daar oorgeslaap. Was maar redelik chaoties gewees. Gelukkig het ek die oggend ‘n Goddelike afspraak met haar man gehad. Hy het my vroegoggend genooi om saam met hom die plaaswaters om te ry. Hy was eers baie ontoeganklik, maar toe maak die Here vir my ‘n wonderlike deur oop. Hy het my ‘n baie reguit geestelike vraag gevra en toe kon ek hom baie reguit en eerlik met die evangelie konfronteer. Hy was verstommend oop en ontvanklik en ek weet dat ek hom met baie stof tot nadenke gelaat het.Dis ‘n man wat getuig dat hy as ‘n jongman die Here Jesus aangeneem het as sy Saligmaker, maar intussen die pad byster geraak het. Ek het eers vir hulle Bybel gelees en gebid voordat ek verder gery het. Bid baie saam met my vir hierdie twee mense se verhouding met die Here.
Daarna het ek verder gery en nog twee plase vir die dag besoek. By die een plaas het ons sedert 12 uur die oggend tot 4 uur die middag, met die Bybels op ons skote, net geestelik gesit en kuier. Dit was ‘n ongelooflik geseënde tyd. Op die derde plaas het ek die aand oorgeslaap. Ook daar het ek die geleentheid gekry om baie met hulle geestelik te kon deel. Die anderdagoggend is ek vroeg daar weg, nadat ons eers saam gelees en bid het.
My pad was geseënd soos ek verder gery het. Ek het diep die Kalahari ingery en eers by ‘n jong gesinnetjie gekuier. Daar was die Here weereens tasbaar in ons midde. Hulle het bietjie persoonlike probleme en ons kon reguit en openlik gesels. Was só wonderlik om te kon sien hoe hierdie man en sy vrou behoorlik elke woord ingedrink het en my baie bedank het vir my besoek. Jongmense sonder enige geestelike tuiste. Ek is eintlik maar hulle dominee en hulle sê dit ook self. Ek het nogal verstommend genoeg minstens sewe gesinne op hierdie uitreik besoek wat aan geen Kerk behoort nie en al geestelike besoek wat hulle ooit van iemand ontvang, is maar net van my. Dit het my opnuut laat besef, ek moet met hierdie werk voortgaan solank as ek kan, want wie sal vir hulle geestelike leiding gee as ek dit nie doen nie? Dis mos my roepingsopdrag.
Só het ek elke dag maar gery van plaas tot plaas en met almal gekuier wat ek tuis kon kry. By een boer en sy vrou het ek laat die namiddag op die plaas aangekom en gevra of ek die aand by hul jagkamp kon oornag. Natuurlik het hy ja gesê, maar stuur eers sy seun wat saam met hom boer om alles daar net vinnig te gaan regkry. Ek volg toe kort op sy spore, maar die Here het ‘n ander plan gehad en dis hoe God altyd werk. Dinge werk nie altyd uit soos ons beplan nie, maar soos Hý wil. Net voor die kamp keer die jongman en sy vrou wat reeds oppad terug was my voor en sê ek moet asseblief eerder die aand by hulle kom kuier en oorslaap, want die jagkamp is vuil, omdat die uile daar ingetrek het. Ek het eers self gaan kyk en toe teruggery na hulle toe. Wat ‘n wonderlike en geseënde aand en kuier was dit nie gewees nie. Die aand het ek heerlik saam met altwee gesinne by die jong paartjie se huis gekuier en die volgende oggend het hy vroeg begin boer en ek en sy vroutjie het die wonderlikste geestelike gesprek met mekaar gehad. Sy was só dankbaar dat ek daar by hulle gaan oorslaap het. Ons twee het natuurlik ook eers heerlik saam stiltetyd gehou voordat ek verder gery het.
Die vorige aand het die ma en pa my baie uitgevra oor iemand wat ek al ‘n paar keer besoek het, van wie daar stories die rondte doen dat hy glo ‘n atteïs is. Hulle is eng en baie getroue en lojale kerklidmate, wat alles vir die Kerk sal doen, maar nie regtig ‘n verhouding met Jesus het nie, want hulle wend geen poging aan om só iemand te gaan besoek en geestelike leiding te gee nie. Hierdie man van wie hulle sulke dinge sê, het met die Kerk gebreek, omdat hy teleurgesteld en geskok is deur dinge wat in sy Kerk gebeur het, en nou is hy sommer ‘n atteïs. Dis eintlik baie tragies. Dit onstel my telkemale as ek sien mense se pad loop deur die kerk hemel toe, in plaas van deur Jesus, wat self in Joh 14:7 gesê het:“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”
Een dag het ek vreeslik baie bloutjies geloop. Ek het by drie plase aangery en niemand tuisgekry nie. Almal van hulle was volgens die plaaswerkers in Upington vir besigheid. Dis maar een van daardie dinge wat ek ook so moet aanvaar. Dinge werk mos nie altyd volgens my planne en reëlings uit nie. Ek het opnuut besef hoe ver daardie mense ry vir hulle besigheid. Dis maklik 800km uit en tuis. Gelukkig was daar nog baie ander plekke om aan te ry. Daardie spesifieke dag het ek presies 100km gery voordat ek op ‘n plaas gekom het waar daar mense tuis was.
Gelukkig is daar darem boere wat weier dat jy sommer dadelik weer in die pad val en jou nooi om so bietjie langer te kuier. Nêrens kuier ek by mense sonder om hulle geestelik te konfronteer nie en hoe beter jy mense leer ken, hoe meer vrymoedigheid het ek en hoe meer ontvanklik is hulle ook. By my tweede laaste plaasbesoek het die boer my bakkie vir my gediens en my bakkie se handbriekkabel vir my vervang. Ek was só dankbaar daaroor, want hy is geweldig meganies en hy het alles met soveel deugsaamheid gedoen en nagegaan. Natuurlik het hy my nie net ‘n baie groot guns gedoen nie, maar ook baie geld gespaar as ek sien hoeveel tyd en moeite dit was om net die handbriekkabel te kon vervang. Saterdagnamiddag het ek gery tot by die laaste plaas waar ek voor dooiemansdeur gekom het. Daar was niemand tuis nie, maar hulle het van my geweet. Daar was darem ‘n nota dat hulle dringend Keetmanshoop toe moes jaag, maar dat hulle my die aand sal sien. Laat die namiddag het hulle opgedaag en my vertel hoe hul jonste seuntjie die oggend sy hele hakskeen oopgeval het en steke moes kry. Dis seker minstens 200km Keetmanshoop toe en terug vir so skielike noodgeval. Die volgende oggend (Sondagmôre) het ons heerlik saam gekuier rondom die Woord van die die Here en dit was regtig geseënd gewees.
Natuurlik het ek toe, na 8 dae, al baie terug verlang huis toe en besluit om liewers voor ete in die pad te val en die amper 200km terug te ry huis toe. Op Aroab wou ek nog gou by mense aangaan, maar ook hulle was skynbaar in Upington.
As ek eerlik moet sê, dan kan ek getuig dat die kappie op my bakkie maak dat ek minder gespanne is oor waar ek vanaand tuisgaan of nie. Gelukkig was dit nog nie nodig dat ek sommer iewers in die veld of langs die pad moes slaap nie, maar dalk sal dit nog baie vorentoe gebeur. Ek het wl een nag in die kappie geslaap en dit baie geniet.
Ek wil weereens vir almal van u bedank vir enige vorm van ondersteuning wat ek van u ontvang. Ek weet daar is baie van u wat getrou vir ons bid en ek ervaar regtig baie maal hoe die gebede van ander vir my en Marian dra. Ons waardeer veral elke sms’ie en elke terugvoer op my nuusbriewe. Ongelukkig antwoord ek nie altyd terug nie, want korrespondensie is nou nie my sterkste punt nie, maar ek lees dit met groot opgewondenheid en dan wens ek baie maal ons het net so ou tydjie gehad om sommer net persoonlik te kon sit en gesels. Ook dat ek meer kon hoor van u lief en leed. Nogmaals dankie vir elkeen van u se liefde en belangstelling. Dankie ook vir elkeen se mooi wense met my verjaardag. Ek is baie bly dat ons nog nie uit almal se harte en gedagtes is nie.
Ek en Marian verlang só na die Paaskonferensies dat ons besluit het ons ry spesiaal eerskomende Donderdag Kaap toe om die Paaskonferensie buite Stellenbosch te gaan bywoon. Ons bede is regtig dat hierdie Paasnaweek vir elkeen van u ook groot seën sal inhou, waar die lyding en die dood van Jesus weereens in herinnering geroep word. Wie weet, dalk is dit die laaste Paastyd wat ons sal vier voordat Jesus kom om ons te kom haal op die wolke! Sal dit nie WONDERLIK wees nie!
Groete in Christus.
Awie en Marian

















